Geskryf deur: S. Michael Houdmann
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Dit maak my mal hoe inkonsekwent baie Christene met hul wêreldbeskouing is. Baie Christene sê hulle glo in God en vertrou die Bybel as God se Woord, maar sodra die Christelike wêreldbeskouing in die pad staan van iets wat hulle graag wil doen, word dit eenvoudig opsygeskuif – net om later weer gebruik te word wanneer dit vir hulle gerieflik is. Dít is die lou geloof waarvan Jesus in Openbaring 3:16 gepraat het. Ek verkies dit ook dat mense liewer warm of koud moet wees. As hulle warm is, is ek gereed om saam met hulle die waarheid te leef en te verkondig. As hulle koud is, is ek bereid om hulle te probeer bereik deur die waarheid in liefde te praat (Ef 4:15). Maar as hulle lou is, maak dit my sommer naar.
Wat is ’n wêreldbeskouing?
’n Wêreldbeskouing is eenvoudig hoe ons die wêreld sien. Dit beïnvloed elke area van ons lewens – soms doelbewus wanneer ons ons besluite daarop baseer, en soms onbewus wanneer dit ons beïnvloed al dink ons nie daaraan nie. Ons wêreldbeskouing is die kernoortuigings en waardes wat bepaal hoe ons alles anders in die lewe sien. Die kern van ’n wêreldbeskouing bestaan uit die antwoorde op die volgende vrae:
1. Hoekom is ons hier?
2. Wat is verkeerd met die wêreld?
3. Kan dit reggemaak word?
’n Christelike wêreldbeskouing sou antwoord: (1) God het ons geskape. (2) Sonde. (3) Ja, deur Jesus Christus.
God het ons met ’n doel geskape
God het ons na sy beeld geskape sodat Hy ’n betekenisvolle verhouding met ons kan hê. Hy het ons ontwerp om goeie rentmeesters te wees van sy skepping. Hierdie aspek van ’n Christelike wêreldbeskouing beïnvloed hoe ons ander mense sien en hanteer. Het die menslike lewe waarde? Moet die menslike lewe op ’n ander manier hanteer word as ander lewensvorme? Hoekom moet ek liefdevol, vriendelik en medelydend wees teenoor ander? Ons is geskape om ’n verhouding met God te hê. Sonder daardie verhouding het die lewe geen ware betekenis of waarde nie. Tog leef baie mense asof God net op ’n Sondag ter sprake is.
Die probleem van sonde
Die wêreld se probleem is sonde. Al is dit steeds wonderlik en vol skoonheid, is dit tog heeltemal deurmekaar en nie soos God dit bedoel het nie. Hoewel dit nog voorsien wat ons nodig het, is dit net ’n skewe, verbleikte weergawe van wat Hy oorspronklik geskape het. Ons het sonde en boosheid in die wêreld ingebring. Ons is verantwoordelik vir alles wat verkeerd is. Ons het heeltemal afgedwaal en is besmet met ’n dodelike plaag (Rom 3:10-23). Ons is die probleem, nie die oplossing nie. Hierdie aspek van ’n Christelike wêreldbeskouing behoort ons nederig te maak en ons van hoogmoed en arrogansie te weerhou. Die wêreld draai nie om ons nie. As dit die geval was, sou dit onderstebo wees, besig om agteruit te draai en lyk soos ’n vrot aartappel met allerhande snaakse lote wat daaruit groei.
Jesus Christus is die enigste weg
God is die oplossing. Hy het mens geword (Joh 1:1,14), ’n volmaakte lewe geleef, ons die waarheid geleer en gesterf om die straf vir ons sondes te dra (2 Kor 5:21). Jesus se opstanding het bevestig dat sy sending geslaag het. Deur Jesus Christus alleen kan ons verlos en ons lewens herstel word. Deur Hom sal die heelal en alles daarin eendag herstel word tot heerlikheid en volmaaktheid. Deur geloof in Jesus Christus kan al ons sondes vergewe word, en ons ewige bestemming in die hemel verseker wees. Sien jy die patroon? Dit gaan alles oor Jesus! Ons is die probleem – Hy is die oplossing. Jesus het alles volbring en bied dit aan ons as ’n geskenk, as ons dit net in geloof sal aanvaar. Hoe kan so ’n geweldige offer nie ons hele wêreldbeskouing vorm nie? Hoe kan so ’n ongelooflike geskenk nie die grondslag wees van hoe en waarom ons ons lewens leef nie?
Vuur en vlam vir Christus!
Of dit jou huwelik, jou werk, jou politiek, jou stokperdjies, jou sedes of jou begeertes is – jou wêreldbeskouing moet die vaste fondament van alles wees. Niks in jou lewe moet geskei wees van die feit dat jy ‘n Christen en ’n toegewyde volgeling van Jesus Christus is nie. As die Christelike wêreldbeskouing waar is, vra dit ons alles – ons behoort vuur en vlam vir God te wees. As dit vals is, moet dit heeltemal geïgnoreer word – ons behoort so koud soos die Suidpool te wees. Maar louheid? Dit verdien dieselfde as wat die vis met Jona gedoen het.
S. MICHAEL HOUDMANN – stigter, president en HUB van Got Questions Ministries. Besoek gotquestions.org.

Foto slegs ter illustrasie.
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








