Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Daar is talle projekte wat daagliks geloods word in Suid-Afrika, veral projekte wat fokus op armoedeverligting. In ons land het ons mense met groot harte wat werklik wil help en ’n verskil wil maak. Dit is vir my die mooi kant van ons mense, die kant wat brûe sal bou vir ons kinders, die kant wat hulle moue sal oprol en self aan die werk sal spring.

’n Warm hart vir verskeidenheid
Ek het onlangs navorsing gedoen oor projekte wat armoede verlig in Suid-Afrika, en die magdom projekte en korporatiewe sosiale-verantwoordelikheidsprogramme van organisasies wat bestaan, maak ’n mens se hart warm. Daar is ’n verskeidenheid projekte waarby mense betrokke kan raak om werklik ’n verskil te maak.

My eerste kennismaking met Helpende Hand
Op my eerste dag binne die Solidariteit Beweging, nege jaar gelede, het ek te doen gekry met die Skooltassieprojek van Solidariteit Helpende Hand. Ek het dadelik aanklank gevind by die projek, dalk omdat ek reeds ’n mamma was. Daarna het ek so stuk vir stuk al die ander projekte leer ken, projekte binne die instelling wat ’n massiewe, volhoubare verskil maak, nie net met fisiese welstand nie maar ook met geestelike en kulturele welstand.

Die Eksamen PEN-projek: ’n gemeenskap tree op
Wanneer ek dink aan mooi projekte hoor ek hoe fluister mense van Magalies deur tot by Broederstroom en verby Brits tot by Rustenburg oor die Eksamen PEN-projek. Hierdie streek van Solidariteit Helpende Hand en sy vrywilligers het opgemerk dat baie van hierdie kinders se akademiese vordering afneem, veral waar daar min of geen ondersteuning by die huis beskikbaar is nie. Sosiale uitdagings dra dikwels grootliks by tot hierdie situasie. Hoewel baie van hierdie leerders skoolmaaltye ontvang, kry hulle nie die nodige akademiese begeleiding om hul opvoedkundige toekoms te bevorder nie. Daar is ook ’n tekort aan basiese skryfbehoeftes en ’n ondersteunende leeromgewing tuis.

Die maatskaplike werker en streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand het saam met ’n opvoedkundige sielkundige gewerk om ’n praktiese oplossing te ontwikkel. In samewerking het hulle die afgelope drie jaar vier skole in die streek geïdentifiseer waar leerders met besondere maatskaplike uitdagings worstel. ’n Spesialiskursus word aangebied wat leerders bemagtig met effektiewe studiemetodes en eksamenvoorbereiding. Hierdie is vir my ’n mooi voorbeeld van gemeenskapsontwikkeling.

Boesemvriendinne: meer as net sokkies
Terwyl ek nou besig is om te skryf, sit ek met my voete voor die kaggelvuur, lekker warm hier in my huis. Aan my voete het ek ’n paar Boesemvriendinnesokkies. Ek weet hier waar ek sit dat elke paar van hierdie sokkies wat verkoop word, ’n vrou wat borskanker gehad het maar nie rekonstruksie kan bekostig nie, help. My hart raak amper so warm soos hierdie vlamme wat voor my brand, want ek weet dit is nie net vir my vriendin wat hierdie sokkies gehelp het met ’n paar gebreide borsprosteses nie – dit is meer as 3 700 ander vroue in Suid-Afrika ook.

Wanneer projekte eie word aan die hart
Hierdie tipe projekte word so eie aan ’n mens. Hoe meer jy met projekte wat ’n gemeenskap wil help te doen kry, hoe meer raak jy self ingeweef in en lief vir die projek, die mense, die roeping. Jy vind oral plek en spasie waar die projek kan groei en floreer. Dan word die projek ook soos volksbesit. Mense, die gemeenskap, raak dan lief vir en ingeweef met die projek.

HelpJag: kos, waardigheid en roeping
Ek het onlangs teruggekeer van ’n jagtog waar ons vir die projek HelpJag gaan jag het. Hierdie projek voed daagliks 8 000 kinders. Tydens die jagtog was daar mooi oomblikke van mans wat saam staan en sê: “Genoeg is genoeg. Ons kinders mag nie honger gaan slaap nie.” Weer eens daar op die jagveld het ek gevind dat projekte wat ’n verskil maak so algemeen kan wees, van die boesem van ’n hartseer vrou tot ’n bakkie wat rustig deur die veld ry. En dat armoede so wyd verspreid kan wees, van ’n kind wat nie kos het nie tot ’n bejaarde persoon se armoede wat skuil in haar eensaamheid elke dag.

Skrifwaarheid en roeping
Spreuke 11:25 leer vir ons: “Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.”

Die onskatbare wins van gee
Met my jare diens by ’n welstandsorganisasie (NWO) het ek al keer op keer gevind dat met elke projek wat jy aanpak of by elke projek waar jy inskakel, is dit nie net die gemeenskap wat baat nie maar maar jyself wat elke keer iets in jou gees wen. Dit wen elke keer so ’n bietjie nuwe hoop vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Waar is jy betrokke?
My vraag aan jou vandag is dus: Waar is jy betrokke? By watter projekte het jy ingekoop vir hoop? Waar steek jy jou hand op? Waar maak jy ’n verskil in hierdie land? As jy nog nie doen nie, begin vandag. Die lewe gaan ons net een maal leef en ons kán en móét ander help terwyl ons hier is.
Wie se dors les jy?

RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand-familie waar ons welstand deur werksyn in en deur ons gemeenskap help verseker. Besoek www.ondersteunons.co.za
012 111 8360
diens@helpendehand.co.za

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 06/08/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here