Geskryf deur: Katelin van Zyl
Op Maandag, 21 Augustus, het Human Rights Watch (HRW) ’n verslag openbaar gemaak waarin “wydverspreide en sistematiese” vergrype deur Saoediese grenswagte teen hoofsaaklik Ethiopiese vlugtelinge, wat probeer om die grens tussen Jemen en Saoedi-Arabië oor te steek, gedokumenteer is.
Ethiopiese en ander Afrika-vlugtelinge en -migrante het onder geweervuur, kanonvuur en mortiere deurgeloop. Tussen Maart 2022 en Junie 2023 is honderde, selfs duisende, doodgemaak, terwyl baie ander beseer of aangehou is. Ander vergrype, wat straffeloos gepleeg is, sluit in verkragting en aanranding van diegene in Saoediese aanhouding. Baie migrante en vlugtelinge is ook binne Jemen deur beide die regering en die Houthi-gewapende groep mishandeling. Die netwerk van smokkelaars, mensehandelaars en owerhede wat in Jemen bedrywig is, maak lankal reeds misbruik van vlugtelinge en migrante. HRW berig oor ontvoerings, aanhoudings, fisieke mishandeling, afpersing en deportasie.
Vlugtelinge en migrante uit Oos-Afrika – hoofsaaklik Ethiopiërs van Tigrayse of Oromo-etnisiteit, maar ook Eritreërs en Somaliërs – probeer om Saoedi-Arabië via die “Jemense Roete” te bereik. Die roete, ook bekend as die “Oostelike Roete”, behels ‘n bootreis van Djiboeti na Jemen deur die Golf van Aden en dan oor land na Jemen se Saada-gebied wat aan die Jizan-provinsie in Saoedi-Arabië grens.
Twee “opslaankampe” wat na bewering deur die Houthi’s beheer word, huisves vlugtelinge aan die Jemense kant terwyl hulle voorberei om die grens oor te steek. Die bergagtige grens wat hulle moet oorsteek is na bewering besaai met landmyne, en grenswagte bedreig vlugtelinggroepe (wat wissel van ’n handjievol tot etlike honderde mense) met dodelike aanvalle en aanhouding. Ten spyte van ernstige risiko’s, wend sommige Oos-Afrikane verskeie pogings aan om die grens oor te steek.
HRW het gesê Saoedi-Arabië se poging om sy wêreldbeeld te verbeter deur in professionele gholf, voetbalklubs en eersterangse vermaak te belê, behoort nie die aandag weg te lei van die gruwelike misdade wat op sy grense teen mense gepleeg word nie. Saoedi-Arabië se wêreldwye aktiwiteite het meer as net sport en vermaak ingesluit. Dit het ook op diplomatieke inisiatiewe gefokus om konstruktiewe verhoudings, veral in die Midde-Ooste, daar te stel of te herstel.
Twee prominente ontwikkelings is die poging om verhoudings met Iran te normaliseer en vrede in Jemen te bevorder. Saoedi-Arabië was nog altyd ’n sleutelondersteuner van die Jemense regeringsmagte in die jarelange Jemense oorlog. Steun vir die Houthi’s deur streeksmededinger Iran, het die konflik tussen Saoedi-Arabië en Iran verder aangeblaas. Verlede week het Saoedi-Arabië nietemin Iran se minister van buitelandse sake vir die eerste keer in jare ontvang, waartydens die oorlog in Jemen een van die hoofbesprekingspunte was. Saoedi-Arabië het ook betrokke geraak in direkte gesprekke met Houthi-leiers, waarvan die mees onlangse in April in Sanaa (Jemen se hoofstad) was.
Ten spyte hiervan, plaas Geopende Deure Saoedi-Arabië 13de op die lys van lande waar dit die moeilikste is om ’n Christen te wees. Hoewel daar ’n klein aantal Saoedi-bekeerlinge tot die Christendom is, is die meerderheid migrante-werkers van Afrika en Asië of ander buitelanders. Daar word dikwels teen migrante-werkers uit Afrika en Asië gediskrimineer, hulle word uitgebuit, en swak betaal as gevolg van hulle etnisiteit en Christelike geloof. Selfs al word hulle beskou as arm, eenvoudig en verdruk, weet ons dat hulle “ryk” en geseënd is as gevolg van die skat wat hulle in Christus het (Jak. 1:9; Kol. 3:2-3; Matt. 13:44; 2 Kor. 4:7; Ef. 1:18; Ef. 3:16-19; Matt. 6:19-21; Rom. 11:33). Die wêreldwye Kerk kan bid dat hulle die moed sal hê om uit te reik en die hoop van die Goeie Nuus sal deel, en vir sagte en vatbare harte onder diegene wat nog nie vir Jesus ken nie.
Daar woon ook ’n aansienlike aantal Afrika-gelowiges in Jemen wat minder gevaar loop om vervolg te word vir hulle geloof as plaaslike Jemeniete, maar wat ander moeilikhede soos geweld en humanitêre uitdagings moet trotseer. Jemen is derde op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys en Christen-bekeerlinge loop die risiko om doodgemaak te word. Baie Jemense Christene ontvang geen noodbystand om hulle te help om die humanitêre krisis te oorleef nie, aangesien dit meestal deur moskees en plaaslike Moslems uitgedeel word wat dikwels selektief is oor wie hulp mag ontvang. Die wêreldwye Kerk kan bid dat God in al die behoeftes van die Jemense gelowiges wat op Hom vertrou, sal voorsien. Die Kerk kan ook roep tot God namens hulle wat baie waag in die hoop om veiligheid en ’n beter toekoms te vind – dat, selfs al bied die wêreld nie dit waarna hulle soek nie, hulle sal vind dat Jesus ware vrede, skuiling en ’n ewiggeborge toekoms bied vir hulle wat Hom soek en hulle vertroue in Hom plaas.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat daar ’n einde sal kom aan die doodmaak, uitbuiting en mishandeling van Afrika-vlugtelinge en -migrante wat straffeloos aan beide kante van die grens plaasvind;
- dat Saoedi- en Afrika-gelowiges bemoedig en aangespoor sal word om, selfs wanneer hulle so sleg behandel word, getrou in Saoedi-Arabië te dien, en dat hulle vir hulle vervolgers sal bid en sal uitreik na diegene wat nog nie vir Jesus ken nie; en
- dat Jehova Jireh (God sal Voorsien) sal voorsien in die behoeftes van Jemense gelowiges en sal voortgaan om Sy Kerk in Jemen te bou.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 01/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.