Geskryf deur: Alex Pollock incontextinternational.org Artikelbron:
Meer as een derde van die lande in Afrika, waarvan vele met deurlopende veiligheids- en ekonomiese krisisse te kampe het, is bestem om hoëvlakverkiesings in 2023 en 2024 te hou. Verkiesings het reeds plaasgevind of sal nog in sommige van die kontinent se mees invloedryke lande plaasvind, insluitend Nigerië (25 Februarie 2023) en Suid-Afrika (2024), sowel as in sommige van die mees onstabiele lande, soos Suid-Soedan (laat in 2024) en Libië (voorgestel, maar nog nie geskeduleer nie). Afrika se jongste land, Suid-Soedan, het gesukkel om ’n stabiele regering daar te stel. Indien die voorgestelde verkiesing aanstaande jaar, plaasvind, soos beplan, kan dit die geleentheid skep vir vrede en groter stabiliteit.
Soos die geval is in die meeste lande wat met interne konflik te kampe het, kan die moontlikheid van nuwe leierskap ’n mate van hoop vir die algemene bevolking bring. Ten spyte van beperkings aan dít wat menslike leiers kan bewerkstellig, kan mense, veral gelowiges, aan die hoop vashou dat God leiers vir sekere seisoene daarstel en dat Hy Sy wil kan laat geskied deur middel van selfs die oënskynlik mees onwaarskynlike individue. Die voorgestelde verkiesing in Suid-Soedan het ook reperkussies vir diegene wat na naburige lande gevlug het. Baie ontheemde Suid-Soedannese wag om te sien of die verkiesing ’n skyn van vrede na hulle land sal bring voordat hulle besluit of hulle gaan terugkeer, al dan nie.
Diverse konflikte in lande in Afrika, soos Libië, lei dikwels daartoe dat ’n verkiesing in een land die veiligheid van ander beïnvloed. Die langdurige konflik in Libië het ongetwyfeld ’n verreikende invloed op die veiligheid in lande in Noord-Afrika sowel as in Europa gehad, veral met betrekking tot die migrasiekrisis. Die belangrikheid van wyse en etiese leierskap kan nie oorbeklemtoon word nie. Libië dien as ’n voorbeeld van die effek wat verdeeldheid en onenigheid in ’n regering op ’n land se bevolking kan hê. Terwyl Libië en die internasionale gemeenskap daaraan werk om ’n regverdige verkiesingsproses in te stel, kan die kerk voortgaan om te bid dat diegene in magsposisies deur die Heilige Gees gelei sal word.
Terwyl Christene in hierdie lande waar verkiesings voorlê, daarna streef om standvastig te bly in hul navolging van God, kan die wêreldwye Kerk hulle omarm met gebed en smeking, en hulle in onsekere tye aanmoedig. Sulke ondersteuning is uiters belangrik vir Christene wat hulle in lande met ’n Moslem-meerderheid, soos Libië, bevind terwyl hulle probeer om ’n leefstyl te toon wat hulle van ander onderskei, en steeds getuies vir Christus te wees.
Gedurende elke verkiesingsproses, ongeag die uitslag, behoort die Kerk ernstig vir diegene in beheer te bid: dat die verkose leiers sal soek na wysheid, dat hulle met deernis sal regeer en die wil van God deur hulle verwesenlik sal word. Ondanks wisselvallige verkiesings, word steeds die geleentheid vir gelowiges geskep om as vredemakers op te tree, om Christelike eenheid te vertoon en die liefde van Jesus te bewys – wat Sy volgelinge van ongelowiges onderskei. “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:35).
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
· Bid dat regverdige en veilige verkiesings vir elke land sal plaasvind waar verkiesings vir hierdie of aanstaande jaar geskeduleer is,
· dat elke verkose regering na wysheid en onderskeiding sal streef terwyl hulle hul nasies lei,
· dat die Kerk invloedryk en effektief in gemeenskappe sal wees en dat gelowiges voorbeelde van liefde, eenheid en respek tydens moontlike onstuimige tye sal wees
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/07/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.