Artikelbron: CBN News 

’n Argeoloog het leidrade uit die Bybel gebruik om die stad Sodom op te spoor, berig CBN News. Die argeoloog, Steven Collins, dekaan by Trinity Southwest University, het in ’n potgooi aan Joel C. Rosenberg verduidelik hoe hy en sy span die Bybelse stad in Jordanië ontdek het.

“Daar is soveel inligting oor die ligging van Sodom in die Bybel,” sê Collins. “Jy moet amper blind en ongeletterd wees om nie die 25 geografiese legkaartstukke met mekaar te kan verbind nie. Dit is nie moeilik nie.”

Talle Christene het lank gedink dat Sodom en Gomorra naby die Dooie See was weens bewerings wat die argeoloog William Albright in 1924 gemaak het. Geen bewyse is egter ooit gevind nie.

In 2001 het Collins besluit om die navorsing op ’n ander manier aan te pak deur die Bybel te gebruik. “Die probleem met William se benadering is dat hy nooit Genesis 13 gebruik het nie. Dit is die letterlike kaart na Sodom. ”

Collins het sy navorsing op die rivierbedding van die Jordaan gefokus. “Die vraag oor die ligging van Sodom is: Waar het Lot gestaan toe hy sy oë opslaan en al die vlaktes van die Jordaan vol water gesien het? Dit was tussen Bet-el en Ai,” verwys Collins na Genesis 13:10.

Dit het Collins na die Tall el-Hammam-streek gelei. Hy het toestemming van die Jordaanse regering gekry om daar opgrawings te doen. Collins en sy span het ’n hele reeks bronstydperkstede ontdek wat welvarend en ryk was. Hulle het ook toebehore en flesse ontdek wat blykbaar gesmelt het.

Die wetenskaplike artikel wat Collins oor sy bevindings geskryf het, stel voor dat ’n termiese ramp die stad se vernietiging voorafgegaan het. “Dik lae as is sigbaar, wat dui op ‘n verwoestende gebeurtenis soos beskryf in Genesis 19.”

Volgens CBN News kom die wetenskaplike artikel tot die gevolgtrekking dat die stede deur ’n meteorietreën of meteorietimpak vernietig is.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 14/07/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here