Geskryf deur: Almarie du Preez
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Wanneer haar energieke, kleurryke en selfversekerde persoonlikheid by ‘n vertrek instap, sou jy nooit kon raai dat die sprankelende Musa Jakuja, vrou van Mzwandile, toegewyde ma van drie, besigheidsvrou met meer as 15 jaar se ondervinding as interne ouditeur, en aanbieder van die Kaapse Kansel 729AM-program Grace Upon Grace, eens as dogtertjie min selfvertroue gehad het nie.
Die slypskool van spottery
Haar eiewaarde is vroeg reeds uitgedaag deur die stemme van boelies wat haar lengte en diep stem gespot het. “As die langste meisie in die graad is ek in preprimêr ‘n kameelperd genoem. Die gespottery het my postuur beïnvloed en ek het probeer inpas deur my rug te buig om korter te vertoon. Saam met die aanmerkings oor my diep stem, het dit gelei tot ‘n gevoel van minderwaardigheid met ‘n onvermoë om my stem te laat geld. Min het ek geweet dat dit die slypskool sou wees sodat vertroue nie uit myself kon kom nie, maar geanker is in die Een wat vir my daardie stem gegee het, Jesus Christus. Deur my volwasse jare het God my gehelp om veerkragtig en vrymoedig te word en in vertroue saam met Hom te wandel.”
Pad van stemloos na vreesloos
Dit was nie ’n oornagreis nie. Musa het haarself begin inskryf vir kompetisies om haar selfvertroue ‘n hupstoot te gee. Vandag spog sy met haar eie YouTube-kanaal, All Things Musfabulous, en wend ook haar nuutgevonde stem aan as spreker en fasiliteerder by verskeie werskwinkels en funksies. En dan kom God en gebruik haar stem wat sy eens as ‘n swakheid beskou het as mondstuk om Hom te verheerlik as radioaanbieder op Kaapse Kansel 729AM.
Jou swakhede is dalk jou sterkste gawes
As onlange finalis van die Fabulous Women-toekennings, getuig Musa se lewensreis van volharding, geloof in God en die wete dat Hy juis dit wat ons as swakhede sien, tot sy eer kan omdraai in ons sterkste gawes. Vandag kan sy God hoor sê: “Ek sien jou, Musa. Ek het jou gekies, Musa. Ek het jou by die naam geroep, jy is myne. Ek het ‘n groot toekoms vir jou en dit is om jou voorspoedig te maak en nie om jou skade aan te doen nie. As daar iets gekom het om jou te benadeel, moet nie vrees nie, Ek sal dit omdraai tot jou beswil en tot my eer.”
Musa se bemoediging aan jou as leser
“Jy is genoeg, jy is wie God sê jy is, jy is uitgekies en bestem vir grootheid! Die gees van God woon binne jou, so wandel daagliks in sy Woord, dat jy ander kan bedien met ‘n vertroue dat Hy elke tree saam met jou loop. Jy is gemaak van ‘n onverganklike saad, daarom moet jy blom waar God jou geplant het.”
Kuier saam met Musa op GRACE UPON GRACE:
Maandae 18:00; Dinsdae 12:00 en Vrydae 22:00
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 21/10/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.