Geskryf deur: Bobby Cooley

Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Toe ek grootgeword het, het my ouma op ’n groot plaas in die platteland gewoon. Elke somer het ek ’n paar weke saam met al my neefs en niggies daar deurgebring. Dit was altyd ’n avontuur. Ons het van dagbreek tot skemer rondgehardloop, die wêreld verken, visgevang, en probeer om nie in te veel moeilikheid te beland nie. Dit is van my beste herinneringe aan my kinderjare.

Lesse van ouma
Buiten al die pret wat ek gehad het met my neefs en niggies, het ek altyd daarvan gehou om tyd saam met my ouma deur te bring. Sy was redelik “plattelands” en het die beste koekies in die wêreld gebak. Sy was snaaks en skerpsinnig en het ons altyd goed geleer. Sy het ’n paar ongelooflike sêgoed gehad wat my tot vandag toe bybly. Ek is seker elke grootouer het van hierdie gesegdes gebruik om hul kleinkinders te leer. Hier is vyf lesse van grootouers wat ons moet onthou.

1 As jy saam met die varke in die modder speel, gaan jy soos een begin ruik
As kind het ek gedink sy sê dit dalk omdat ek sleg ruik. Maar soos ek ouer geword het, was daar baie situasies waar mense dinge oor my, my familie of my kerk gesê het, en elke keer het hierdie ou gesegde van my ouma my herinner om my kop hoog te hou en nie tot hul vlak te daal nie. As ek tot hul vlak afdaal, is ek nes hulle.

2 Vele hande maak ligte werk
Die ooglopende les in hierdie ou gesegde is dat ons ’n taak vinniger kan klaarmaak as ons meer mense het. Meer hande wat aan ’n taak werk verminder almal se werklas. ’n Groot les wat ek uit hierdie gesegde neem, is om nie alles op my eie te probeer doen nie. Vra hulp wanneer jy dit nodig het, skuif jou trots opsy en wees bereid om goed saam met ander te werk.

3 ’n Mens vang meer vlieë met heuning as asyn
Heuning verteenwoordig vriendelikheid, terwyl asyn bitter, onaangename gedrag voorstel. Toe ek by ’n motorhuurwinkel gewerk het tydens my universiteitsjare, moes ek myself die heeltyd aan hierdie gesegde herinner. Wanneer ’n kliënt ontsteld was, kon ek die probleem gewoonlik baie vinniger oplos as ek vriendelik en aangenaam was in plaas van verdedigend of onbeskof. Ons kan almal ’n bietjie vriendeliker wees.

4 Jy kan nie tandepasta in die buisie terugdruk nie
Hierdie gesegde herinner ons daaraan dat sodra iets gebeur het, jy dit nie ongedaan kan maak nie. Ons woorde en dade kan nie teruggeneem word nie, en ons moet dink voor ons praat of optree. Ons kan probeer foute regmaak nadat ons dit begaan het, maar hierdie gesegde herinner ons om altyd bedagsaam te wees met ons woorde en dade.

5 Kannie is lankal dood van kruiwa stoot
Moenie ’n pessimistiese gesindheid hê nie. Wanneer ons dink dat ons iets nie kan doen nie, keer dit ons om te probeer. As jy glo dat jy iets nie kan doen nie, sal jy dit nooit kan bereik nie. Jy moet positief bly en weet dat jy kan, al maak dit jou senuweeagtig. Jou houding beïnvloed jou inspanning, jou veerkragtigheid wanneer jy misluk, en jou selfvertroue om te presteer.

BOBBY COOLEY – ’n man wat daarvan hou om ouers te help om hul verantwoordelikheid as die
primêre geloofsopleiers in hul huise te aanvaar. Hierdie artikel is eers gepubliseer op All Pro Dad, besoek allprodad.com vir meer wonderlike hulpbronne.

Wat is ’n paar ander lesse van grootouers wat ons moet onthou?
E-pos info@joymag.co.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 29/11/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here