Deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Vandat ek ’n jong meisie was, het ek gewonder oor wat my roeping is en hoe ek dit eendag sal uitleef. Ek het lank gedink dit was om skeppend te wees in die kunste, maar vandag bevind ek myself by ’n instelling waar ek elke dag ander deur my gawes kan bedien deur my roeping uit te leef.
Elkeen het ’n Godgegewe roeping
“Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het” (1 Kor 7:17, OV).
Vandag weet ek en glo ek vas God skep lewe, God skep roeping. Hy laat ons hierdie lewe inkom, elkeen met ’n spesifieke doel. Alles gebeur volgens hoe God beskik. Al lyk dit soms vir ’n mens asof jy jou eie roeping bepaal, het God dit vir jou geskep die dag met jou geboorte. Dit is ook God wat vir ons die gawes gee om ons roeping uit te leef.
Ondanks struikelblokke, sal ons nie struikel nie
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie” (2 Pet 1:10).
Hierdie is vir my nie net mooi nie, maar iets waarvolgens ek ook lewe. Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat God ons nie net geskep het nie, maar met ’n roeping daarby en as ons daarby hou, sal ons nie struikel nie. Dit is dan mos eenvoudig: Bly by jou roeping, lewe vir God en wees voorspoedig.
’n Mens sal dink dit is eenvoudig, maar dit is nie so maklik nie. Daar ís ook dinge van die wêreld wat ons daagliks verhinder om ons roeping uit te leef. Daar is struikelblokke en teenspoed. Jy verloor egter nooit regtig die rede waarom God jou geroep het nie, in talle gevalle versterk dit juis jou roeping net verder.
Een van Solidariteit Beweging se vyf kernwaardes
Roeping is ’n woord wat ek nog nooit so baie in my lewe gehoor het soos die afgelope tien jaar van my diens binne die Solidariteit Beweging nie. Ek dink dit is omdat dit vir ons so vanselfsprekend is – wanneer jy hier werk weet jy waarmee jy jouself moet besig hou. Daarom vorm dit deel van die vyf waardes wat Helpende Hand gekies het.
Johannes die Doper was seker van sy roeping
Net soos Johannes die Doper weet ons ook waarmee ons onsself moet besig hou, wat ons roeping is en ons vertrou op onse Vader om vir ons die pad te wys. Met ’n leerbelt om sy heupe en geklee in kameelhaar, het Johannes ten volle verstaan wat sy roeping was. Reeds voor sy geboorte het die engel aangekondig dat Johannes ’n volk vir die Here sal voorberei. Hy was die een wat die pad vir die Here moes gereed maak en hy het dit geweet.
Weet jý waarvoor God jou hier geplaas het?
’n Mens sou sekerlik kon sê dat dit makliker is vir dié wat reeds weet wat hulle roeping is, maar het jy al ooit werklik gaan sit met die gawes wat God jou gegee het, dit weer voor sy voete geplaas en gebid: “Here, wys my hoe ek dieper en wyer in God kan leef. Help my om uit te leef waarvoor U my hier geplaas het.” Het jy dan ooit al regtig gaan luister na wat die Here vir jou sê?
’n Gemeenskap sonder ’n roeping is uiters gevaarlik – wanneer mense nie die doel uitleef waarvoor God hulle geroep het nie. Die lewe raak chaoties wanneer dinge nie volgens die Here se orde gebeur nie. Ek is seker ons sal eerder ons roeping wil uitleef as om ’n chaotiese samelewing te hê. Ons loop gevaar om God se bedoelde seën te verbeur wanneer ons wegdraai van sy bestaansrede vir ons of as ons dit ignoreer. Die Here voorsien ’n toekoms daar waar Hy ons roep. Hoe meer ons doen wat ons moet doen, hoe meer seker word ons van sy toekomsbelofte aan ons.
Meer as net ’n werk, dit is ’n roeping
By Solidariteit Helpende Hand weet ons dat ons toewyding aan ons werk meer is as net ’n werk; dit is ’n roeping. In 2024 sal ons ons sin vir roeping erken om te verseker dat elke taak wat ons aanpak, bydra tot ’n groter doel. Ons werk behoort ’n uitdrukking te wees van ons passie
en toewyding.
Maak seker van jou motiewe
As gemeenskap van gelowiges moet ons dapper wees in ons roeping, want dít is wat God vir ons gegee het om mee te woeker en te werk. Roeping kan net soos enige ander waarde Christelik van aard of wêrelds van aard wees. Wanneer jy jou roeping uitleef vir God en sy doelwitte vir jou, lewer dit goeie vrug op, maar wanneer jou motief vir die wêreld se dinge is, loop dit skeef.
Kinders van God, in diens van Hom en ander
Ons moet onthou dat ons enigste eintlike roeping is om God se kinders te wees. Wanneer jy dit in jou lewe hier op aarde toepas en jouself daarmee besig hou, trek jy ook vir jou ’n leerbelt en kameelhaarjas aan en hou jou dan besig met die regte dinge soos Johannes die Doper gedoen het.
Is jy gereed om jou roeping te leef?
Word deel van ’n familie met ’n roeping
As jy deel wil wees van ’n roepinggedrewe instelling wat elke dag ’n verskil maak, besoek gerus ondersteunons.co.za en word deel van die Solidariteit Helpende Hand-familie.
RENÉ ROUX – bestuurshoof: media, by Solidariteit Helpende Hand.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 13/05/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.