Geskryf deur: Anjoné de Jager
Die Jesus-veldtog wat onlangs in Kaduna, Nigerië, plaasgevind het, was volgens die Take the Nations-span een van die aangrypendste bewegings van God wat hulle nog ervaar het. Die geestelike honger het elke aand toegeneem, en teen die vyfde nag het die skare weer bonatuurlik verdubbel. Oral het mense saamgedrom – voor en agter die verhoog, in parkeerareas, huise en stegies. Die veld was uiteindelik tot sy volle kapasiteit gevul.
Duisende reageer op die krag van die Gees
Die atmosfeer het steeds opgebou toe evangelis Daniel du Toit oor die krag van die Heilige Gees gepreek het wat in Christus aan elke gelowige geskenk word. Toe die uitnodiging uitgaan, het duisende vorentoe gestroom. Getuienisse het ingestroom van mense wie se harte verander is en wat die Heilige Gees ontvang het, saam met ’n nuwe vrymoedigheid om van Christus te getuig.

Wonderwerke wat die span verstom het
Volgens die verslag was daar só baie wonderwerke dat die span nie eers deur al die getuienisse kon werk nie. Een vrou wat jare lank deur okkultiese binding verswak was het volkome vry geraak. Sy het ’n wurm uitgespoeg nadat daar vir haar gebid is en getuig dat haar krag onmiddellik teruggekeer het. Twee broers wat albei van geboorte af doofstom was kon hoor en praat ná gebed. Daar was ook vele getuienisse van pyn wat verdwyn het, liggaamlike krag wat herstel is en groot blydskap onder die skare.

Moslems reageer op die lig van Christus
Nog ’n besondere element van die veldtog was die groot aantal Moslems wat teenwoordig was en Jesus aangeneem het nadat hulle die evangelie gehoor het. Die span glo dat God Kaduna op ’n diep manier besoek het en dat sy lig voort sal brand waar duisternis vroeër geheers het. Die laaste nag word beskryf as ’n historiese uitgieting – ’n menigte mense wat die krag van God ontmoet het.

’n Oes wat ryp is soos nog nooit tevore nie
Take the Nations het opnuut hul dank teenoor ondersteuners uitgespreek. Die span getuig dat Nigerië besig is om verander te word deur die krag van die evangelie van Jesus Christus en dat die oes ryp is soos nog nooit tevore nie. Hulle sê dat hierdie veldtog slegs moontlik was omdat gelowiges bereid was om te saai in die oes.
Hulle berei nou voor vir die volgende Jesus-veldtog in Jos, Nigerië, van 17 tot 21 Desember. Elke gebed en elke bydrae help om die lig van Christus nog helderder in die noorde te laat skyn. Dit is ’n tyd van oes en elkeen van ons kan deel word van wat die Here daar doen.
Lesers wat die werk in die noorde van Nigerië wil ondersteun kan Take the Nations direk kontak by giving@takethenations.com vir besonderhede oor skenkings.
Foto slegs ter illustrasie.
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








