Geskryf deur: Louise Viljoen
Artikelbron: Artikel verskaf
Lig in Duisternis Uitgewers publiseer Die regering van Christus in sy kerk geskryf deur prof. WD (Willie) Jonker en geredigeer en uitgebrei deur dr. GJ Duursema.
Hierdie diggeweefde publikasie bestudeer die geskiedenis van die ontwikkeling van die gereformeerde kerkreg. Dit beslaan 456 bladsye en het ’n stewige hardebandomslag. Die boek is opgedeel in drie baie interessante afdelings, nl. “Deel 1: Die ontstaan en ontwikkeling van die gereformeerde stelsel van kerkregering gedurende die sestiende en sewentiende eeu”, “Deel 2: Grepe uit die ontwikkeling van die gereformeerde kerkreg in die negentiende eeu” en “Deel 3: Kerkregtelike ontwikkelings in die jongste tyd”.
Die hoofstuktitels lui so: Deel 1: “Die kerkreg van Johannes Calvyn” en “Die gereformeerde kerkordes uit die Reformasietyd”. Deel 2: “’n Periode van verval”, “Kerkregtelike verval in die Nederlandse Volkskerk” en “Die kerkreg van die Nederlandse Afgeskeie Kerkformasies” en Deel 4: “Ontwikkelings in Switserland, Skotland en Frankryk”, “Kerkregtelike ontwikkelings in Duitsland”, “Ontwikkelings in die kerkreg van die Nederlandse Hervormde Kerk” en “Kerkregtelike ontwikkelings in die Gereformeerde Kerke in Nederland”.
Hoewel predikante of studente in teologie hierdie skrywe in besonder sal waardeer, sal die gewone leser of kerkganger ook die waarde daarvan besef en baie daaruit leer. Dit is immers ’n weldeurdagte en insiggewende oorsig en ontleding oor die geskiedkundige ontwikkeling van die kerkreg met betrekking tot Reformasie en die uiteindelike plaaslike invloed. Hoewel nie ligte leesstof nie, is dit beslis leersaam en relevant. Die indrukwekkende bibliografie gee ’n blik op die geweldige navorsing wat hierin gegaan het. RM Britz, emeritus-professor: Departement Filosofie en Klassieke, UOVS, skryf op die agterblad: “Die regering van Christus in sy kerk is oorspronklik, betekenisvol, steeds aktueel, begrond en akademies betroubaar.”
Dr. Duursema het die onvoltooide manuskrip (nog in folioformaat) in die oorlede skrywer se woonstel in Strand ontdek, dit skandeer en gedruk. Lig en Duisternis Uitgewers gee die hersiene weergawe uit. “Die AP Kerk skryf nou hierdie boek voor as Kerkreg-handboek vir hulle studente. Dis ongelooflik! Dit sê iets ook van die karakter en integriteit van die wetenskap en die eerlikheid waarmee Jonker hierdie boek geskryf het,” aldus Duursema.
Die regering van Christus in sy kerk kry ’n ereplek op my boekrak. Skaf dit gerus hier aan.
Gaan loer gerus hier na die boekbekendstelling-video.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 15/05/2023
Foto verskaf: Lig en Duisternis Uitgewers
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








