Geskryf deur René Roux, Helpende Hand
Daar kom ’n oomblik in ’n jongmens se lewe wanneer hoop nie meer net ’n gedagte is nie, maar begin beweeg. Dalk op die eerste dag op kampus, met die oopmaak van ’n eerste handboek of in die besef: Iemand glo genoeg in my om saam met my hierdie pad te stap. By Solidariteit Helpende Hand noem ons hierdie beweging werksyn – die punt waar roeping begin vorm aanneem deur dit wat jy doen. Werksyn is meer as werk, dit is identiteit in wording, die ontdekking van wie jy is terwyl jy leer, probeer en weer opstaan.
Waar werksyn begin posvat
Die Studietrust stap juis hier langs jongmense. Nie met groot beloftes nie, maar met stil volharding. Met die wete dat elke student ’n storie dra wat nog nie klaar geskryf is nie. Wanneer ’n student studeer, gebeur iets besonders. Dissipline word karakter. Drome kry rigting. En stadig begin werksyn posvat. Die woord van God is duidelik: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop” (Spr 3:6). Baie van ons Studietrust-studente kom uit omstandighede waar die pad vorentoe nie vanselfsprekend is nie – waar daar talent is, maar geleenthede ontbreek. Potensiaal wag dikwels net vir iemand om ’n deur oop te maak. Wanneer dit gebeur, sien jy iets besonders: ’n jongmens wat nuut begin kyk na hulself, hul plek in die wêreld en die roeping wat voorlê.
Van studie na roeping
Ons sien dit wanneer ’n student hul eerste eksamen slaag en aanhou studeer al is dit swaar. Ná jare se volharding ontvang hulle hul kwalifikasie en begin hul loopbaan – hul eerste salaris, hul eerste pasiënt, hul eerste klas. Dít is werksyn in sy suiwerste vorm. Die Studietrust se hulp eindig nie by ’n rentevrye studielening nie. Dit leef voort in ’n eenvoudige beginsel: Wat jy ontvang het, dra jy oor. Terugbetalings maak dit moontlik vir ’n volgende student om te studeer. Só word stories verweef en hoop van een hand na ’n ander oorgedra.
Die betekenis van sewe
Daar is tans 7 000 studente wat reeds deur die Studietrust bygestaan is. Dit is nie bloot ’n getal nie, maar lewens wat nuwe rigting gekry het. Hierdie verhale van werksyn ontvou stadig en volhoubaar, soos ware groei dit doen. In die Bybel is sewe die getal van volheid en voltooiing. God het die skepping in sewe dae voltooi en die sewende dag was ’n dag van rus, ’n teken dat die werk goed en volledig was. Dwarsdeur die Skrif simboliseer sewe iets wat afgerond is en in lyn is met God se bedoeling. Wanneer ons dus van 7 000 stories praat, herinner dit ons aan roepings wat vorm kry en jongmense wat begin om werklik te leef. Telkens keer hulle terug na hul gemeenskappe as rolmodelle. Hierdie verhale is nie ’n eindpunt nie, maar ’n getuienis van geloof en volharding wat gemeenskappe versterk. Ons by Solidariteit Helpende Hand sien uit na die volgende 7 000.
Meer as net ’n lening
Die Studietrust bestaan nie om vinnige oplossings te bied nie. Dit bestaan want ons glo daarin om die pad saam ons studente te stap, om aan te hou glo, selfs wanneer die pad lank en moeilik is. Want werksyn vra tyd, dit vra geduld en dit vra mense wat bereid is om in ander se toekoms te belê. Uiteindelik gaan dit daaroor dat jongmense kan doen, kan wees en hul roeping kan uitleef. Elke keer wanneer dit gebeur, skryf ons saam aan ’n storie wat groter is as onsself.
Toegang tot roepings-gedrewe werk
Die Studietrust stel studente in staat om die kennis, vaardighede en karakter te ontwikkel wat hulle nodig het om betekenisvol in die arbeidsmark en samelewing te funksioneer. Ons fokus nie net op toegang tot studies nie, maar op roepings-gedrewe werk wat waardigheid bring en gemeenskappe versterk. Ons sien studente as toekomstige doeners: onderwysers, ingenieurs, verpleegkundiges, ambagslui en entrepreneurs wat vooruitgang dryf en hoop in aksie omsit. Werksyn roep mense om hul Godgegewe gawes doelbewus te ontwikkel en aan te wend tot voordeel van hulself én hul gemeenskap. Studie is ’n kragtige ruimte waar hierdie gawes gevorm word. Sonder opleiding bly baie jongmense se potensiaal onbenut. Daarom bied die Studietrust nie net finansiële hulp nie, maar ’n pad na roeping en volwaardige deelname.
Bou saam aan ’n toekoms
By die Helpende Hand Studietrust glo ons werklik dit is meer as net ’n lening – dit is ’n toekoms. Sonder die ondersteuning van ons donateurs kan hierdie stories nie geskryf word nie. Elke bydrae help om hoop te finansier en werksyn moontlik te maak.


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Fotos verkry deur oorspronklike artikel
Datum gepubliseer: 18/03/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








