Geskryf deur: Myan Subrayan
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die verskynsel van jeugradikalisering is nie meer beperk tot afgeleë ekstremistiese groepe nie, maar het die huise van gewone gesinne wêreldwyd binnegedring. Deur digitale platforms, hoofstroommedia, politieke agendas en doelgerigte manipulasie word kinders weggeskeur van hul gesinne, geleer om gesag te minag en gekondisioneer om die Bybelse orde van respek, gehoorsaamheid en eer te verwerp.
’n Verswakking van die gesin
Hierdie ontstellende tendens kan nie bloot as toevallig afgemaak word nie – dit weerspieël ’n dieper, doelbewuste strategie om die gesin, die fondament van die samelewing soos in die Skrif gedefinieer, te destabiliseer. Die Bybel waarsku juis teen hierdie patroon in 2 Timoteus 3:1-3: “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie.”
Profetiese waarskuwings
Hierdie profetiese waarskuwing vang die kern van die huidige krisis vas. Die toename in ongehoorsaamheid en minagting onder jongmense is nie bloot kulturele toeval nie, maar ’n geestelike en ideologiese strategie wat daarop uit is om gesinseenheid te ondermyn en die morele weefsel van die samelewing te verswak.
Digitale indoktrinasie
Die internet en sosiale media het die nuwe slagveld geword vir die harte en gedagtes van jongmense. Ekstremistiese groepe het nie meer fisiese ruimtes nodig om lede te werf nie – hulle infiltreer nou aanlyn gemeenskappe, speletjieplatforms en selfs geënkripteerde kletskamers. Algoritmes normaliseer rebellie, minagting en antigesinswaardes. Deur jongmense van ouerlike invloed te isoleer en dit te vervang met georganiseerde propaganda, ondermyn digitale radikalisering direk die Bybelse gebod: “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12).
invloed van die hoofstroommedia
Die hoofstroommedia speel dikwels ’n vernietigende rol in die vorming van die jeug se gesindhede. Deur selektiewe beriggewing, sensasie en vermaakprogramme, word rebellie teen gesag verheerlik, tradisionele gesinstrukture belaglik gemaak en minagting teenoor ouers en ouer mense genormaliseer. Subtiele, maar konstante boodskappe beeld Bybelse gesinswaardes uit as verouderd of onderdrukkend. Televisieprogramme, rolprente en selfs kinderprogramme beeld ouers dikwels uit as onkundig, irrelevant of outoritêr, terwyl kinders as wyser, vryer en geregverdig gesien word om ouerlike gesag te verwerp. Nuusberigte stel intussen ouers met Bybelse oortuigings voor as onverdraagsaam of skadelik, wat hul Godgegewe verantwoordelikheid om hul kinders te dissiplineer, ondermyn. Sodoende weerspieël die media nie net kultuurverandering nie – dit dryf dit aan, en moedig jongmense aan om hulleself te distansieer van Bybelse waarheid en oneerbiedigheid as aanvaarbaar te beskou.
Politieke agendas wat ouers ondermyn
Sekere politieke bewegings, veral dié wat met linksgesinde ideologieë geassosieer word, bevorder beleid wat die rol van ouers in hul kinders se opvoeding verswak. Onder die dekmantel van “vooruitgang” of “individuele regte”, word gesag toenemend weg verskuif van die gesin na die staat. Voorbeelde sluit in:
• onderwysbeleid wat ouers uitsluit van besluite oor morele of seksuele onderrig;
• wetgewing wat kinders bemagtig om lewensveranderende besluite te neem sonder ouerlike kennis of toestemming; asook
• politieke retoriek wat tradisionele gesinswaardes as diskriminerend of agterlik etiketteer.
Hierdie agendas plaas dikwels kinders teenoor hul ouers, en moedig hulle aan om ouerlike gesag as onderdrukkend te sien en staatsideologie as bevrydend. Dit is ’n direkte omkering van God se ontwerp vir die gesin.
Sielkundige manipulasie van die jeug
Ekstremistiese bewegings, kulturele invloede en politieke aktiviste benut kwesbaarheid soos eensaamheid, onreg of persoonlike seer om jongmense in te trek in nuwe identiteite wat losgemaak is van geloof en hul gesin.
