Geskryf deur: Schizandra le Roux | FEBA Suid-Afrika febaradio.co.za Artikelbron:
“War,” sing Edwin Starr, “it’s an enemy to all mankind.” Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne
woed al vir langer as 15 maande. Dit maak amok met die wêreldekonomie en wek vrees in mense se
harte.
’n Konflik van nege jaar lank
As jy kyk na Reuters se statistiek van die konflik, wat reeds in Februarie 2014 begin het, skets dit ’n
donker prentjie:
• +- 62 000 sterftes
• +- 60 000 beseer
• +- 15 000 vermis
• +- 17 miljoen ontworteldes
• sowat US$411 miljard se skade aan infrastruktuur.
Dit is maklik om hoop te verloor. Tog sê die Bybel die duisternis kon die lig nie uitdoof nie (Johannes
1:5). Jesus het die dood oorwin (Openbaring 1:18). FEBA Oekraïne werk daaraan om hierdie goeie
nuus te versprei en die bediening hou net aan groei.
Twee weg, drie bygevoeg
In Februarie 2022 het FEBA Oekraïne sewe radiostasies landswyd gehad. Twee is beskadig of
oorgeneem – een in die Luhansk-streek, die ander in Mar’inka – en baie van die personeel moes hul
wonings ontruim. In plaas van opgee, maak FEBA Oekraïne toe nog drie stasies oop.
Die eerste is in Zaporizhzhia, naby die kernkragstasie. “Dié radiostasie ontvang die meeste terugvoer
van luisteraars,” sê Dennis Akhterov, ’n korrespondent vir FEBA Oekraïne. “Mense is bang vir wat
kan gebeur.” En toe hét daar inderdaad iets gebeur … die Nova Kakhovka-dam het op 6 Junie
ineengestort en talle dorpe is oorstroom. Duisende mense moes dringend hul huise ontruim. Die
dam voorsien water aan die Zaporizhzhia-kernstasie om die kernreaktor af te koel. Ons bid dat God
die kernstasie en die mense sal bewaar en dat ons span by die Zaporizhzhia-radiostasie die wysheid
sal hê om te weet hóé om luisteraars by te staan.
Die tweede stasie is in Kiëf – ’n wonderwerk te danke aan die oorlog! Dennis sê: “Ons het ’n tydelike
lisensie ontvang weens die oorlog. Dit is al lank ons droom om ’n stasie in Kiëf te hê, maar dit was
eenvoudig buite ons bereik.” Die stasie kan tot vyf miljoen luisteraars in en om Kiëf bereik.
Nou werk die span by FEBA Oekraïne daaraan om by Ivano-Frankivsk ’n derde stasie aan die gang te
kry. Hulle werk tans met kernpersoneel, want baie aanbieders is in die buiteland. Almal is al deur die
geweld geraak.
Elke lid van FEBA Oekraïne het tot dusver iemand verloor, hetsy dit familie, ’n vriend of ’n pastoor is.
Vadim, ’n vrywilliger-kapelaan van Mykolaivka, wat saam met FEBA gewerk het om radio’s en
kontakkaartjies uit te deel, is aan die einde van 2022 dood. Die kontakkaartjies het die nommer vir
FEBA Oekraïne se beradingslyn – nóg ’n deel van hul bediening wat aanhou groei.
Om hoop te deel
“Ons bedien vanuit daardie plek waar lyding reg langs ons is,” sê Victor Akhterov, die direkteur van
FEBA Eurasië. “Ons hoor hul stemme en ervaar hul pyn wanneer ons die liefde van Jesus met hulle
deel.” Hulle het onlangs ’n aanlyn teks-gebaseerde beradingslyn geopen. Dit is veral gewild onder
jongmense, wat verkies om hul vrese en behoeftes só te deel. Die telefoniese hulplyn het met vyf
opgeleide Christen-beraders begin; nou is daar meer as 30. Die behoefte neem toe en elke dag bring
hartbrekende stories en moeilike vrae mee.
Een so ’n oproep was van ’n jong man, Konstantin. Hy het gebel nadat sy pa, broer en meisie in ’n
stad naby hom dood is.
“Ek kan nie slaap vandat ek dit gehoor het nie,” het hy gesê. “Ek het selfs my polse probeer sny. Ek is
heeltemal alleen.” Die res van sy familie woon elders en hy kon net elke drie dae met hulle in
aanraking kom. Terwyl die FEBA Oekraïne beraders vir Konstantin van God se liefde vertel het, het
hy bedaar en gesê: “Dit is asof ek weer die grond onder my voete kan voel.” Hy was verras en
opgewonde om te hoor dat hy self tot God kan bid, net wanneer hy wil en in sy eie woorde! Hy het
die beraders bedank vir hul hulp. “Julle is die enigstes wat my oproep beantwoord het.”
Die Lig skyn in die duisternis. Ons dien ’n wonderbaarlike God!
Jy kan ’n verskil maak en ’n lig in iemand se lewe wees deur die skakel te
volg: https://febaradio.co.za/donate/
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 20/06/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.