Geskryf deur: Mdzananda-dierekliniek Artikelbron: Artikel verskaf 

Die tienjarige Andiswa Kwele word deur die personeel van die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha as held beskou. Andiswa het van die skool af huis toe gestap toe sy ’n klein hondjie op die sypaadjie sien. 

“Baie mense sou net verbystap,” sê Marcelle du Plessis, die fondsinsamelings- en kommunikasiebestuurder, “maar hierdie kind het die hondjie opgetel en tot by Mdzananda geloop om hom te help.” 

Die hondjie, drie dae oud, is dadelik in ’n kombers toegedraai, met ’n warmwaterbottel warm gemaak en met ’n bottel melk vir babahondjies gegee. 

“Ek was so trots op hierdie jong meisie,” het Heidi May, die hoofbestuurder, gesê. “Om te sien hoe kinders op hierdie manier optree, is ’n aanduiding dat ons opvoedingsprogramme werk.” 

Die dierekliniek lê sterk klem op gemeenskapsopvoeding met ’n verskeidenheid van programme, insluitend opvoeding by die dierekliniek, deur-tot-deur-onderwys, skoolklasse en geleenthede in vennootskap met ander organisasies. 

“Ons is trots om aan te kondig dat ons toestemming gekry het om by vier skole onderrig oor diere aan te bied in die lewensoriënteringklasse. Ons het hierdie klasse aan die begin van hierdie skoolkwartaal begin en sal in die res van die jaar daaraan werk om meer skole te betrek,” sê mev. May.

In Julie het hulle opvoedkundige geleenthede in Macassar en Gugulethu aangebied en drie dae per week deur-tot-deur-onderrig in Khayelitsha gedoen. 

“Ons glo dat ’n gemeenskap wat lief is vir diere ’n gesonde gemeenskap is en dat ons deur ons opvoedkundige en gesondheidsorginisiatiewe help om ’n gemeenskap te skep wat deernis het vir diere en vir hulle omgee,” sê du Plessis.

Die hondjie, wat nou Jelly Bean genoem word, doen baie goed en word deur een van die kliniek se veeartse versorg totdat hy gereed is om aangeneem te word. 

Oor Mdzananda Dierekliniek (www.mdzananda.co.za)
Die Mdzananda-dierekliniek is ’n permanente, geregistreerde, NPO-dierekliniek en -skuiling in Khayelitsha, ’n township net buite Kaapstad. Die werklikheid is dat daar bykans een miljoen mense woon en ’n geskatte 300 000 troeteldiere in die gemeenskap is. Die kliniek help per maand meer as 1 500 diere deur konsultasies, hospitalisasie, algemene en ortopediese operasies, deurlopende sterilisasies, mobiele klinieke, ’n diere-ambulans en ’n troeteldierskuiling vir hawelose diere. Mdzananda het ‘n sterk fokus op gemeenskapsbemagtiging en opvoeding om verantwoordelike troeteldiereienaarskap in die toekoms te verseker. 

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 09/08/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here