Artikelbron: adfinternational.org
Menseregtegroepe doen ‘n beroep op die Egiptiese regering om twee Christen-mans, Nour Girgis en Abdulbaqi Saeed Abdo, vry te laat. Dié mans word sedert 2021 sonder verhoor aangehou weens hul betrokkenheid by ’n Facebook-blad wat eks-Moslems wat Christene geword het, ondersteun. Owerhede het hulle verkeerdelik met terroriste-aktiwiteite verbind.
In November 2021 is Girgis, ’n werknemer by ’n farmaseutiese maatskappy, vir ondervraging na die polisiestasie ontbied, berig die Christelike voorspraakgroep, Alliance Defending Freedom (ADF) International. Hy is toe vir veertig dae lank aangehou sonder enige kommunikasie oor sy situasie. Daarna is hy na ’n selkompleks vir terreurverdagtes oorgeplaas. Daar is hy informeel daarvan beskuldig dat hy ‘n Facebook-groep genaamd “Al Abareen” lei, wat “oorsteek” in Arabies beteken Hy is ook beskuldig van godslastering teen Islam.
Girgis is herhaaldelik ondervra, verneder en fisiek gemartel sonder enige formele verhoordatum. Daarom is voldoende juridiese verdediging onmoontlik, sê Elizabeth Francis, die regsadviseur vir ADF International se Global Religious Freedom-span.
Saeed, oorspronklik van Jemen, is in Desember 2021 gearresteer vir aktiwiteite op dieselfde Facebook-groep asook vir openbare evangelisasiewerk. Saeed is na verskeie aanhoudingsentrums oorgeplaas en ly aan ernstige mediese probleme wat deur swak tronktoestande vererger is. Sy familie, insluitend ‘n seun wat tydens sy aanhouding gebore is, is slegs sporadies toegelaat om hom te besoek.
Albei mans se regstryd is gekenmerk deur voortdurende vertragings en uitstel van hul verhore, wat ADF International aangespoor het om hul sake onder internasionale aandag te bring. Die groep het die situasie by die Verenigde Nasies aangemeld en gesê Egiptiese owerhede het internasionale standaarde vir godsdiensvryheid en behoorlike proses oortree.
Voorvalle van Christelike vervolging in Egipte wissel van die teistering van Christen-vroue in die strate tot die uitsetting van Christelike gemeenskappe deur ekstremistiese Islamitiese skares. Christene word gewoonlik as tweedeklasburgers behandel.
Die Egiptiese regering praat positief oor die Christelike gemeenskap in Egipte. Die gebrek aan ernstige wetstoepassing en die onwilligheid van plaaslike owerhede om Christene te beskerm, laat Christene egter kwesbaar vir alle soorte aanvalle. Kerke en Christelike organisasies is beperk in hul vermoë om nuwe kerke te bou of maatskaplike dienste aan te bied.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 07/05/2024
Foto: adfinternational.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.