Geskryf deur: Geopende Deure Suider-Afrika
Artikelbron: www.opendoors.org.za
Geopende Deure Internasionaal het sy 2024-Wêreldwaarnemingslys in Januarie bekendgestel. Dié lys, wat nou in sy 31ste jaar is, wys weereens die top-50-lande waar Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar en skep bewustheid van die swaarkry wat vervolgde Christene elke dag trotseer. Lande word gelys volgens die erns van vervolging en diskriminasie wat Christene wat daar bly, ervaar.
In hierdie wêreldwye opname wys die algehele tendens dat die vervolging van Christene regoor die wêreld teen ʼn kommerwekkende tempo toegeneem het, veral in Afrika.
Die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, Lynette Leibach, het die volgende insigte oor die styging in vervolging en ons reaksie daarop gesê in ’n plasing op die sendingorganisasie se webtuiste.
“Liewe vennoot en vriend
“Vervolging neem voortdurend toe, maar dit behoort nie ʼn verrassing te wees nie, gegewe dit wat 1 Petrus 4:12 sê: ‘Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.’
“Hierdie verbysterende syfers en realiteit van geweld wat ons geloofsfamilie ervaar, is kommerwekkend. Dié tendense toon ʼn toename in die aantal Christene wat geraak word en in die vlakke van vervolging.
“Dit is hoekom ek dit nodig vind om die oorkoepelende Bybelse siening in gedagte te hou wanneer ek met dié inligting besig is. ‘Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie’ (Efesiërs 6:12). Dit is teen Satan, wat wil vernietig en oorheers.
“Dit kan ontmoedigend wees om na die Wêreldwaarnemingslys se statistieke te kyk, maar om terug te keer na 1 Petrus 4: ’Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle oorloop van vreugde by Sy wederkoms heerlikheid’ (vers 13).
“Ondanks vervolging word ons in dié lewe geroep om God te eer en te gehoorsaam. Só ek daag jou en myself dié jaar uit om bedag te wees op ons denke en optrede wanneer ons voor versoekings te staan kom. Só kan ons God eer en gehoorsaam.
“Laat ons ook bid vir ons geloofsfamilie wat deur vervolging in die gesig gestaar word. Kom ons kyk waar anders die Here ons vir Sy Koninkryk kan gebruik sodat ons kan deel in die verhaal van ons vervolgde familie. Saam met hulle kan ons help om die Koninkryk van God in van die donkerste plekke uit te brei.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 28/02/2024
Foto slegs ter illustrasie: opendoors.org.za
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









