Deur Radio Tygerberg 104FM
Artikelbron: Artikel verskaf
Kaapstad, 2 Mei 2024. Terwyl Herfs besig is om na Winter te verander, is dit ook tyd vir ’n nuwe seisoen by Radio Tygerberg 104FM. ’n Splinternuwe uitsaai-skedule vir omroepers is vandag deur die programbestuurder, Rikus van Rooy, aangekondig. Die meeste bekende en geliefde omroepers is steeds daar, hulle saai nou net in ander tydgleuwe uit. Dié vars nuwe skedule sal op Maandag, 6 Mei in werking tree.
Dieselfde musiek en boodskap waaraan luisteraars gewoond is, sal nog deel van die programme uitmaak. “Ons versprei steeds die verlossings boodskap van Christus, inspireer jou en speel soos altyd die beste musiek wat jou inspireer. Die programme sal net ’n ligter en moderner aanslag hê, maar steeds met dieselfde diepte wat luisteraars van Radio Tygerberg 104FM ken en koester,” sê Van Rooy.
Groet ’n legende
Met die veranderinge, is daar altyd ook hartseer. Een van Radio Tygerberg se legendariese omroepers, Lorrein Katzke, tree na 26 jaar af.
Op Vrydag 12 April het Radio Tygerberg afskeid geneem van die uitsaailegende, Lorrein Katzke, tydens ’n spesiale geleentheid waar haar bydrae tot die stasie gevier is.
“Lorrein laat beslis ’n groot leemte in ons geledere. Haar innemende geaardheid, positiewe uitkyk op die lewe en pragtige geloofstories, sal gemis word. Sy het wel ingestem om nog Maandae haar immergewilde kosprogram ,104Kook, om 14:00 aan te bied. So ons verloor haar darem nie heeltemal nie. Reinhardt Kotze neem nou haar middagprogram oor. Lorrein, ’n reusedankie vir jou kwaliteitwerk en jou groot aandeel die afgelope kwarteeu! Jy is enig in jou soort,” het Hardus Zevenster, groep- uitvoerende hoof van Bloudruk, wat onder andere Radio Tygerberg besit, gesê.
Die nuwe programme:
06:00 – 09:00: Die Real Brêkfis met Neville, Benescke, Francois en Charl is propvol energie om jou dag op die regte noot af te skop. Benescke Janse van Rensburg en Charl Havenga is reeds ou bekendes en gaan saam met Neville D en Francois Boyce vir huppel-in-die-stap oggende op Tygerberg 104FM sorg. Die twee nuwe omroepers, Neville D en Francois Boyce gaan beslis vir meer as net ’n tikkie opwinding sorg wanneer hulle agter die mikrofone inskuif.
Neville D is bekend as sanger en liedjieskrywer – hy is selfs al vir ’n Grammy benoem. Francois Boyce is die rondreisende stem wat van verskeie interessante plekke gaan inskakel. Francois is veral bekend vir sy HoezitSamelewing-platforms.
Die ontbytsessie gaan propvol wees – van Real nuus tot ’n Body Beat-insetsel wat jou sommer flink uit die vere sal kry.
09:00 – 12:00: Lééf met Liomee. Liomee Vosloo is self ’n ouer en gaan op familiesake, gesondheid en inspirasie vir ʼn oorvloedige lewe tydens haar oggend program fokus.
12:00 – 15:00: is Lunch met Reinhard Kotze. Hierdie beloof om ’n welkome blaaskans in die middel van jou dag te wees – propvol pittighede en prettige speletjies. Fliekvlooie sal ook kan inskakel vir resensies in hierdie middag program.
15:00 – 18:00: Die Lift Klub met Mike Potgieter en Rouchelle Liedeman. Hierdie gedugte span se laatmiddag program beloof om jou ʼn “lift” te gee, met insetsels soos Air-vent, Ko’s gaan huis toe en Kar-ioke. Huis toe gaan, was nog nooit so lekker soos in die geselskap van hierdie twee nie.
“Ons sien die veranderinge as baie positief. Die nuwe aanslag is ligter en varser en ons visie bly om die Christen-stem van Suid-Afrika te wees. Ons doel is steeds om fisies ’n verskil in die gemeenskap te maak – soos ons reeds die afgelope drie dekades doen. Hierdie verandering is nodig en sal toelaat dat ons verder kan groei. Soos altyd is ons baie dankbaar vir ons getroue luisteraars. Ons sien daarna uit om julle almal die oggend van 6 Mei by ons nuwe skedule te verwelkom,” sê van Rooy.
Om na Radio Tygerberg 104FM se nuwe programme te luister, skakel van 6 Mei in op 104FM of luister aanlyn by radiotygerberg.co.za of laai die toep (app) af wat beskikbaar is in die Google Play en Apple winkels.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer 14/05/2024
Foto verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








