Geskryf deur: Rafa Oliveira Artikelbron: religionunplugged.com 

Sou jy die gemiddelde persoon vra wat by hulle opkom wanneer hulle aan ’n begrafnis- of gedenkdiens dink, twyfel ek of hulle woorde soos “bemoedigend” of “vreugdevol” sal gebruik.

Tog kon die gedenkdiens vir eerw. Tim Keller wat onlangs in New York gehou is, maklik so beskryf kon word. Daar is na eerw. Keller se gedenkdiens verwys as ’n “lofdiens aan God vir Tim Keller se lewe en bediening.”

Die diens, wat by die Sint Patrick-katedraal gehou en ook regstreeks op Keller se webwerf gestroom is, was nie ’n roudiens nie. Dit was eerder een van hoop en vreugde. Die diens was gewortel in danksegging, onbaatsugtigheid, vreugdevolle vertroue en, ja, feesviering.

Presies soos dit eerw. Keller se bedoeling was.

Eerw. Keller, die stigtersleraar van Redeemer Presbyterian Church, is op 19 Mei op die ouderdom van 72 aan pankreaskanker oorlede.

Eerw. Michael Keller het nie geskroom om die diens as ’n viering van sy pa se lewe te gebruik nie.

“Waarom is ons hier vanmiddag? Ná die dood van ’n Christen verenig ons om altyd twee dinge te doen,” het hy gesê. “Eerstens dank ons God vir sy lewe, vir God se goedheid deur hom aan ons te leen vir die jare wat ons saam met hom gehad het. Tweedens soek ons God se aangesig vir ons eie lewe, vir sy vertroosting en teenwoordigheid … Ons moet dit wat ons benodig by die Here kry, sodat ons kan voortgaan om ons lewens in hierdie wêreld met vertroue en met vreugde te lewe.”

Michael Keller het opgemerk dat sy pa sy eie gedenkdiens noukeurig beplan het. Hy het elke gesang self gekies en die volgorde van die gesange was eweneens doelbewus. Wyle eerw. Keller het ook ’n kort, geskrewe kommentaar vir elke gesang verskaf.

Daar is vyf gesange gesing, daar was vyf Skriflesings en selfs voorlesings uit C.S. Lewis se Weight of Glory en Mere Christianity. Dit het ook woorde van sy vrou, Kathy Keller, en hulle seuns ingesluit, saam met ’n preek wat deur ds. Sam Allberry gelewer is.

“Ek het elke gesang gekies, en daar is ’n sekere orde vir hulle,” het Timothy Keller as deel van die program geskryf. “Die eerste een, ‘Immortal invisible God only wise” is ’n grootse uitbeelding van wie God en sy karaktereienskappe is. Dit gaan eintlik alles oor God. Wie is Hy? En wat regtig interessant is, is dat sommige van die reëltjies hierin die belangrikste Christelike idees opsom. Ek het dit nog nooit beter opgesom gesien nie.”

Toe eerw. Keller sy gedenkdiens beplan het, het dit ook geblyk dat hy so min as moontlik van homself by die verrigtinge wou insluit. Dit wys hoe die diens die persoon van Timothy Keller weerspieël het.

Chris Whiftord en haar man, Tom, was deel van Redeemer. Sy het gesê eerw. Keller “het nie die aandag op homself gevestig nie.”

“Hy was baie ongemaklik om oor homself te praat,” het Chris Whitford aan Religion Unplugged gesê. “Hy het konsekwent vermy om persoonlike vrae te beantwoord. Hy het nooit oor homself gepraat nie, en hy het nooit na homself verwys nie. Hy het altyd net verwys na kulturele raakpunte wat vir almal gemeen was. Hy het homself nooit as ’n voorbeeld gestel nie. Hy het nooit die aandag op homself gevestig nie.”

Die gedenkdiens het oor meer as afsluiting gegaan en het ’n sekere feestelike stemming gehad – net soos ’n Christelike diens behoort te wees. Die Bybel is immers vol beelde van die dood wat iets is wat oorwin en mee weggedoen moet word. Teen die einde van Paulus se eerste brief aan die Korintiërs illustreer hy hierdie punt uitdruklik. Die verse van hoofstuk 15, wat tydens die diens voorgedra is, is vol woorde van oorwinning.

“Ons sal almal verander word,” skryf Paulus, “in ‘n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” (1 Kor 15:51-52)

Later, in dieselfde teksgedeelte, haal Paulus die Hebreeuse profeet Hosea aan: “Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”

As die Christen-man of -vrou hierdie woorde as waar beskou, is daar dan enige rede waarom ’n Christelike gedenkdiens soos eerw. Keller s’n nie ’n vreugdevolle element moet hê nie? Verder, is daar ’n rede waarom God ook nie die hooffokus van so ’n gedenkteken moet wees nie?

Kathy Keller het blykbaar gedink dat die antwoord op albei vrae ’n besliste nee is!

“Julle het dalk opgemerk dat dit nie die gewone soort gedenkdiens is nie,” het sy aan die aanwesiges gesê. “Dit is omdat Tim dit self geskryf het, net soos hy daarvan gehou het om begrafnisse vir ander mense te doen. Jy noem natuurlik die dooie persoon, maar praat dan oor die God voor wie daardie persoon nou staan.”

Vir die Keller-gesin het dit gelyk asof die beste manier om hom te eer, was om die God wat hy gedien het te eer – en dit te doen terwyl hulle terselfdertyd treur en juig.

“Julle ken daardie tonele aan die einde van flieks, soos aan die einde van Saving Private Ryan, waar iemand by die grafsteen van die oorledene met hulle staan en praat?” Kathy Keller bygevoeg. “Ek en Tim was altyd ongemaklik daarmee omdat die persoon nie eintlik daar is nie … Tim is by Jesus, genees, geliefd, meer lewendig en gelukkiger as wat hy ooit was. Hy is nie hier nie.”

Inderdaad, volgens die Christelike leer is eerw. Keller iewers oneindig beter as hier. Gevolglik het die Christen baie redes om selfs (miskien veral) by so ’n gedenkdiens bemoedig, hoopvol en bly te voel. Begrafnisse en gedenkdienste is tasbare voorbeelde van waar ’n Christen sy geloof kan uitoefen en rede vir vertroosting vind.

“Soos hierdie diens aangedui het, treur ons, maar ons treur met hoop,” het Michael Keller bygevoeg.

“Die rede hoekom ons groot hoop het, is dat my pa nou meer lewendig is as wat hy ooit was toe hy by ons was. En ons neem dit ter harte, sodat dit ons kan onderhou en ons vertroos.”

Kan Christene dit waag om fees te vier by ’n begrafnis- of gedenkdiens? Ek glo die antwoord is ’n besliste “ja”!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 01/09/2023
Foto: YouTube skermskoot

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here