Geskryf deur: Louise Viljoen
Artikelbron: Artikel verskaf
Luca Uitgewers gee die Profesie-Bybel Nuwe Testament (480 ble.) uit in ’n aantreklike bruin of maroen omslag. Dit beslaan die volledige 2020-vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Nuwe Testament. Daar is 50 uiters interessante en maklik verteerbare artikels oor profesie deur ’n teoloog en navorsingsgenoot aan die Stellenbosch Universiteit. Etlike diagramme en tabelle illustreer die teks.
Die lokteks op die agterblad lui: “Profesie moedig ’n heilige lewe aan, dit motiveer gelowiges om vir Christus te arbei en dit waarsku teen misleiding. ’n Studie van Bybelse profesieë het praktiese gevolge, dit oriënteer die leser aangaande die lewe, dood en opstanding, die toekoms anderkant die graf en waarheen God met Sy skepping op pad is. Die Profesie-Bybel wil die leser se begrip oor Bybel profesieë aanwakker, ontwikkel en uitbrei.”
As gelowiges sien ons daarna uit om God se beloftes tot vervulling te sien kom. Dit versterk ook ons geloof wanneer ons lees van profesieë wat reeds vervul is, want dit dien as bewys dat God getrou is aan sy woord en in volle beheer van sy skepping is. Dit leer ons om ons oë op Hom te hou sodat ons nie mislei word nie.
Die artikels in die Profesie-Bybel handel oor insiggewende onderwerpe soos die interpretasie van Bybelse profesieë, die Bybelse verbonde, die sewentig sewetalle, die dag van die HERE, die Kerk en profesie, Israel en profesie, tekens van die tye, die doderyk en die vuurpoel, die profetiese rede op die Olyfberg, die Antichris, die vals profeet, die slag van Armageddon, die laaste rebellie en oordeel en die Nuwe Jerusalem.
Skaf die Profesie-Bybel Nuwe Testament by jou naaste boekhandelaar aan of bestel dit hier (bruin) of hier (maroen). Ek is baie beïndruk met hierdie publikasie en beveel dit heelhartig aan vir elke gelowige wat graag meer wil leer oor God se plan vir ons toekoms. Dit sal ook die perfekte geskenk wees vir die ywerige Bybelleser.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/05/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.