Persverklaring
Kuns Bring Hoop: Die Anties beplan weer ’n sielsvereikende toer in 2026
In 2025 het vyf vroue van Pretoria gereis om hoop te bring aan boervroue in droogtegeteisterde gebiede. Onder die vaandel van “Die Anties Bring Hoop” het hulle 902 vroue bereik met gratis kunsklasse—’n kreatiewe uitlaatklep wat ook as ’n bron van bemoediging en gemeenskapsbou gedien het.
Oor 21 dae het die span 4 730 km afgelê en 13 dorpe besoek. In elke dorp het ’n plaaslike gasvrou vroue van die omgewing genooi om deel te neem aan ’n dag van kreatiwiteit, samesyn en genesing. Baie van hierdie vroue het van afgeleë plase gekom—soms meer as 200 km ver—om die klas by te woon. Die impak was diep en tasbaar: vroue het weer bande gesmee, gemeenskappe het saamgestaan, en hoop het nuwe wortel geskiet.
“Ons het gesien hoe ’n eenvoudige kunsklas lewens kan verander,” sê Mariette Beukes, kunstenares en stigterslid van die projek. “Dis nie net oor verf en papier nie—dis oor verbinding, genesing en hoop.”
Een deelnemer het gedeel dat sy op die punt van selfdood was, maar ná die klas weer deel gevoel het van haar gemeenskap. ’n Ander se dogtertjie het haar laaste R8,50 geskenk vir petrol—’n klein gebaar met hart.
Die 2026-toer: Groter, dieper en verder
In 2026 keer die span terug met ’n uitgebreide toer: 21 dae, 17 dorpe, en ’n teiken om 1 000 vroue te bedien. Hulle vertrek 21 Junie uit Pretoria. Hierdie keer sluit die program ook musiek en drama in, met kunstenaars soos Mariette Beukes, Jak J. Brits, en Leon Ecroignard. ’n Professionele kameraspan, Ettiene Snyman en Gideon Brown, sal die hoogtepunte vasvang wat ook gedeel sal word op sosiale media en ook die stories van hoop op sosiale media deel.
Die beplande roete sluit in: Potchefstroom, Hartswater, Britstown, Vosburg, Victoria-Wes, Loxton, Sutherland, Matjiesfontein, Merweville, Prince Albert, De Rust, Oudtshoorn, Groot Brak, George, St. Francis, Cradock en Kroonstad.
Wees deel van die beweging
“Die Anties Bring Hoop” nooi gemeenskappe, instansies en individue uit om deel te wees van hierdie uitreik. Die projek is alleenlik afhanklik van borge en ondersteuning.
Deur net R100 te skenk vir ’n kunspakkie kan jy ’n verskil in ’n vrou se lewe maak. Donasies kan gemaak word deur ’n skarefonds wat geopen is: ‘n oproep tot Hoop Vrou tot Boervroue | BackaBuddy.
“Jou ondersteuning—hetsy deur borgskappe, logistieke hulp of bloot deur die boodskap te deel—maak dit moontlik om afgeleë dorpe te bereik en vroue te herinner dat hulle nie alleen is nie.” sê Beukes.
Om die projek te ondersteun, volg die Facebook-blad: Die Anties | Facebook vir gereëlde aankondigings. Kontak: Mariette Beurkes – 082 085 9492 Andri Potgieter – 0829232007 of andri.potgieter@gmail.com

Meer oor Mariette Beukes:
Mariette Beukes, ’n passievolle kunstenares van Centurion, is die stigter en dryfkrag agter die inisiatief “Die Anties Bring Hoop”, wat sy in 2025 geloods het om deur middel van kuns en geloof hoop te bring aan vroue in Suid-Afrika se mees afgeleë en droogtegeteisterde plattelandse gemeenskappe.
Met haar agtergrond as voltydse kunsonderwyser en haar vaardigheid in gemengde media, insluitend verf, klei en 3D-tegnieke, bied sy gratis werkswinkels aan waar vroue nie net nuwe kreatiewe vaardighede aanleer nie, maar ook ruimte kry om hul stories te deel, mekaar te bemoedig en vriendskappe te vorm wat genesing en samehorigheid bevorder.
Gedurende die 2025- en 2026-uitreiktoere het Mariette en haar span honderde vroue in dorpe soos Potchefstroom, Klerksdorp, Delareyville, Vryburg, Hartswater, Griekwastad, Upington, Kenhardt, Nieuwoudtville, Garies, Lambertsbaai, Clanwilliam, Calvinia, Williston, Vosburg en (Britstown bereik, waar elke deelnemer nie net met ’n selfgemaakte kunswerk huis toe gaan nie, maar ook met ’n boksie kunsbenodigdhede en ’n boodskap van hoop.
Mariette beskryf haar missie as “Jesus-werk” en glo dat die ware krag van kuns lê in die verbindings wat dit tussen vroue skep: “Ons bring hoop met lag, humor en ’n gesonde gees. Dis ’n pad wat ons saam met die Here stap.”
Sy beklemtoon dat die projek nie oor haar gaan nie, maar oor vroue wat ander vroue wil help, en sê gereeld: “Ek’s ’n Antie, jy’s ’n Antie, jou ma’s ’n Antie – ons is almal Anties. Enigeen kan ’n verskil maak.” Haar visie is om vroue toe te rus om hul omgewings en hul gemoed te verander, selfs te midde van swaarkry, deur kreatiwiteit, geloof en gemeenskap.
Die projek word ondersteun deur plaaslike besighede, skenkings en samewerking, en het reeds wye media-aandag geniet. Mariette se aanlyn teenwoordigheid op platforms soos Facebook, YouTube en TikTok dokumenteer die reis, die impak en die stories van hoop wat “Die Anties Bring Hoop” in die harte van vroue regoor die land saai.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Fotos verkry deur FreePik
Datum gepubliseer: 16/03/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