Die taktiek is duidelik: verswak ouerlike gesag, breek respek tussen generasies af en vervang dit met lojaliteit aan ideologieë wat die samelewing destabiliseer en Bybelse waarheid teenstaan.
Ideologie wat gesinne breek
Die ideologiese markplein raak toenemend gefragmenteer. Radikale groepe, hoofstroomnarratiewe en politieke bewegings word vermeng om verwarring en verdeeldheid te skep. Die gevolg is ’n generasie wat gebombardeer word met teenstrydige boodskappe, waarvan baie God se orde vir die gesin en ons lewens verwerp.
Hierdie verwarring kweek gesindhede van trots, rebellie en minagting – presies soos in 2 Timoteus 3:1-3 beskryf word. Die verwerping van ouerlike gesag het nie net te doen met optrede nie, maar is ideologies, doelbewus gekweek om die eenheid te breek wat God vir stabiliteit en veiligheid ingestel het.
Bybelse en sosiale implikasies
Vanuit ‘n Bybelse perspektief val die doelbewuste opsteek van kinders teen hul ouers die kern van God se ontwerp vir die gesin aan. Eer en gehoorsaamheid aan ouers is nie net morele deugde nie, maar beskermende waarborge teen sosiale ineenstorting (Ef 6:1-3).
Wat ons sien gebeur, stem ooreen met Paulus se waarskuwing: ’n doelgerigte erosie van natuurlike liefde, dankbaarheid en gehoorsaamheid, vervang met trots, rebellie en wreedheid. Dit is ’n geestelike stryd wat sigbaar word in digitale propaganda, mediaboodskappe en politieke ideologie.
Na ’n samelewingswye en geloofsgebaseerde reaksie
Alhoewel regerings en agentskappe die gevare van radikalisering raaksien, bly hul oplossings dikwels beperk tot teenterrorisme-raamwerke. Wat ontbreek, is die erkenning van die geestelike en morele dimensies van die krisis. Om jeugradikalisering te bekamp, moet Bybelse gesinswaardes asook eer en respek herstel word. ’n Omvattende reaksie moet die volgende insluit:
• Versterking van die gesin: toerusting van ouers om hul kinders in geloof, onderskeiding en Bybelse gehoorsaamheid te dissiplineer.
• Ontmaskering van media-invloed: opleiding van gelowiges, veral jongmense, om antigesinsnarratiewe in nuus en vermaak te herken en te weerstaan.
• Weerstand teen skadelike beleide: aanmoediging van Christene om standpunt in te neem teen wetgewing wat ouerlike gesag ondermyn, en om vir God se ontwerp vir die gesin te pleit.
• Gemeenskap en kerkleierskap: skep van veilige ruimtes waar die jeug hul identiteit, ’n plek om te behoort en dissipelskap kan vind, weg van vernietigende ideologieë.
• Volgehoue gebed en voorbidding: bedekking van kinders en gesinne in gebed, en verbreking van vestings van rebellie en misleiding.
Gevolgtrekking
Die toename in ongehoorsaamheid en oneer onder jongmense is nie bloot ’n kultuurverskuiwing nie, maar deel van ’n doelbewuste agenda om gesinne te verswak en Bybelse gesagstrukture te erodeer. Media, ideologieë en digitale radikalisering dra by, maar die wortel is geestelik. Soos 2 Timoteus 3:1-3 waarsku, is dit tekens van gevaarlike tye.
Die gesin, soos God dit ontwerp het, is die voorste verdedigingslinie teen kulturele verval en geestelike misleiding. Om toekomstige geslagte te bewaar moet ons nie net gewelddadige ekstremisme weerstaan nie, maar ook ideologiese en politieke aanvalle wat kinders teen hul ouers laat draai. Die herbevestiging van Bybelse beginsels van eer, gehoorsaamheid en gesinseenheid is noodsaaklik vir die voortbestaan van ons geloof en die stabiliteit van die samelewing.
MYAN SUBRAYAN – lewensafrigter, spreker en skrywer. Hy werk met professionele atlete en spanne, insluitend Olimpiese deelnemers en spelers van voorste rugby- en krieketspanne.

Foto slegs ter illustrasie.
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








