Geskryf deur: Anjoné de Jager (Joernalis by JUIG! Tydskrif)

Geloof begin nie by alles wat ons moet verstaan of regkry nie, maar by ’n hart wat in verwondering na Jesus kyk. Soos kinders wat eenvoudig glo en vertrou, leer ons om stil te word voor Hom en Hom te sien vir wie Hy is. Dis in daardie verwondering dat geloof begin groei. Dis hoekom Jesus self gesê het: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie” (Matt 18:3). Kinders glo nie omdat hulle alles kan verklaar nie. Hulle glo omdat hulle vertrou.

Die verwondering waarmee geloof begin
Ons word almal met daardie vermoë gebore. ’n Natuurlike sin vir verwondering. Tog leer die wêreld ons gou om skepties te raak. Seer, teleurstelling en sinisme steel stadig die eenvoud van geloof. Sonder dat ons dit agterkom, begin ons alles ontleed, bevraagteken en beheer. En iewers langs die pad raak verwondering stil.

Kersfees roep ons terug na daardie beginpunt. Na die krip. Na die eenvoudige waarheid dat God self mens geword het en tussen ons kom woon het. Nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat Hy ons liefhet. Dat die Vader sy enigste Seun gestuur het, nie uit verpligting nie, maar uit genade. Dat Jesus die heerlikheid van die hemel verlaat het om vir ons sondes te kom sterf.

Wees doelbewus dankbaar
Wanneer ons doelbewus stil word en kies om te onthou, vat geloof weer vlam in ons harte. Nie oppervlakkig nie, maar eg. Dit gebeur wanneer ons terugkyk en raaksien hoe die Here ons gedra het, hoe Hy voorsien het toe antwoorde skaars was en hoe Hy getrou gebly het, selfs toe ons gewankel het. Hierdie dinge gebeur nie vanself in ons geheue nie – ons moet tyd maak om dit te onthou.

Dis juis wanneer ons die stories begin vertel dat geloof verdiep. Wanneer ons hardop sê: “Hier het God ingekom.” “Hier het Hy voorsien.” “Hier het Hy my nie verlaat nie.” Dankbaarheid help ons om nie God se genade as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar om in verwondering stil te staan by sy hand in ons lewens.

’n Hart wat stil word en eer gee
Wanneer ons so onthou, verander dankbaarheid in aanbidding. Dan gee ons God die eer wat Hom toekom, nie net met woorde nie, maar met harte wat weer vol verwondering is. En hierdie herinneringe dra ons vorentoe, van geslag tot geslag, as getuienis van ’n God wat steeds dieselfde bly.

Dan besef ons ook opnuut wie die Heilige Gees is. Dat Hy by ons bly. Dat Hy ons nie verlaat nie. Dat dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, nou in ons woon. Hierdie wete verander hoe ons leef. Ons leef nie meer uit vrees of onsekerheid nie, maar uit vertroue. Nie uit eie krag nie, maar uit God se krag in ons.

Mag ons hierdie Kersfees weer soos kinders glo. Mag ons weer leer om te kyk, te luister en te verwonder. Want dis daar waar geloof groei.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 21/10/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here