Geskryf deur: Afrikaanse Protestantse Akademie
Artikelbron: Artikel verskaf
Die AP Akademie sal van volgende jaar af met trots die Baccalaureusgraad in sosiale Wetenskappe (BSocSc) aanbied en daarmee die toekomsweë vir nog meer studente oopmaak.
“Ons is verheug dat die registrasie van hierdie nuwe program goedgekeur is,” sê Prof. dr. Gerrit Smit, die vise-kanselier en rektor van die AP Akademie. “Dit is ontwikkel vanuit die groot behoefte aan afgeronde, funksionele individue wat ‘n noemenswaardige rol kan speel in die ontwikkeling van ons gemeenskappe in velde soos sielkunde, filosofie, sosiale wetenskappe, ekonomie, onderwys, politiek, joernalistiek, kommunikasiekunde en tale.”
Die beoogde kwalifikasie spreek behoeftes aan van die nywerhede, onderwys en ander sektore deur die voorsiening van gegradueerdes wat kan uitblink in Suid-Afrikaanse gemeenskappe, dienste verskaf gebaseer op toegepaste kennis en vaardighede in ‘n immer veranderende wêreld asook die benutting van kritieke probleem oplossings- en etiese leierskapsbevoegdhede.
“Wat die BSocSc-kwalifikasie by die AP Akademie besonders maak is dat die taal van leer en onderrig Afrikaans is en dat dit uniek en uitsonderlik vanuit ʼn bepaalde klassiek-Christelike grondslag aangebied word. Ons is die enigste hoër onderwysinstelling wat hierdie graad op so ʼn manier aanbied,” sê Prof. Smit. “Hierdie kwalifikasie sal gegradueerdes vooruitsigte bied om direk toegang tot geleenthede in die wêreld van werk te kry. Verrykte individue sal in staat wees om by te dra tot ‘n ontwikkelende ekonomie met geleenthede vir almal, deur die benutting van oordraagbare vaardighede, onafhanklike- en kreatiewe denke. Sodoende verkry die Suid-Afrikaanse gemeenskap afgeronde individue met bevoegdhede om by te dra tot die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in die algemeen.”
Jong leiers met ‘n aanleg in geesteswetenskappe, met onder andere kommunikasie- en kreatiewe skryfvaardighede, asook kritiese en strategiese denkvaardighede sal by uitnemendheid by dié kwalifikasie baat. Gegradueerdes van hierdie kwalifikasie sal in staat wees om in beroepe en velde soos sielkunde, onderwys, taalpraktyke, arbeidsverhoudinge en die ekonomie te werk, om maar net ‘n paar te noem.
Leerders wat tipies toegang tot hierdie kwalifikasie sal soek, sal ‘n Nasionale Senior Sertifikaat, of ‘n gelykwaardige kwalifikasie op vlak vier van die NKR met ’n vereiste puntetelling benodig.
Meer inligting oor die Baccalaureusgraad in Sosiale Wetenskappe sal binnekort op die webwerf verskyn, maar belangstellendes kan die AP Akademie nou reeds skakel om meer uit te vind.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 12/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








