Artikelbron: The Christian Post
Die dodetal ná verlede naweek se aardbewing in Marokko het nou gestyg tot 2 400. Daarbenewens is minstens 2 000 mense beseer, waarvan die meerderheid in ’n ernstige toestand is. Talle noodlenigingsorganisasies het hulp gestuur of belowe. Internasionale Christelike organisasies soos Convoy of Hope en Operation Blessing is ook betrokke, berig The Christian Post.
Die episentrum van die aardbewing, met ’n sterkte van 6,8 op die Richter-skaal, was in die Hoë Atlasgebergte, sowat 70 km suidwes van Marrakesj. Verskeie verslae dui daarop dat verlede naweek se aardbewing die sterkste in die afgelope 120 jaar was.
Volgens Sky News is baie van die sterftes in die moeilik bereikbare gebiede suid van Marrakesj. Die nuusblad het bygevoeg dat daar gevrees word dat tot 2 000 mense in net een van hierdie stede omgekom het. Teen vroeg Maandag was die amptelike dodetal 2 497 en minstens 2 059 beseerdes, insluitend 1 404 ernstig beseer.
Die Christelike en Amerikaanse noodhulporganisasie Convoy of Hope mobiliseer om die gebiede van noodsaaklike hulpbronne te voorsien, het die organisasie in ’n persverklaring gesê.
Operation Blessing, wat ook ’n Christelike organisasie uit Amerika is, het lede van sy internasionale ramphulpspan na Marokko gestuur om tot die noodlenigingspoging by te dra. Die organisasie het gister in ’n verklaring aan The Christian Post gesê die direkteur, Diego Traverso, sal by die noodlenigingspanne aansluit om noodlenigingsvoorrade te help versprei, insluitend sonkrag-aangedrewe lampe en waterfiltreertoerusting, asook basiese benodigdhede.
Operation Blessing was ook een van ’n aantal Christelike humanitêre hulporganisasies wat gehelp het met die herstel in Turkye nadat die land in Februarie deur ’n aardbewing getref is.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 13/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit rawpixel.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.