Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Ons Sentrum het in Januarie 2019 by die Jonibach-saal se kantore op die perseel van die NG Kerk Onderstepoort in Pretoria-Noord geopen. Dit was nadat ’n groot behoefte vir maatskaplike hulp in die gemeenskap geïdentifiseer is – spesifiek vir terapeutiese dienste vir kinders en hulle gesinne.
In Julie 2021 het Helpende Hand ’n “stap in geloof geneem” en ’n huis in Pretoria-Noord in kantore omskep wat toeganklik vir die gemeenskap en goed ingerig is. Ek onthou nog goed hoe al die personeel van Solidariteit Helpende Hand ingespring het om hierdie sentrum op te knap. Daar is geverf en skoongemaak. Dit is vir my ’n mooi simbool van wat vermag kan word as ’n mens se roeping terselfdertyd jou suurstof is.

Hulp wat andersins nie ontvang sou word nie
My gedagtes gaan terug na die verfbesmeerde hande wat met groot opwinding die kwaste kwistig aangewend het en die vreugde wat in ons almal se harte gebrand het in die wete dat hierdie sentrum ’n volhoubare verskil in ons gemeenskap gaan maak. Terwyl ek geverf het, kon ek nie help om aan al die kinders te dink wat nog hier sal aankom en die nodige hulp kry wat hulle andersins nooit sou ontvang nie.

Hoop sal seëvier
Die dag toe ons die boom plant en die deure met gebed open, loop my hart oor van vreugde, maar ek voel ook hartseer omdat ek weet dat die kinders wat ons hier gaan help, reeds soveel trauma in hulle lewens sou beleef het. Dit is mos nie regverdig dat ’n vyfjarige seuntjie presies weet hoe dwelms en prostitusie werk nie. Dit is hartseer om te weet dat dogtertjies van hulle kindwees ontneem is weens molestering en verkragting. Hoe mooi ons die gebou ook al gemaak het, gaan van die lelike dinge van die lewe ook hulle skadu in hierdie gange gooi, maar ons weet dat hoop sal seëvier!

Help om ’n groot seer te genees
So open die deure en ons deel drukkies aan ons beraders en terapeute uit. Ek bid ook stilweg vir hulle, want nie net het ek ’n ontsaglik hoë agting vir hierdie personeel van Solidariteit Helpende Hand nie, ek het ook ’n groot verwagting in my hart oor wat hulle gaan vermag. Hulle gaan kinders bemagtig en hulle groot seer help genees.

Wat bied Ons Sentrum?
Ons Sentrum is ’n plek waar kinders terapie ontvang vir enige vorm van trauma wat hulle beleef het. Hierdie trauma kan insluit: mishandeling (emosioneel, liggaamlik, seksueel), verwaarlosing, afsterwe van ’n geliefde, egskeiding, aanhoudende konflik tussen ouers ná ’n egskeiding, gesinsgeweld, afknouery asook gedragsuitdagings. Ons Sentrum bied dienste aan kinders en gesinne in die gemeenskap wat dit nie elders kan bekostig nie.

Die koeponsisteem
Een van Ons Sentrum se aksies waarvan ek hou, is die koeponsisteem. Daar is natuurlik nog ander programme, opleiding en mentorskappe, maar die koeponsisteem moedig kinders aan om vir hulle terapiesessies te kom. Dit leer hulle ook dat hulle wel keuses het en hoe belangrik die keuses is wat hulle maak.

Beloning vir bywoning van terapiesessies
Ons Sentrum het ’n stoorkamer in ’n vertrek omskep vol speelgoed wat in kategorieë gegroepeer is. Kleiner, goedkoper speelgoed val in ’n sekere kategorie en groter, waardevoller speelgoed in ’n hoër kategorie. Elke kind wat terapie ontvang, kry ’n A4-kaart met ± 16 blokkies daarop. Wanneer die kind ’n sessie bywoon, word ’n plakker op ’n blokkie geplak. Ná vier plakkers kan die kind ’n speelding uit ’n sekere kategorie kies as ’n geskenkie. Hoe meer sessies hulle bywoon, hoe hoër die waarde van die speelding wat hulle mag kies.

Bemagtiging met keuses
Kinders kan ook besluit om van die begin af ’n groot geskenk te kies wat ons vir hulle eenkant sal hou. Hulle ontvang dit dan eers aan die einde van hulle terapieproses. Hulle verbeur egter die kleiner geskenkies. Hierdie keuse wat elke kind moet maak, bemagtig hulle en leer hulle geduld en toewyding.

WAARMEE ONS JOU HULP NODIG HET
Ons Sentrum is daarop ingestel om kinders se trauma te hanteer en in hulle behoeftes te voorsien, maar ook om die kind vanuit ’n holistiese oogpunt op te bou. Daar is ’n groot behoefte aan sulke terapiesentrums in die land. Ons hartsbegeerte is om die Ons Sentrum in Pretoria-Noord selfonderhoudend te kry en geleentheid te skep om hierdie dienste verder uit te brei na ander dele van die land.

Maak ’n verskil
Daar is tans 80 kinders en hul gesine wat by Ons Sentrum hulp ontvang – 80 gebede is verhoor. Die Here het hulle in ons sorg geplaas. Wat ’n groot verantwoordelikheid, maar ook – wat ’n groot hoop! Ons ontvang geen befondsing van die staat nie en steun dus op donasies en borge.

VAT HANDE MET ONS SENTRUM
Ons het jou hulp nodig om seker te maak dat hierdie 80 kinders (en nog meer) die nodige hulp ontvang sodat hulle gesonde volwassenes kan wees wat ’n goeie bydrae in ons land sal kan maak. Ons vra vir jou hulp om seker te maak dat ons kinders vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Besoek bemagtignkind.co.za om ’n bydrae te maak. As julle self hulp benodig, stuur ’n e-pos na onssentrum@helpendehand.co.za

RENÉ ROUX – adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en voorsitter van die Vroue in Beweging.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 09/02/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here