Geskryf deur: Anschen du Plessis
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die gewilde Hermanus Passiespel word vanjaar weer opgevoer ná dit drie jaar weens die pandemie nie opgevoer kon word nie.
Wanneer die maan op Goeie Vrydag sy verskyning maak, sal ’n groep amateurs weer op die rotse van die Ou Hawe van Hermanus die verhaal van Jesus se geboorte, lewe, lyding en opstanding op treffende wye visueel uitbeeld.
Die hoop wat ons in Christus het
Hierdie opvoering wat jaarliks op Goeie Vrydag in Hermanus opgevoer word, lok mense van oral uit Suid-Afrika om die wonder van Christus se lewe kom beleef. In ’n tyd waar ons land en die res van die wêreld uiters traumatiese tye beleef het en steeds groot uitdagings trotseer, is dit vir die organiseerders ’n groot voorreg om ’n klein bydrae te maak wat die gemoedere kan lig en elkeen wat dit bywoon weer herinner aan die hoop en verwagting wat ons in Christus het.
’n Tyd vir samesyn en aanbidding voorafDie terrein sal vanaf 15:00 oop wees en die voorprogram begin reeds om 18:00 met lofdansers onder leiding van Veronica Brand. Die gaskunstenaar, Barneace Slabbert, sal die gehoor om 19:00 met geestelike liedere voorberei vir die Passiespel (90 minute lank) wat amptelik om 20:00 in stikdonkerte begin wanneer al die ligte rondom die Ou Hawe afskakel word.
Deelnemers van vier tot tagtig jaar
Vrywilligers uit die Hermanus- en nabye gemeenskappe oefen elke Sondagmiddag om 15:00 op die rotse van die Ou Hawe. Die meeste spelers wat jaarliks aan hierdie Passiespel deelneem het dit al meer as een keer gedoen. Kinders so jonk as vier jaar en spelers so oud as 83 neem hieraan deel. Die rol van Jesus word vanjaar weer die 24ste keer deur Reinhardt Singleton vertolk.
Kom geniet die aand
Bring jou kampstoel, piekniekmandjie en kombers asook iets warms om aan te trek en kom geniet die aand saam met ons! Onthou ook om vriende en familie te nooi wat Jesus nog nie ontmoet het nie. Wat ’n goeie geleentheid om hulle op treffende wyse aan die Reddingsverhaal bloot te stel!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 11/03/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.