Artikelbron: Artikel verskaf
“Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.” sê God deur die profeet Jesaja en gebruik juis ’n moeder se liefde om Sy liefde aan ons te verduidelik.
Dit is hierdie moederliefde wat daartoe gelei het dat Melissa Swart haar eie droom, om in die einste katedraal te gaan sing waar Puccini sy kerkmis geskryf het, op die lange baan geplaas het…
Wanneer die mooie Melissa Swart sing, roer dit ’n mens, nie net omdat haar stem so lieflik en helder is nie, maar omdat dit duidelik ’n Godgegewe gawe is en sy in harmonie met God se unieke skeppingsdoel vir haar is.
Aanbidding
Sy sing al vandat sy ses jaar oud is en het in ’n kindersanggroepie gesing wat destyds saam met haar ma, Wanda Bam (voormalige sanger en tans die stasiebestuurder van Radio Kaapse Kansel), opgetree het.
“Ek was so tuis op die verhoog soos ’n vissie in die water en het elke kans wat ek gekry het om te sing, benut,” vertel sy.
Haar lewe is inderdaad vol melodie – sy het toe sy 13 jaar oud was, die aanbidding by Moreleta Kerk begin lei en is tans deel van die aanbiddingspan by Kaleido-gemeente in Kemptonpark.
Musiekblyspele
Die mamma van twee het musiekteater gaan swot en het reeds hoofrolle in verskeie professionele musiekblyspele vertolk.
Jesus die musiekblyspel
Sy het haar eerste rol in ’n groot musiekblyspel, “Ester”, losgeslaan en die rol van koningin Vasti vertolk. Daarna was sy saam met Retief Burger in die musiekblyspel “Dawid”, waar sy die rol van Batseba vertolk het. Sy het ook saam met Heinz Winckler in “Jesus – die musiekblyspel” opgetree toe sy die rol van Jesus se ma, Maria, vertolk het.
Dawid die Musical
NOU HET HIERDIE TALENTVOLLE VROU JOU HULP NODIG.
Sy is een van slegs 38 uitgesoekte koorlede van die tweede beste kamerkoor ter wêreld, Akustika.
Die koor gaan in Maart in Luca, Italië, weer aan die uitgesoekte internasionale wêreldkoorkompetisie, Vox Lucensis Concorso Corale Internazionale, deelneem.
Melissa en die Kaleido-aanbiddingspan
Hoewel Melissa gespaar het en getrou haar deel gedoen het sodat sy kan saamgaan, het die noodlot haar gepootjie. Sy en Tertius het destyds amper hulle kosbare seuntjie Xavier in sy eerste paar lewensmaande verloor. Weens daardie traumatiese eerste paar maande moes hy nou behandeling vir sy tande ontvang en het Melissa gedoen wat enige mamma in haar skoene ook sou doen – sy het haar gespaarde toergeld gebruik om die mediese rekeninge te help betaal.
Saam met Capital Singers
“Ek het die afgelope ses maande gespaar, maar weens die lewe se onvoorspelbaarheid kon ek nog net R30 000 betaal – die helfte van my gelde.” Sy oefen die afgelope ses maande lank elke Maandagaand drie ure lank saam met die res van die Akustika-koor aan die stukke wat hulle in Luca, Italië gaan opvoer.
Oorweeg dit asseblief om ’n bydrae te maak – hoe groot of klein ook al – en help hierdie talentvolle Christen-sanger om haar roeping en droom te vervul!
Klik op hierdie backabuddy-skakel en maak ’n donasie www.backabuddy.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/02/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.