Geskryf deur: Donnelly McCleland Artikelbron: www.incontextinternational.org
Op Sondag 10 September het Frankryk se president, Emmanuel Macron, geweier om sy troepe op versoek van die militêre bewind uit Niger te onttrek toe ’n staatsgreep ná 26 Julie die verhoudinge tussen die twee lande versuur het. Sy kommentaar het gevolg op die regerende junta se bewering dat Frankryk sy eise geïgnoreer het om 1 500 Franse troepe wat in Niger gestasioneer was, teen 3 September te onttrek.
Frankryk ondersteun steeds militêre ingryping deur die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (Ekowas) wat streng sanksies geïmplementeer het, maar nie sy dreigement deurgevoer het om troepe te stuur om die afgesette president Mohamed Bazoum in sy amp te herstel nie.
Die staatsgreep in Niger was die derde staatsgreep binne drie jaar waardeur ’n leier in die Sahel-streek uit sy amp onthef is. Die leiers van die staatsgreep het te kenne gegee dat hul optrede te wyte was aan toenemende onveiligheid en ’n gebrek aan ekonomiese groei. Hulle het verklaar dat die ingryping nodig was om “die geleidelike en uiteindelike ondergang” van die land te voorkom. Maar die situasie behels baie meer as blote sekuriteits- en ekonomiese oorwegings. Dit is waar dat die land toenemend onveilig word – verskeie insurgente groepe, soos Al-Kaïda en Islamitiese Staat-geaffilieerdes, asook Boko Haram, is in die land bedrywig – en dalende ekonomiese vooruitsigte het tot weerloosheid in die land bygedra. Olayinka Ajala (’n kundige politieke wetenskaplike op die gebied van internasionale veiligheid, ontleding van konflik en beheer in Afrika) het egter nog drie kwessies beklemtoon wat lig kan werp op die onlangse staatsgreep. Eerstens het voordurende debat gedurende die laaste verkiesing ontstaan oor die etnisiteit en legitimiteit van president Bazoum.
Pres. Bazoum stam uit Niger se etniese Arabiese minderheid en was altyd gebrandmerk as buitelands van afkoms. Baie klem word in daardie land op etniese militêre samestelling gelê en aanstellings in die militêre lui geskied volgens etniese afkoms. Die hoof van Niger se presidentswag, generaal Abdourahamane Tchiani, wat homself tot staatshoof verklaar het nadat die weermag die bewind oorgeneem het, is afkomstig uit die Hausa-stam, die grootste etniese groep.
Tweedens is die groot getal buitelandse militêre troepe en basisse in die land nie deur die militêre magte verwelkom nie, aangesien dit klaarblyklik hul gesag ondermyn. In 2022 het Frankryk en ander Europese bondgenote hul magte uit die aangrensende Mali onttrek. Pres. Bazoum was gou om hul na Niger te nooi, maar die militêre leierskap in Niger, asook sommige invloedryke individue in die land het die toename in buitelandse magte afgekeur.
Derdens noem Ajala dat die versuim van streeksorganisasies soos Ekowas en die Afrika-Unie om sterk standpunt teen militêre oornames in Guinee, Burkina Faso en Mali in te neem, die weermag in Niger aangevuur het. Ander bronne noem egter dat ’n ondersoek na die kanalisering van $125 miljoen, byna die helfte van die verdedigingsbegroting, aan private kontrakteurs wat met die top-offisiere in die weermag verbind word, tydens die volle duur van die vorige administrasie (volgens Africa Confidential), dalk die rede kon wees waarom die generaals op daardie spesifieke tydstip teen pres. Bazoum gedraai het.
Onderliggend aan hierdie sigbare kwessies lê ’n verweefde netwerk van geopolitiese wedywering en strategiese agendas wat verreikende gevolge vir die mense van Niger het. Die volgende verskyn in ’n artikel in The Conversation: “Die onlangse staatsgreep benadruk diepgewortelde geopolitiese wedywering in die koloniale en neo-koloniale nalatenskap vir beheer van Niger se hulpbronne, wat deur die druk van sommige Westerse nasies vererger word. Hoewel Niger met uiterste armoede worstel, wat tot wydverspreide wanvoeding en honger van die inwoners lei, is dit die wêreld se sewende grootste produsent van uraan. Hierdie teenstrydigheid van minerale rykdom en armoede van die gemeenskap benadruk die ironie van ’n nasie met volop hulpbronne, maar wat geteister word deur ernstige ekonomiese teëspoed.”
In 2021 het Niger byna 25% van sy uraanvoorraad aan die Europese Unie voorsien, wat elektrisiteit aan miljoene huishoudings gelewer het. Nietemin kom 75% van Niger se elektrisiteit uit Nigerië en is dit afgesny as gevolg van Ekowas-sanksies, insluitend dié van talle dorpe en stede, asook die presidensiële paleis. Daar is baie op die spel vir die mense van Niger, soos gesien kan word aan die chaotiese nadraai van ander staatsgrepe in die streek. Dit is egter krities belangrik om die motiewe en nagevolge van moontlike ingryping uit die buiteland te evalueer.
Geopende Deure se senior analis vir godsdiensvryheid en geloof in Afrika suid van die Sahara, Illia Djadi, het in ’n onderhoud met Christianity Today opgemerk: “Die militêre staatsgreep is ’n terugslag, maar tot dusver is geen uitsprake teen Christene gemaak nie. Ons vrees onstabiliteit en bid vir vrede. As die Here wil, sal hierdie onsekere tydperk tot ’n einde kom.” In hierdie onderhoud word die streekskonteks deur Djadi, ’n burger van Niger wat tans in Londen bly, geskets en beskryf hy die moeilike, maar beter wordende situasie van Christene in Niger, en rig hy ’n sterk appèl teen militêre ingryping. Christene maak ’n geringe minderheid uit, sowat 1% van die bevolking, teenoor die 99% Moslems. Hoewel Niger ’n sekulêre land is met ’n grondwet wat godsdiensvryheid beskerm, kom Christene dikwels te staan teen diskriminasie en ander uitdagings in die samelewing en gemeenskap. Christene in die land deel egter dieselfde armoede as alle ander. Ten spyte daarvan dat die Christengemeenskap so ’n klein minderheid is, het die junta Christen-leiers ingesluit toe hulle nasionale belanghebbendes kort na die staatsgreep ontbied het om die situasie te verduidelik en het selfs die Kerk gevra om vir die nasie te bid. Die evangeliese en Rooms-Katolieke kerke het gebed versoek – vir ’n vredevolle uitkoms van die krisis.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid vir ’n buitengewone, goddelik georkestreerde uitkoms uit die politieke/leierskapskrisis;
- dat die Here se hand van beskerming oor Niger sal bly en dat al die vyand se planne ongedaan gemaak sal word; en
- dat die Here Sy kinders sal seën en onderhou sodat hulle werktuie van verandering in hul nasie sal wees.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 15/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








