–deur FEBA Radio SA
Dit is nou vier jaar sedert Rusland se grootskaalse inval in Oekraïne begin het, maar konflik werp reeds sedert 2014 ’n skadu oor die lewens van Oekraïners. ’n Hele generasie se kinderjare word deur die oorlog opgeoffer.
FEBA Oekraïne het sy jeugbediening onlangs aansienlik uitgebrei. “Ons het oudioweergawes van verskeie boeke opgeneem en honderde kort video’s vir TikTok, Instagram en YouTube geskep,” skryf Eduard, die direkteur van FEBA Oekraïne. “Ons het ook ’n daaglikse oggendprogram met die naam Ranok Live begin, en ander projekte van stapel gestuur wat spesifiek op tieners fokus.” Ranok is die Oekraïense woord vir “oggend”.
FEBA Oekraïne se jeugbediening probeer so interaktief moontlik wees. Dit sluit aanlyn gesprekke met kykers en luisteraars in, asook ’n hulplyn waar tieners met opgeleide beraders kontak kan maak.
Een van hierdie tieners is die 14-jarige Serhii, wie se pa al drie en ’n half jaar lank op die frontlinie is. Nadat hul huis vernietig is, het Serhii en sy ma vlugtelinge geword. Sy vriende is oral verstrooi en een van sy naaste vriende is by sy huis dood.
“Serhii het geskryf dat hy sy dae deurbring deur eindeloos op sosiale media rond te blaai,” vertel Eduard. “Op ’n dag het hy op een van ons TikTok-video’s afgekom en met ons kontak gemaak. Ons het vir ’n paar dae boodskappe uitgeruil en hom daarna genooi na ’n byeenkoms by ons vennote se jeugklub, Young Life. Hy het gekom, daar vriende gemaak en begin om God te leer ken – iets wat hy nog nooit tevore ervaar het nie.”
FEBA Oekraïne beplan om in die komende jaar nog meer projekte vir tieners en kinders aan te bied. Bid vir hulle terwyl hulle jong mense in Oekraïne, wie se lewens deur oorlog gebreek is, na die enigste Geneesheer lei wat werklik kan help.
Vir meer inligting oor FEBA en hulle werk, besoek febaradio.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Fotos verkry deur FreePik
Datum gepubliseer: 16/03/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








