Geskryf deur: Errol Naidoo
Artikelbron: www.familypolicyinstitute.com
Politieke partye is hard besig om hulle voor te berei vir die algemene verkiesing op 29 Mei. Dit beteken dat verskeie stukke wetgewing wat nog nie gefinaliseer is nie, sal moet wag totdat die sewende parlement in Junie verkies word.
Sommige van die ANC-regime se mees omstrede beleid is deur die parlement gefinaliseer en aan president Cyril Ramaphosa gestuur om as wet bekragtig te word. Dit sluit in die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekeringswet” (NGV), die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette (“die GILAB”) en die Oneieningswetsontwerp wat grondonteiening goedkeur sonder dat enige vergoeding betaal word.
Die populistiese NGV- en Onteieningswetsontwerpe is deur die ANC-meerderheid in die parlement gefinaliseer sodat dit gebruik kan word om die kiesers te mislei met valse beloftes van “grond vir die mense” en “uitstekende gesondheidsorg vir almal”. Die regerende party se rampspoedige rekord van onbeteuelde korrupsie, growwe wanadministrasie en onbevoegdheid maak enige belofte leeg.
Meer belowend is dat verskeie skadelike stukke wetgewing nie gefinaliseer is voordat die parlement sy werksaamhede gestaak het nie. Dit sluit in die voorgestelde nuwe Huwelikswet wat poog om die man-vrou-huwelik in die wet te herdefinieer, die Wysigingswetsontwerp op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede wat die hele seksbedryf sal wettig, die BELA-wetsontwerp wat staatsbeheer oor onderwys uitbrei, die Wetsontwerp op Haatmisdade en Seksuele Oriëntasie en Gender-identiteit-beleid.
Christen-burgers moet vurig bid vir die nasie in aanloop tot die algemene verkiesing. Suid-Afrika is voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 deur soortgelyke ernstige uitdagings in die gesig gestaar. Kerkleiers het Christene geroep om te bid en in te tree vir die vrede van Suid-Afrika. God het ingegryp en ons demokrasie is op 27 April 1994 gebore in ’n vreedsame verkiesing.
Ons moet egter nie daar stop nie. Christen-burgers moet bid en optree vir verandering. Die bewyse is oorweldigend, die ANC-regime het die nasie tot op die randjie van ineenstorting gebring. Algehele korrupsie, diefstal, bedrog, geldwassery, growwe onbevoegdheid en die vernietiging van kritieke staatsondernemings het die land gevaarlik naby aan mislukte staatstatus gebring.
Die ANC-veteraan Nosiviwe Mapisa-Ngakula se arrestasie vir omkopery en korrupsie bewys weer die regerende party kan nie vertrou word om te regeer nie. Byna 100 ANC-kaders wat by ernstige korrupsie geïmpliseer is, is ingesluit in die ANC se kandidate-herverkiesingslys. Pres. Ramaphosa beweer herhaaldelik dat die regering “korrupsie bekamp”, maar kan nie geloofwaardige bewyse verskaf nie.
Die ANC het eiehandig Suid-Afrika se ekonomie vernietig en werkloosheid aangevuur. Dit het Eskom afgetakel – wat besighede van betroubare energievoorsiening ontneem. Asof dit nie genoeg was nie, het die ineenstorting van die SAL en Transnet die vermoë van sakeondernemings om sukses te behaal, verder ondermyn. Skokkend genoeg is 247 besighede aan die begin van 2024 in Suid-Afrika gelikwideer.
Die verergerende waterkrisis lig net die ANC se onvermoë om te regeer uit.
Benewens om vir Suid-Afrika se herlewing te bid, moet elke Christen-kieser op die verkiesingsdag hul stembrief uitbring. As jy nie stem nie, verseker jy dinge bly dieselfde. Politieke partye het hul manifeste gepubliseer waarin hul beleidstandpunte oor sleutelkwessies uiteengesit is. Die ANC-, EFF- en MK-partye kan nie oorweeg word nie weens hulle korrupsie-besmette rekords.
Dit beteken ek en jy moet vir ’n politieke party stem wat moontlik ’n regerende koalisie van nasionale eenheid kan vorm en die ANC se bewind van misdadigheid en vernietiging kan beëindig. Elke party se manifes is ’n gids tot sy beleidstandpunte. Lees dit asseblief noukeurig deur. Ons moet volgens ons waardes stem, maar ook strategies om ons nasie te red.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het data uitgereik wat aandui dat politieke partye R437 miljoen se skenkings ontvang het om hul verkiesingsveldtogte te finansier. Die Politieke Party Donasies-paneelbord is insiggewend. Dit openbaar die bedrae wat elke party ontvang het en van wie. Skenkings van groot skenkers is ’n redelike aanduiding van die vertrouevlakke in nuwe en gevestigde politieke partye.
Daar is net agt weke oor tot die verkiesingsdag. Suid-Afrika staan weer eens by ’n kruispad. Die keuses wat ons op 29 Mei maak, sal die land se koers bepaal. Daarom is volgehoue en vurige gebed van kritieke belang. Ons moet ons vertroue in God plaas om ons nasie te red. Politieke partye kan ons nie red nie. Net God kan. Bid dus vir Suid-Afrika en stem vir verandering op 29 Mei.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 10/04/2024
Foto slegs vir illustratiewe doeleindes. Kunswerk aangepas vanaf www.freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.