Geskryf deur:
Artikelbron: : churchinneed.org
Christene in Nigerië het hul skok en ontsteltenis uitgespreek oor ’n video waarin die voormalige goewerneur van die Kaduna-staat erken dat sy party, die All Progressives Congress (APC), gereeld godsdiensdiskriminasie beoefen.
In die video word gesien hoe Nasir El-Rufai, wat die staat agt jaar regeer het, ’n groep Moslem-geestelikes toespreek terwyl die huidige goewerneur, Uba Sani, langs hom sit. El-Rufai verduidelik aan die geestelikes hoekom hy nie Christene in plaaslike regeringsposisies ingesluit het nie.
Volgens El-Rufai stem dié wat nie Moslems is nie, ook nie vir dié party nie. “Hoekom sou ek hulle dus die plaasvervangende poste gee?”
El-Rufai het verder uitgebrei oor hoe sy party Moslems en Christene nog altyd regverdig behandel het, hoewel hy openlik erken dat hy die Moslem-kiesafdelings bevoordeel. Hy verklaar: “Kubau [’n Moslem-gebied] het ons natuurlik die meeste stemme gegee, dus sal ek iets vir Kubau gee omdat hulle vir ons gestem het. Wat ek vir Jaba [’n Christelike gebied] gee, sal ek vir Kubau vermeerder omdat Jaba nie vir ons gestem het nie.”
El-Rufai het vir die teenwoordige Moslem-geestelikes gesê dat dit die konsep is wat hy by hulle geleer het. “Wat julle imams en ulamas ons geleer het, is dat leierskap in Islam regverdigheid behels … Niemand kan sê hy is onderdruk omdat hy nie ’n Moslem is nie, maar jy sal voorkeur gee aan diegene wat jou ondersteun.”
In reaksie op hierdie opmerkings het ’n groep Rooms-Katolieke priesters ’n brief aan die huidige goewerneur geskryf waarin hulle geëis het dat hy hom van El-Rufai moet distansieer. Verteenwoordigers van die Vereniging van Rooms-Katolieke Bisdom Priesters in Kaduna, Zaria en Kafanchan, almal binne die grense van Kaduna-staat, bestempel die opmerkings as “verdelende, onverdraagsame en haatgevulde verklarings van Islamitiese magspolitiek in Kaduna-staat en in Nigerië.”
Die priesters voer aan dat Christene allermins gelyke behandeling ontvang en het verklaar dat “ons en ons gemeentes prominent aan die ontvangkant staan van die gruwels van ondoeltreffende bestuur, veral die afgelope agt jaar. As priesters in die besonder, word ons geteiken en verloor ons groot getalle lidmate wat voortdurend geteiken, ontvoer en vermoor word.”
Volgens data wat deur Aid to the Church in Need (ACN) ingesamel is, is elf priesters die afgelope jaar en ’n half in Kaduna-staat ontvoer, met die mees onlangse voorval wat op Sondag, 11 Junie plaasgevind het. Drie van die ontvoerde priesters is vermoor en twee word steeds vermis.
“Dit is benewens verskeie ander pastore van ander Christelike denominasies en tallose Christelike gemeenskappe wat voortdurend oorval, geplunder word en geboue aan die brand gesteek word. Dít sonder dat die oortreders voor die gereg gebring word of dat die gemeenskap enige ondersteuning van die National Emergency Management Agency (NEMA) of enige ander regeringsagentskap ontvang. Die gewone reaksie wat die regering gewoonlik aan hulle gee, is bisarre en onmenslike beskuldigings dat hulle hul moordenaars uitgelok het. Verder word die gruweldade as geregverdigde wraakmoorde bestempel,” het die priesters gekla.
Tog het hulle ook gesê: “Ons verseker u van ons onwrikbare ondersteuning en gebede, met die vertroue dat God u die wysheid sal gee om te regeer en die Kaduna-staat ’n benydenswaardige reputasie onder ander state te gee.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 19/06/2023
Foto: churchinneed.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.