Geskryf deur: Daniel Kolenda
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

VERKLARING VAN SOLIDARITEIT
“Ons, die verteenwoordigers van die 2023-kongres van die CfaN Evangelisasie Alliansie, belowe plegtig met vurige harte om die Goddelike mandaat vir ’n Dekade van die Dubbele Oes na te kom. Ons sal kragte saamsnoer om die profetiese teiken van 100 miljoen gedokumenteerde besluite vir Christus in 2024 te oortref. Deur die Evangelie van Kaapstad na Kaïro te neem, sal ons hande vat met mekaar asook met vorige geslagte sodat die profesie van ’n bloedgewaste Afrika in vervulling kan gaan. Ons is gewillig om in 2024 ego’s en logo’s te laat vaar en vir hierdie hemelse mandaat te verenig. Ons is ook bereid om ons lewens af te lê, selfs tot die dood toe. Mag die Lam wat geslag is die beloning vir sy lyding ontvang.”

Verlede September het ons al ons CfaN-evangeliste van oral uit die wêreld byeengeroep om vir ’n strategiese beplanningsvergadering bymekaar te kom. By hierdie Evangelisasie Alliansie- (EA-)kongres het ek die visie vir ons 15de jaar van 50 veldtogte van Kaapstad tot Kaïro gedeel. So iets is ongekend en kan net met ’n uitstekende span vermag word. Ek het ’n beroep gedoen dat ons verenig moet staan en ’n verklaring van solidariteit moet onderteken.

Gees van eenheid
Daar het so ’n gees van eenheid in die lokaal geheers terwyl almal die verklaring onderteken het. Een van die redes waarom mense so gretig is om by hierdie visie aan te sluit, is omdat hulle wil voortgaan om in die bediening te saai wat hulle bemagtig het om hul roeping te betree. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid om deel te wees van iets soveel groter as ons almal.

Die krag van nalatenskap
Ek en my goeie vriend, evangelis Nathan Morris, het onlangs oor hierdie einste onderwerp nagedink. Ons het oor die uitwerking van CfaN op ons albei se lewens gesels. Nie een van ons sou wees waar ons vandag is sonder die groot belegging van evangelis Reinhard Bonnke nie. In die Koninkryk is almal wat God dien, geseën deur die werk – en dikwels die pyn en beproewinge – van dié wat hulle voorafgegaan het in die bediening. Wanneer ons dít erken, lei dit tot dankbaarheid en ’n begeerte om iets terug te gee. Dit is hoekom ek ongelooflik passievol is om die volgende generasie evangeliste op te lei. Ek wil toesien dat ’n menigte evangeliste begin om hulle lewensroeping te vervul.

Mense wil hê hul lewens moet tel, maar hulle weet nie altyd hoe uit te kom by dít waarvoor God hulle geroep het nie. Ek onthou hoe ek met ’n jong evangelis gepraat het wat pas in die bediening begin het. Ons het in die CfaN-hoofkwartier voor ’n reusefoto van ’n Evangelieveldtog in Ghana gestaan. Hy het gesê: “Ek het hier gestaan en kyk na daardie foto en probeer uitwerk hoe om daarby uit te kom.” Het jy al ooit so gevoel? Jy sien iets met die oë van geloof, maar weet nie hoe om daar uit te kom nie.

Daar is soveel evangeliste met God se roeping op hul lewens, maar hulle weet nie hoe om hul drome te verwesenlik nie. Deur die Evangelism Bootcamp, School of Evangelism en Fire Camps rus ons studente toe en bemagtig hulle met die vaardighede en ervaring van ons bediening. Hulle leer om doeltreffend te evangeliseer en hul eie Evangelieveldtogte te beplan. Ons gegradueerdes deel gereeld hoe CfaN hulle lewens beïnvloed het deur in hul roepings te belê. Hulle getuig dat ons die droom in hul harte gesien en goeie saad in hul lewens gesaai het. Ons het in hulle geglo en nou hardloop hulle volspoed om die oes in te win. Dít is vermenigvuldiging!

Alles tot God se eer
Opleiding van evangeliste is belangriker as ooit as ons die Goddelike mandaat gaan vervul om teen die einde van vanjaar 100 miljoen siele te wen en die 150 miljoen siele vir die Dekade van die Dubbele Oes. Vanjaar sal die meeste van die veldtogte gelyktydig of die een direk na die ander plaasvind. Daar sal spanne EA-lede by elke lokaliteit teenwoordig wees, sommige vir maande voor die tyd. Tydens “Gospel invasions” voor die groot veldtogte, sal ons die streek met een-tot-een-uitreike, Evangelievragmotorprediking, jeugveldtogte en markpleinevangelisasie voorberei. Ons brei ook ’n strategie, “Aftermath Campaign”, uit waartydens Bootcamp-gegradueerdes direk ná ’n groot veldtog hulle eie Evangelieveldtogte in ‘n naburige stad kan hou. Dit bou voort op die momentum en geestelike honger in ’n streek en vergroot die uitwerking. Ons begeerte is om lande en vastelande tot eer van God te bereik!

Daar is niks in die wêreld waaroor God meer omgee as siele nie. God stuur ons (evangeliste) as dienaars uit om mense se harte vir Jesus te laat brand, die Een wat sy lewe neergelê het en die grootste prys betaal het om hulle te red. “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe” (1 Joh 4:9).

Steek die Jordaan oor
As ’n bediening vertrou ons die Here vir iets groter as wat ons nog ooit ervaar het. Ons rek almal ons geloof en berei ons voor om alles te gee wat ons het om te sien hoe die krag van God nasies skud. Ons steek die Jordaanrivier oor na ’n nuwe grondgebied. Dit is ook ’n Jordaanrivieroomblik vir baie van julle wat hierdie artikel lees. Ons hoop dat julle ook uit jul gemaksone sal tree wanneer julle sien hoe ons uit ons gemaksone tree. Kom ons vertrou saam in die beloftes van God en aanskou hoe die visioene wat Hy ons gegee het, verwesenlik word. Vanjaar gaan een vir die geskiedenisboeke wees!

Daniel Kolenda – president en HUB van Christ for All Nations.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 09/02/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here