Geskryf deur: Gawie de Lange
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Een van die grootste gevare wat die Kerk vandag moet trotseer, is kompromie. Ek sien dikwels hoe Christene en gemeentes hulle waardes aanpas ter wille van insluiting en kulturele aanvaarding. Ons versag die boodskap van die Evangelie sodat niemand aanstoot neem nie, maar in die proses verloor ons die krag van die Evangelie self. Jesus het ’n baie eksklusiewe aanspraak gemaak: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Dit is nie ’n boodskap wat ons toelaat om met elke filosofie, geloofstelsel of verhaal wat die wêreld aanvaar, saam te stem nie. Dit is die waarheid wat ons onderskei. Tog, soos die gemeente in Sardis, lyk baie gelowiges vandag lewendig van buite, maar is geestelik dood aan die binnekant.

Historiese lesse uit Sardis
Sardis was ’n ryk stad in Klein-Asië, eens die hoofstad van die ou Lydiese koninkryk. Koning Croesus en die mense het staatgemaak op hulle vestings en geglo geen vyand sou ooit kon deurbreek nie. Tog het Sardis twee keer geval, omdat sy leiers aan die slaap was. Die Perse en later die Grieke het deur onbewaakte hekke en geheime gange ingekom. Jesus het na daardie geskiedenis verwys toe Hy met die gemeente in Sardis gepraat het: “Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het … As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief” (Op 3:1-3). Die mense van Sardis het onmiddellik verstaan wat Hy bedoel. Juis toe hulle gedink het hulle is veilig, het verwoesting gekom omdat hulle nalatig was.

’n Gekompromitteerde Evangelie
Die gemeente in Sardis het op ’n ander manier gekompromitteer as die gelowiges in Pergamum of Thiatire. In plaas daarvan om openlik terug te keer na die heidense tempelaanbidding, het hulle eenvoudig besluit om “oor die weg te kom”. Hulle het die eksklusiwiteit van die Evangelie afgewater en geleer dat mense in Jesus kan glo, maar steeds voor ander gode kan buig en in sonde leef. Klink dit bekend? Hoe verskil dit werklik van groot dele van die kultuur in die Kerk wat ons vandag sien?

Die gevaar van valse eenheid
Op die oppervlak het dit gelyk na eenheid. In werklikheid was dit geestelike dood. Jesus het hulle gewaarsku dat hulle deur kompromie hul klere besoedel het en sodoende hulle onderskeidbaarheid en die krag van sy Naam verloor het. Vandag word ons deur dieselfde versoeking in die gesig gestaar. Ter wille van “inklusiwiteit” verdoesel ons die waarheid, vermy ons dit om sonde by die naam te noem, en versuim ons om Jesus as die enigste weg na die Vader te verkondig. Ons kultuur sê vir ons om stil te bly sodat almal gemaklik voel. Maar stilte is dodelik.

Die oproep tot bekering
Die Here het Sardis nie sonder hoop gelaat nie. Hy het vir hulle gesê om wakker te word, te onthou wat hulle geleer het, en hulle te bekeer. ’n Paar getroue gelowiges in Sardis het nie hulle klere besoedel nie, en aan hulle is die belofte gegee dat hulle saam met Christus in wit sou wandel. Dit is dieselfde oproep aan ons vandag. Selfs wanneer groot dele van die kerk kompromitteer, word ons geroep om waaksaam te wees, vas te hou aan die waarheid wat ons aanvanklik ontvang het en dit wat nog oor is te versterk voordat dit verlore gaan. Hier is drie punte om oor te dink rakende kompromie:

  1. Word wakker en bly waaksaam
    Geestelike agteruitgang gebeur stadig. Soos in Sardis raak ons aan die slaap terwyl die vyand insluip. Jesus waarsku ons om wakker te bly en ons harte te bewaar. “Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn” (Luk 21:36). Het jy geestelik lomerig geraak? Die oomblik wat jy dink jy is veilig sonder waaksaamheid, is dikwels die oomblik wat die vyand aanval.
  2. Versterk jou gees
    Jesus het vir Sardis gesê om te versterk wat nog oor is. Dit is ook ons roeping. Hoe doen ons dit?
    • Deur gebed: Gebed is geestelike oefening. Toe Jesus swak gevoel het in Getsemane, het Hy gebid en die Vader het ’n engel gestuur om Hom te versterk (Luk 22:43).
    • Deur God se Woord: Die Woord hou ons rein en sterk. “Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U” (Ps 119:11). Skryf Skrifgedeeltes neer wat jou geloof anker en lees dit gereeld.
    • Deur Godvresende mense: “Moet julle nie langer laat mislei nie: ‘Slegte geselskap bederf goeie sedes’” (1 Kor 15:33). Omring jou met mense wat jou geloof bou en dit nie kompromitteer nie.
  3. Hou jou klere rein
    Kompromie besoedel die reinheid van ons wandel met Christus. Ons is geroep om afgesonderde en heilige lewens te lei, nie om met ’n sondige kultuur saam te smelt nie. “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie … maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind” (Ps 1:1-2). Die gemeente van Sardis het hulle klere besoedel omdat hulle die waarheid verruil het om “oor die weg kom”. Jesus roep ons om ons klere wit te hou deur getrou te bly aan Hom alleen.

’n Dringende oproep
Die boodskap aan Sardis is vandag net so dringend soos toe: Word wakker. Versterk wat oor is. Hou julle klere rein. Die Evangelie is nie bedoel om afgewater of gekompromitteer te word nie. Jesus is die enigste weg, en sy Kerk moet dapper in daardie waarheid leef. Laat ons nie ’n Kerk wees wat lewendig lyk maar dood is nie. Mag ons eerder vashou aan die lewe wat slegs in Christus gevind word.

Gawie de lange – algemene bestuurder van JUIG! Tydskrif. E-pos: gawie@joymag.co.za

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 13/12/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here