Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Verskaf
Solidariteit Helpende Hand se Weskaap-streek het onlangs ‘n baanbreker-geleentheid aangebied om joernaliste, omroepers, mediaskakelbeamptes en bemarkers te bemoedig en te bemagtig.
Hierdie unieke sessie, genaamd Vreeslose Verslaggewing, is 7 November met kuier om ‘n langtafel by die Vredenheim Wynplaas buite Stellenbosch aangebied.
“Helpende Hand het ‘n tyd gelede besef gekom dat die trauma-ervarings wat joernaliste in hul bedryf beleef, nie aangespreek word nie. Joernaliste word daagliks blootgestel aan situasies en gebeure waaroor hulle verslaggewing moet doen en vele van hierdie gebeure veroorsaak trauma en angs binne hul leefwêreld,” sê Alisha de Lange, streekbestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Suid-streek.
“Die onverwerkte impak wat gebeure, foto’s, wrede tonele en kriminele sake op die psige van ‘n joernalis het, kom aan die lig wanneer hierdie persone oor jare se werk in die media wêreld beëindig word omdat hulle bloot nie meer kans sien om daarin te werk nie. Gesoute joernaliste kan soms na jare se verslaggewing selfs nie eens meer ‘sagte stories’ skryf nie. Selfs die sagte kwessies laat merke wat later lei tot post-traumatiese stres. Daarom het ons hande gevat met Avbob en besluit om te begin om hierdie kwessies aan te spreek, maar aan ‘n gesellige langtafel.”

Advokaat Gerrie Nel, wat bekendheid verwerf het vir sy uitmuntende ondervraging tydens die Oscar Pistorius-saak, het gepraat oor die haglike stand van die Suid-Afrikaanse strafregstelsel en die druk wat daarmee gepaard gaan. Bettie Kemp, gesoute radio- en TV-aanbieder en regisseur, het haar ervaring met die samestelling van dokumentêre programme gedeel en die emosionele uitdagings wat daarmee gepaard gaan, toegelig.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die joernaliste bygestaan met praktiese raad oor hoe om die trauma wat met hul werk geassosieer word, te verwerk.
Die dag is afgesluit met ‘n motiverende gesprek deur Mariëtta Kruger, radio-aanbieder by RSG en nuusanker, wat haar passie vir Afrikaans gedeel het, maar bekommernis uitgespreek het dat van die jonger garde die taal nie ernstig genoeg opneem nie.
Die geleentheid het ook ‘n platform geskep vir netwerkgeleenthede en is verder gekenmerk deur ‘n intieme, ontspanne atmosfeer waar gaste heerlike maaltye en verfrissings geniet het. Die positiewe terugvoer van die dag het groot indruk gemaak.
“Die terugvoer was so positief dat ons besluit het om dit ‘n jaarlikse instelling te maak. Die suksesvolle sessie het nie net as pitkos vir die siel gedien nie, maar het ook ‘n broodnodige veilige ruimte geskep waar mediapersone hul ervarings kon deel en mekaar kon versterk in hul uitdagende beroepe,” sê De Lange.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 14/11/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








