Geskryf deur: Alex Pollock
Artikelbron: incontextinternational.org 

Op Vrydag, 26 Mei, het die Wêreldbank ’n verklaring uitgereik waarin aangekondig is dat addisionele befondsing van $300 miljoen aan die sukkelende Libanese bevolking goedgekeur is.

Twee jaar gelede het die Wêreldbank ’n lening ter waarde van $246 miljoen goedgekeur om duisende mense wat a.g.v. die land se ongekende ekonomiese ineenstorting ly, by te staan. Die jongste ronde hulpverlening sal kontantbetalings van tot $145 elke maand vir ’n periode van 24 maande aan ongeveer 160 000 huishoudings verskaf. Die program is ’n gesamentlike poging deur die Wêreldvoedselprogram en die Libanese ministerie van sosiale aangeleenthede.

Die Verenigde Nasies (VN) het aangekondig dat dit ’n plan, om Siriese vlugtelinge wat in Libanon woon in Amerikaanse dollars, eerder as Libanese ponde te betaal, gaan opskort. Die plan was daargestel om te help om die toenemende waardevermindering van die Libanese geldeenheid teen te werk, maar ná teenkanting van Libanese amptenare, het die VN besluit om voort te gaan om hulp in Libanese ponde te voorsien.

Die Libanese minister van sosiale aangeleenthede, Hector Hajjar, het gesê sy kommer oor die dollars vir Siriese vlugtelinge, is dat dit hulle sal aanmoedig om in Libanon aan te bly. Tydens ’n perskonferensie oor die saak, het Hajjar beweer dat die “meeste van die Siriese vlugtelinge in Libanon ekonomiese vlugtelinge is, en nie weens veiligheids- of politieke redes nie.” Die Libanese regering en noodlenigingsorganisasies sukkel om vir sowel die Libanese bevolking, as die meer as een miljoen vlugtelinge wat in die land woon, te voorsien.

’n Kontak van INcontext in Libanon het laat weet dat, hoewel die ekonomiese omstandighede vir beide gelowiges en niegelowiges veeleisend is, daar tog ’n paar ligpunte is waarvoor die Kerk dankbaar kan wees. Jongmense begin om hulle hoop in Jesus Christus te vind en samekomste vir geloofsgebaseerde leierskapopleiding word gehou. In ’n situasie wat so nypend is, is dit belangrik om elke oorwinning en gebedsverhoring raak te sien, ongeag hoe gering dit mag lyk. In ooreenstemming met hoe baie van die jong, geskoolde bevolking Sirië verlaat het vir beter geleenthede, is dieselfde tans besig om in Libanon plaas te vind. Die Kerk in die land bid dat meer mense in die land sal aanbly en hulle bestaan daaraan sal toewy om te help om die gemeenskappe op te hef wat in ekonomiese rampspoed agtergelaat is.

Die wêreldwye Kerk kan saam met Libanese gelowiges bid dat daar ’n sterk oorblyfsel in die land sal bly en die hoop en liefde van Christus sal versprei. Die Kerk in Libanon se verantwoordelikheid om hulp te verleen van watter aard ook al, raak toenemend belangrik namate Libanon se posisie in die wêreldekonomie voordurend verder verswak.

Die Middle East and North Africa Financial Action Task Force, ’n finansiële misdaadwaghond, het onlangs ’n finansiële evaluasieverslag oor Libanon voltooi wat op 26 Mei deur die land se finansiële intelligensie eenheid aangeneem is. Dit dui aan dat Libanon “een punt bo die drempelwaarde is om op die gryslys te beland”Indien hulle gryslysstatus kry, kan Libanon se vermoë om finansiële kapitaal te skuif, sy vermoë om te kwalifiseer vir buitelandse belegging, en sy verhouding met wêreldwye bankentiteite verder ontwrig word.

Die redes wat verskaf word vir Libanon se potensiële gryslysstatus sluit in: ’n gebrek aan inisiatiewe om geldwassery teen te werk, ’n gebrek aan finansiële deursigtigheid en die inbeslagneming en bevriesing van rekeninge. Indien Libanon op die gryslys beland, sal hy ook hoër globale transaksiekostes op die hals haal en verdere skade aan sy reputasie ly. Tensy die land daaraan werk om te voldoen aan die Internasionale Monitêre Fonds se voorwaardes om sy kredietwaardigheid te verbeter, loop dit gevaar om ekonomies al verder op ’n globale skaal agteruit te gaan.

As ’n wêreldwye Kerk, moet ons “nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel” (Galasiërs 6:9-10). Libanon is vrugbare grond, met ’n aktiewe en groeiende geloofsgemeenskap. Mag ons as medegelowiges aanhou om Libanese gelowiges te ondersteun as medewerkers vir Christus, om sodoende siele vir die Koninkryk te wen.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die Libanese regering verenig sal wees in sy besluitneming en dat daar ’n deurbraak sal kom in die land se ekonomiese krisis,
  • dat die Libanese Kerk voorsien sal word van hulpbronne om uit te reik na, en te voorsien aan diegene rondom hulle, op ’n manier wat die liefde van Christus aan niegelowiges sal ten toon stel, en

dat die wêreldwye Kerk sal aanhou om te onderskraag en te bid vir die bewerking van die oes in Libanon.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 02/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here