Geskryf deur: TWR-Africa
Artikelbron: Artikel verskaf

Moed, dissipline en vasberadenheid is wat Victor Kaonga saam met hom neem op sy weg as TWR se nuut aangestelde Bedieningsdirekteur vir Suidelike Afrika. Victor is egter geen nuweling by TWR nie! Hierdie aanstelling verteenwoordig nóg ’n stap in die voortsetting van ’n wel-deurtrapte pad vir hom.

Die weg is reeds gebaan

Victor het in ’n plattelandse plaasgemeenskap in Malawi se noordelike Rumphi distrik groot geword waar hy in Julie 1989 op ’n TWR uitsending in Chichewa ingeskakel het. As tiener het hy steeds ywerig na TWR se uitsendings vanaf Manzini, Eswatini geluister en gedroom oor ’n loopbaan in die media waarin hy die gemeenskappe van sy nasie deur radioprogramme kon toerus. In daardie jare was daar slegs één radiostasie en geen televisie in Malawi nie.

Tydens sy jare op hoërskool en universiteit, het hy waardevolle terugvoer op TWR se kortgolf uitsendings gelewer.

Na ’n soektog van twee jaar en ’n gewag vir ’n opening by Trans Wêreld Radio Malawi, kry hy in Augustus 1999 ’n internskap vir programvervaardiging en bestuur. Hy was verheug om deel te word van dié bekende radio bediening wat hom reeds soveel in sy dissipelskap gehelp het. Victor het ’n welkome deurbraak ervaar toe die regering aan TWR toestemming verleen het om ’n FM netwerk in Malawi op te rig. Hy is aangestel as Programbestuurder in 2003 en as Bedryfsdirekteur in 2010, en het daarbenewens ook as Waarnemende Nasionale Direkteur opgetree. In Januarie 2011 is hy aangestel as Nasionale Direkteur – ’n pos wat hy tot en met Desember 2022 beklee het.

Onder Victor en sy voorgangers se leierskap het TWR Malawi gegroei tot ’n landwye netwerk met dertien senders wat die hele land met Evangeliese uitsendings aan Malawiërs in hul moedertale dek.

Victor het ’n kwalifikasie in maatskaplike wetenskap van die Universiteit van Malawi verwerf en het gedurende sy TWR-loopbaan bykomende kwalifikasies in joernalistiek deur die Orebro Universiteit (Swede) en besigheidsadministrasie van die African Business Institute (Lilongwe) verwerf. Hierdie kwalifikasies bied ’n sterk grondslag vir sy bediening by TWR.

Vanweë Victor se liefde vir die radio dien hy steeds as aanbieder van ’n aantal programme. As skrywer is ’n aantal van sy artikels gepubliseer sowel as drie boeke: From a Listener to a Broadcaster (2016), Holy Sexual Intercourse (2019) en Kugonana Kopatulika (2021) – laasgenoemde in die Chichewa taal “In my grootword-jare op die platteland, was die radio vir ons gesin baie belangrik”, vertel Victor. “Ek moes verseker dat die radio in werkende toestand is. Ek, my twee broers en agt susters was baie lief vir radio. As eersgebore seun het ek dikwels saam met my tweelingsuster die kombuis binne gesluip, waar seuns, volgens tradisie, nie eintlik hoort nie. Ek het dus ’n sagte plekkie vir afgeremde vroue en meisies wat met afloop van my besoek aan Skandinawië aanleiding gegee het tot betrokkenheid by die stryd om geslagsgelykheid en waardigheid vir almal te besorg.”

Om sekere taboes en mites aangaande vroue in die samelewing aan te spreek, het Victor ’n radioprogram genaamd Bawoli Bane (My Vrou) geloods waarin sy vrou mede-aanbieder is. Victor het ook vroue aangestel om programme wat voorheen slegs deur mans bedryf is, aan te bied.

Gereed vir verandering in sy nuwe rol

“Ek wil TWR se bedieningsvennote in Afrika, asook nasionale vennote, inspireer om meer betrokke te raak by radio bediening,” sê Victor. “Ek wil meer inhoud vanuit Afrika bevorder en plaaslike produksies ondersteun. Dit sal ook van waarde wees as TWR meer radio-dramas en joernalistieke media produksies vervaardig wat aanklank by die jeug van Afrika sal vind. Hierdie style moet formate soos prediking en lering aanvul.”

Victor woon en werk vanaf Lilongwe, Malawi, vanwaar hy dan ook die bedieningswerk in Suidelike Afrika koördineer. Hy is getroud met Thembi, en hulle is geseën met drie dogters en ’n seun.

Bid asseblief vir wysheid en God se leiding in Victor se lewe. Bid vir Goddelike insig ten opsigte van luisteraars in Suidelike Afrika se behoeftes, en welke bedieningsgeleenthede voorkeur moet kry. Na aanleiding van sy passie vir die huwelik en gesinslewe vra hy dat u sal bid dat God Afrika sal help om die huwelik as instelling te koester en eerbiedig.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/04/2023
Foto: verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here