Deur: Jeremiah Goddard
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Sondag 26 Februarie het Noord-Korea se leier, Kim Jong-un, staatsamptenare aangespoor om veranderinge aan die land se boerderybeleid te maak. Dit het geskied tydens ’n buitengewone politieke konferensie waar die landbou bespreek is.
Ergste tekort sedert 1990’s
Suid-Koreaanse deskundiges beraam dat daar ’n tekort aan 1 miljoen ton graan in Noord-Korea bestaan. Dit behels sowat 20% van Noord-Korea se jaarlikse behoefte. Daar is verslae oor inwoners wat van honger sterf, dit het egter nog nie die afmetings van ’n hongersnood aangeneem nie. Kundiges verbonde aan ’n dinkskrum met die naam 38 North in Amerika beskryf die huidige tekort as die ergste sedert die hongersnood in die 1990’s. Daar word beraam dat ongeveer 40% van die bevolking van Noord-Korea aan wanvoeding ly.
Militêre oefeninge
Die interne samesprekings het plaasgevind tydens Noord-Korea se verdere toetse van langafstandmissiele. Dit het ’n nadelige uitwerking op die land se vermoë om voedsel in te voer, wat te wyte is aan streng internasionale sanksies weens die land se kernwapenprogram. Gedurende millitêre oefeninge tussen Japan en Amerika, het Noord-Korea sonder waarskuwing ’n ICBM (interkontinentale ballistiese missiel) gelanseer. Verlede jaar was ’n rekord aantal missiele gelanseer, met sommige ICBM’s wat volgens waarneming enige teiken in Amerika kon bereik. Daar word ook verwag dat Noord-Korea in die loop van vanjaar met ’n sewende kerntoets sal begin. Die spoed waarteen verlede week se lansering plaasgevind het, was opmerklik. Aangesien dit nie vooraf aangekondig is nie, het Noord-Korea nou klaarblyklik die vermoë om ’n lansering te doen op die dag wat die bevel gegee word, wat ’n nuwe omwenteling aandui. Dit benadruk die twee kante van Noord-Korea, ’n vertoon van krag, maar interne lyding.
Lesse te leer by Josef
Hoewel Noord-Korea gewoonlik hulp van buite weier, kan die versoek om die landbousektor te herstruktureer, daartoe lei dat hulp van buite aanvaar word. Weens die ernstige aard van die huidige tekort, kan dit ’n geleentheid vir die kerk wees. Daar is ’n onmiddellike oproep tot aksie en ’n les om hieruit te leer. Die kerk se mandaat is om gedurende krisistye te reageer en die tasbare hande en voete van Jesus te wees. Daar moet ag geslaan word op die raad wat Josef aan die Egiptiese farao gegee het. Hy het hulle opdrag gegee om graan te stoor sodat die mense gedurende die hongersnood sal kan eet. Die kerk kan graan stoor om tydens krisisse soos hierdie te versprei, wanneer harte gewillig sal wees om te hoor en te ontvang.
Volgens Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys is Noord-Korea die nommer een land ter wêreld waar Christene die meeste vervolging ervaar. As Christene het ons sowat 400 000 broers en susters in Noord-Korea wat lyding ervaar, maar nogtans die Evangelie deel. Ons weet dat Noord-Korea se missieltoetse waarskynlik nie binne die afsienbare toekoms gaan ophou nie. Dit hoef egter nie ons reaksie as die liggaam van Christus te bepaal nie. Ons mandaat is om Christus te weerspieël, ongeag die omstandighede; om met empatie te reageer, ondanks die land se vyandige gesindheid teenoor die wêreld en die bedreiging wat deur die missietoetse geskep word. Die kerk kan aanhou bid dat Kim Jong-un Christus sal leer ken en dat gelowiges in Noord-Korea bemagtig sal word om ondanks die moeilike omstandighede die evangelie te deel.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid vir oop harte en denke by die regering vir die geleentheid om hulp van buite te aanvaar,
- dat die kerk die geleentheid sal aangryp om in die behoefte te voorsien indien daar ’n deur oopgaan,
- vir moed onder Christene in Noord-Korea om hulle geloof te deel, en
- dat Kim Jong-un Christus as sy Heer en Redder sal aanvaar.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 11/03/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.