Geskryf deur: Geopende Deure
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Saleh*, wat met heldemoed ’n ondergrondse huiskerknetwerk in Jemen begin het, tel sy foon op toe dit onheilspellend biep. Nog ’n doodsdreigement… “Hulle is besig om na jou te soek,” lui die boodskap. “Jy is dood. Jou dae is getel.”

Die woorde is onheilspellend, maar stuit nie hierdie dapper Jemenitiese evangelis om mense van Jesus te vertel nie. Al die doodsdreigemente maak hom net meer vasberade om die boodskap van Christus te verkondig – hy waag alles om die Kerk te versterk.

Gevaarlike land vir gelowiges
Volgens Geopende Deure se 2024 Wêreldwaarnemingslys is Jemen vir Christene die gevaarlikste land in die Midde-Ooste en die vyfde gevaarlikste ter wêreld. In hierdie Islamitiese staat word Christene deur die regering, hulle families en die gemeenskap vervolg, en die invloed van ekstremistiese en gewelddadige Islamitiese groepe neem toe. Sowat 70% van gelowiges hou hulle geloof geheim en ontmoet mekaar nooit nie. As hulle geloof ontdek word, kan hulle mishandeling, tronkstraf, marteling en selfs die dood te wagte wees.

’n Dapper evangelis
Saleh is een van Geopende Deure se vennote in Jemen. Hy het as student tot geloof gekom en ’n reputasie ontwikkel as ’n dapper evangelis. Hy was in ’n vlugtelingkamp in ’n buurland nadat hy tydens Jemen se burgeroorlog gevlug het, toe hy besluit het om ’n huiskerknetwerk in sy vaderland te begin.
“In die vlugtelingkamp het ek bekend gestaan as die een wat Jesus ken,” sê Saleh. “Talle mense het Christus as hulle Verlosser leer ken en ek het hulle aangemoedig om na Jemen terug te keer en daar te dien. Ons het na ’n veiliger deel van die land teruggekeer en ’n kerk begin waarheen leiers kon kom om opgelei te word en die bediening te betree.”

’n Stap van geloof
Om ’n kerk te begin, was ’n stap van geloof – maar ook uiters gevaarlik. Kort voor lank is Saleh se broer en ’n ander gelowige deur die Jemenitiese owerhede gevange geneem en in die tronk gegooi. Saleh se lewe was in gevaar weens sy hoë profiel en hy moes wegkruip – waar hy deur die gebede van sy broers en susters in geloof onderhou is.

“Ek het ure lank in my kamer gehuil. Sommige dae was ek hoopvol en sterk. Ander kere het ek swak, skuldig en depressief gevoel. In daardie donker tye het ek God se teenwoordigheid ervaar. Broers en susters van die wêreldwye Kerk het my bemoedig met hulle boodskappe dat hulle vir ons bid,” sê hy.
Ná twee maande is hierdie gebede verhoor. Saleh se broer en die ander Christen is vrygelaat. “God het ’n wonderwerk gedoen. Hy het selfs talle gevangenes deur my broer tot geloof gebring,” vertel Saleh, wat veilig uit Jemen kon ontsnap.

Dien die Kerk
Vandag reis hy gereeld na Jemen om ander gelowiges te onderrig en as herder te help met dissipelskap. Danksy die geskenke en gebede van Geopende Deure-vennote kan hy mediese hulp, vervoer, kospakkies en opleiding aan 70 Jemenitiese Christen-gesinne bied. “Ons is dankbaar vir julle,” sê Saleh. “Sonder hierdie hulpbronne sou ons nie die Kerk kon dien nie. Julle gebede is belangrik en opbouend en gee ons krag om voort te gaan.”

En Saleh se visie vir die toekoms? “Ek hoop dat daar binnekort Christene in elke uithoek van Jemen sal wees.”

Gebede en ondersteuning
Vervolgde Christene het nou meer as ooit jou gebede en ondersteuning nodig, aangesien die vervolging van gelowiges skerp toeneem. Besoek opendoors.org.za om ’n GRATIS 2024 Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai om na die top-50-lande op die 2024 Wêreldwaarnemingslys te kyk en jou te help wanneer jy vir vervolgde Christene bid.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 09/02/2024
Foto’s verskaf (Saleh woon in Jemen, wat sedert 2014 in die greep van ’n burgeroorlog is en bedryf ’n huiskerknetwerk van 70 gesinne in Jemen.)

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here