Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Vrydag, 17 November, het die Liberiese President, George Weah, sy neerlaag in die verkiesing aanvaar nadat voorlopige uitslae van Dinsdag se herstemming aangedui het dat die opposisiekandidaat (en voormalige vise-president), Joseph Boakai, hom met net meer as ’n persentasiepunt geklop het (50,89% teenoor 49,11%).
Vanjaar se verkiesing was die mees gelykop stryd sedert die einde van die burgeroorloë. In die vorige verkiesing ses jaar gelede, het die voormalige sokkerlegende, Weah, Joseph Boakai gemaklik in die tweede rondte met 62% van die stemme geklop. Toe Weah president geword het, was daar groot hoop onder Liberiërs dat hy toestande in dié Wes-Afrikaland sou verbeter, maar hy het ongelukkig nie aan sy verkiesingsbeloftes voldoen nie. Nietemin is dit beduidend dat hy sy neerlaag openlik aanvaar het, selfs voordat die finale amptelike uitslag aangekondig is – veral in ’n streek wat agt militêre staatsgrepe in die afgelope drie jaar beleef het, en waar presidente dikwels hul ampstermyne verleng en ware demokratiese waardes en praktyke ondermyn ter wille van hul eie belange. Vertroue in demokratiese verkiesings word verder ondermyn deur die tendens van bedrogbeskuldigings wanneer verkiesings wel plaasvind, waarvan die uitslae dikwels in die hof betwis word. Hy het sy ondersteuners en alle Liberiërs versoek om sy voorbeeld te volg en die uitslae te aanvaar. Boakai het die belangrikheid van “’n boodskap van vrede en versoening” wanneer sy regering aan die werk spring, beklemtoon.
Die nuwe president erf aansienlike nasionale uitdagings, insluitend hoë vlakke van armoede in ’n land wat steeds besig is om te herstel van twee burgeroorloë (1989-97 en 1999-2003), asook ekonomiese wanbestuur. Tog het die land ’n lang pad gekom sedert die wrede 14 jaar van gevegte wat gemeenskappe geteister en kinders gewerf en verniel het, en een van Afrika se sterker ekonomieë vernietig het (wat die werklike BBP tot ongeveer 40% van sy voor-oorlogse vlak verminder het). Die land se proses om die ekonomie weer op te bou, versoening van teenpartye te weeg te bring, en soldate in gemeenskappe te herintegreer, was uiters moeilik. Wydverspreide trauma het gemeenskappe bly affekteer, en frustrasie oor die gebrek aan ekonomiese verbetering onder die oorgangsregering wat korrup bevind is, het toegeneem. Ellen Johnson Sirleaf het in 2005 (tot 2017) by die oorgangsregering oorgeneem en die eerste vroulike president in Afrika geword. Sy is internasionaal as ’n Nobel-vredespryswenner, asook die eerste president wat die mag vreedsaam aan ’n ander verkose president oorgedra het, vereer. Tog het sy ongewild in haar tuisland geraak omdat sy slegs matige, inkrementele vooruitgang gemaak het toe van haar verwag is om ’n dramatiese ommekeer in die land te bewerkstellig, asook vir die voortgesette korrupsie onder haar administrasie. Joseph Boakai het as visepresident gedurende haar presidentskap gedien.
Op 2 November het INcontext oor sommige van die politieke uitdagings wat Afrika in die gesig staar, geskryf en gevra vir gebed vir naderende verkiesings in Afrikalande. Hierdie onlangse verkiesing is bemoedigend, en ons kan aanhou bid dat hierdie voorbeeld van agting vir demokratiese prosesse ook elders in Afrika nagevolg sal word. Op 19 November het verteenwoordigers van kerke, nasionale Christen-rade, teologiese- en lekeopleidingsinstellings, en ander Christen-organisasies uit 43 Afrikalande (wat lede van die All Africa Conference of Churches is), byeengekom in Abuja, Nigerië, vir die 12de Algemene Vergadering en die 60ste herdenking van die ekumeniese beweging. Hierdie jaar se tema was: “Die Liefde van Christus Dring Ons. 2 Kor. 5:14.” Die Wêreldraad van Kerke se algemene sekretaris, Eerw. Prof. Dr. Jerry Pillay, het die konferensie toegespreek en gesê: “Op die vasteland van Afrika sien ons beide die mooi van eenheid in diversiteit, en die uitdagings van verdeeldheid en tweedrag. Dit is hier, op hierdie vasteland, waar ons aan die wêreld die transformerende krag van versoening, die genesende balsem van eenheid, en die onwankelbare toewyding aan geregtigheid moet ten toon stel.” Terwyl hy die tema verken het, het hy aangedring daarop dat “Christus se liefde ons dring tot Christelike eenheid, om saam te werk as broers en susters in Christus om ’n gebroke en lydende wêreld te genees en met Hom te versoen.” Verder het hy gesê: “Tog bly kerke verdeeld as gevolg van teologiese en etiese kwessies, persoonlikhede en materiële sake.” Ons kan bid vir die Kerk in Liberië om verenig te wees in die vervulling van die mandaat wat Jesus Sy Kerk opgelê het, naamlik om dissipels te maak en hulle te leer om die Woord van God te gehoorsaam, wat ons weet ons harte, ons optrede, en gevolglik ook ons gemeenskappe kan transformeer.
Volgens die Joshua-projek identifiseer sowat 40% van die Liberiese bevolking as Christene (waarvan 11,66% evangelies is), maar daar is steeds 5 groepe wat nog nie met die evangelie bereik is nie (11,4% van die bevolking). Volgens Jerry P. Kulah van die Lausanne Movement sluit die land se Christelike erfenis oppervlakkige Christenskap, sinkretisme, en stilswye rondom immoraliteit, onderdrukking, korrupsie en marginalisasie in. Hy het getuig dat een goeie ding wat die Here uit die burgeroorloë laat voortkom het, was dat Liberiërs wat toevlug in ander lande, soos Nigerië, gesoek het, die geleentheid gekry het om gehalte teologiese opleiding te bekom en vaardighede op te doen op die gebied van sending, leierskap en ontwikkeling. ’n Gebedsversoek vir naoorlogse Liberië is vir sterk Christelike leiers in die Kerk en in die samelewing.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Dank die Here vir President Weah se reaksie op die verkiesings, en bid dat die nuwe regering met integriteit, wysheid, en nederigheid sal lei.
- Bid vir die land se ekonomiese ontwikkeling en vir voortgesette vrede, versoening, heling, en heropbou.
Bid vir goddelike leiers in Liberië, en dat die Kerk in Liberië volwasse, verenig, en proaktief in die deel van die Goeie Nuus van die evangelie sal wees.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 25/11/2023
Foto: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.