Geskryf deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Burkina Faso het die eerste nasie geword, behalwe Afghanistan of Irak, wat bo-aan die Global Terrorism Index se lys van toptienplekke is wat die meeste deur terrorisme geraak word. Verskeie jihadistiese groepe dryf die gewelddadige opstand wat baie volgelinge van Jesus gedwing het om hul huise in hierdie land te verlaat. Burkina Faso beklee tans die 20ste plek op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van die topvyftiglande met die ergste vervolging van Christene. Die land het een van die wêreld se ernstigste ontwortelingskrisisse – met meer as twee miljoen Christene wat uit hul huise gedryf is. Christene in Burkina Faso probeer om Jesus te volg al het hulle geen gevoel van veiligheid nie.

Die alledaagse lewe is uitdagend in ’n tydelike skuiling.

Gedwing om te vlug
Een van die mense wat vervolging eerstehands beleef het, is pastoor Soré. In Februarie 2023 het hy en sy gesin weggevlug van die jihadistiese opstand in Noord-Burkina Faso nadat hulle drie aanvalle op hul dorp beleef het. Die eerste keer toe pastoor Soré se dorp aangeval is, het ekstremiste die mense beroof. Die tweede keer het hulle die vroue verkrag. Die derde keer het hulle alles afgebrand. Toe weet hy hy het nie meer ’n keuse nie… “Wanneer die terroriste Christene vind, sê hulle vir hulle dat die tyd van Christenskap verby is,” sê hy. “Ons moes vlug om ons lewens te red.”

Alles agtergelaat
Pastoor Soré en sy vrou, Teresa, het ’n pragtige huis en florerende kerk agtergelaat en gevlug met hul twee kinders en 15 ander wat wees gelaat of in hul sorg toevertrou is. Ná vier dae op die pad was die groep te groot om in ’n kamp vir interne ontwortelde persone in te trek. Hulle het toe ’n skuiling op ’n verlate stuk grond opgerig.

“Ons was so hartseer toe ons by hierdie leë ruimte aankom,” sê pastoor Soré. Dit is 2km se stap na die naaste pomp met skoon water. In die reënseisoen spoel water deur hul tydelike tent, wat muskiete en slange lok. En in die somer is dit ondraaglik warm.

‘Jesus is altyd by ons’
Volgens pastoor Soré lei ontworteling tot ’n magdom probleme – en boonop lê dit ’n swaar las op die evangelis, wat die Evangelie wil deel, maar geen kerk het nie. “Ons is ontwortel, maar Jesus is nie en sal nooit uit ons lewens ontwortel word nie. Hy is altyd by ons. Hierdie waarheid versterk my geloof en help my in hierdie moeilike tyd,” sê pastoor Soré. “Ek vra God om deure vir my oop te maak om voort te gaan met evangelisasie. Ten spyte van ons ellendige toestand, bring Jesus steeds mense wat gered word.”
Hy voeg by: “Wanneer ek in die Bybel kyk, sien ek dat alle krygers uitdagings teëgekom het. Vandag is dit my beurt. ’n Belangrike waarheid oor lyding is dat dit nooit vir ewig is nie – maar Jesus is vir ewig.”

Vrygewige ondersteuning
Danksy die groothartige bystand van Geopende Deure en sy vennote, het pastoor Soré, Teresa en die 17 kinders nou kos, ondersteuning met hul boerdery en geloof. Die gebede en geskenke, wat saad en kunsmis ingesluit het om gewasse te kweek om die gesin te voed, het ’n reddingsboei aan hom verskaf toe gewelddadige vervolging hom en sy gesin uit hul dorp verdryf het. Die Geopende Deure-span besoek hulle nog gereeld.

Besoek opendoors.org.za om die vervolgde Kerk in Afrika suid van die Sahara te help versterk, en vir hulle te wys dat hulle nie alleen is nie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 20/10/2024
Foto’s verskaf: Pastoor Soré en sy vrou, Teresa, met hul twee kinders, Wenkun en Esther.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here