Geskryf deur: Heleen van As
Artikelbron: Artikel verskaf

Lig in Duisternis, ’n Christelike uitgewery met ’n gereformeerde grondslag se fokus is om Bybelsgetroue en ander behoudende Afrikaanse literatuur in Suid-Afrika en aan Christene wêreldwyd beskikbaar te stel.

Die uitgewery het onlangs die Die avonture van Appelkie die muis beskikbaar gestel.

Hierdie kleurvol geïllustreerde boek neem die leser op reis deur die godvresende verhale van Genesis. Bybelgeskiedenis word met ’n fiksie-aanslag deur die oë van oom Dominee en Appelkie die muis oorvertel. Maar muise leef ongelukkig nie vir altyd nie, so die stories van God word – net soos die familienaam Appelkie – elke keer aan die nageslag oorgedra sodat dit behoue bly.

Getrou aan die Bybel skop die boek in die tuin van Eden af. Tipies aan die inhoud van Genesis, bou dit elke keer tot ‘n klimaks van sonde op totdat God weer uitkoms en vergifnis bring. In die agtergrond spreek die kombinasie van verhale voortdurend ook die fondamente van die mens se verdorwenheid ná die sondeval aan: haat, jaloesie, moord, ensovoorts.

In ooreenkoms met die karakters van die Bybel, vind daar ook by die nageslag van Appelkies “aardse vooruitgang” plaas. Van ‘n gesukkel met kos en klere ná die sondeval, tot waar Appelkie en Josef gesofistikeerd in die Farao se paleis leef! Dit laat jou dink aan die moderne mens se vooruitgang, maar herinner jou terselfdertyd daaraan hoe jou geloof maklik tot ‘n val kan kom as jy nie gehoorsaam aan God is nie.

Hoewel die onderskeie hoofstukke betreklik lank is, verleen die teksformaat en vrolike uitleg hom daartoe vir selflees vanaf graad 3-vlak. Die informele trant waarmee die feite van die Bybelverhale oorvertel word, sal egter die kleingoed se aandag tydens voorlesing geboei hou.

Oom Dominee se inleiding en slot, wat elke hoofstuk omarm, slaag daarin om die vorige dag se verhaal bondig op te som en vas te lê. Sy “10-sent” oor elke gebeurtenis kan selfs interessante besprekings in die gesin aanmoedig! Ruim gerus tyd in om hierdie Afrikaanse geestelike boek aanvullend tot die Bybel aan u kinders bekend te stel.

Bestel die boek hier by Lig en Duisternis Uitgewers of dit kan alternatiewelik ook as ’n e-boek op Amazon aangekoop en afgelaai word by die volgende skakel: amz.run/6RaB

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 13/05/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here