Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

In die kantoor van die Far East Broadcasting Association (FEBA) Korea is daar ’n muur vol handgeskrewe briewe van Noord-Koreaanse luisteraars af. Dit is deur sendelinge uitgesmokkel en elke brief vertel ’n verhaal van lyding en nuwe hoop. “Gooi asseblief ’n reddingsboei om ons te red…”, lui een brief. ’n Ander een sê: “[FEBA] Korea is die vuurtoring wat my hart verlig het. My gesin is deur FEBA Korea se uitsendings na die Here se waarheid gelei.”

Vervolg vir hulle geloof
Noord-Korea is bo aan Geopende Deure se Wêreldwaarnemings-lys as die ergste plek ter wêreld om ’n Christen te wees. Christene word swaar vervolg en dit is uiters moeilik om die Evangelie die land in te neem. Dit was egter nie altyd die geval nie. Voor 1945, toe Noord- en Suid-Korea nog verenig was, was die noorde bekend as die “Jerusalem van die Ooste”. Daar was ongeveer 2 850 kerke en meer Christene as in die suide van die land. Wat het gebeur?

Die verdeling
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Amerika en die Sowjetunie Korea op die 38ste breedtegraad verdeel. Die verdeling is in 1948 permanent gemaak. Kim Il-sung, ’n voormalige kommunistiese guerrilla en Kim Jong-un se oupa, het die eerste premier van die Demokratiese Volksrepubliek van Korea in die noorde geword. In 1950 het Noord-Korea probeer om Suid-Korea binne te val en oorlog het uitgebreek. Sowat 2,5 miljoen mense het gesterf. ’n Skietstilstand is in 1953 onderteken, maar die oorlog is tegnies steeds aan die gang, met albei lande op permanente gereedheid. Die gedemilitariseerde sone (DMS) tussen hulle is die mees versterkte grens ter wêreld. Die Noord-Koreaanse regering gebruik die bedreiging van konflik teen sy eie mense. Hy gebruik dit as ’n verskoning om ten alle koste geld in die wapenprogram te stort en om onskadelike dade in hoogverraad te verander en swaar strawwe te regverdig. Jy is ’n verraaier as jy ’n Christen is.

Die huidige stand van sake
Volgens Geopende Deure Amerika beskou die Kim-dinastie Christene as “die gevaarlikste politieke klas van mense”. Die vervolging is genadeloos. Die Amerikaanse staatsdepartement het onlangs ’n verslag oor godsdiensvryheid in Noord-Korea gepubliseer wat melding maak van ’n geval waar ’n hele gesin, insluitend die tweejarige kind, tot lewenslange tronkstraf in politieke tronkkampe gevonnis is vir die besit van ’n Bybel. Die verslag noem teregstelling, marteling, arrestasie en fisieke mishandeling as van die strawwe wat opgelê word vir enige godsdienstige aktiwiteite wat buite staatsbeheer uitgevoer word. Die Kim-gesin word voorgehou as godagtige wesens wat aanbid moet word. Tog is daar na raming 400 000 Christene in Noord-Korea. Sowat 70 000 van hulle is in gevangeniskampe. Daar is ’n paar geregistreerde kerke, maar hulle word streng deur die staat beheer en dien meestal as “vertoonstukke” vir toeriste.

Die uitdagings van die lewe
Godsdiensvervolging is nie die enigste ellende waaronder die Noord-Koreane gebuk gaan nie. Aan die begin van die Covid-pandemie het die land sy grense gesluit, beide vir mense en goedere. Bronne het die BBC vertel van die verskriklike toestande wat mense elke dag moet trotseer. “Een misstap en teregstelling is jou voorland,” het een gesê. “Die voedselvoorraad is so laag dat mense begin sterf het,” sê ’n ander. Kim Jong-un het aan die einde van 2020 ’n wet goedgekeur wat dit strafbaar met die dood maak as iemand buitelandse materiaal – of dit nou liedjies, reekse of rolprente is – met ander deel. Noord-Koreane word verbied om selfs met enigiemand buite die land te praat.

Radio steek die grense oor
Noord-Korea is amptelik gesluit vir die Evangelie. Soos FEBA Internasionaal se president en HUB, Ed Cannon, dit egter stel: “Radio laat hom nie stuit nie.” Radiogolwe kan gaan waar mense nie kan nie en deur die pogings van FEBA Korea, bereik die “verbode hoop” van die Evangelie Noord-Korea ondanks byna ondeurdringbare grense.

FEBA Korea – die noorde word bereik
FEBA Korea saai sedert 1956 na Noord-Korea uit. Dekades lank word radio’s die land ingesmokkel of met heliumballonne oor die grens gestuur. “Talle sendelinge, insluitend FEBA, het tienduisende AM-radio’s die land ingesmokkel. Mense wat oorgeloop het na Suid-Korea vertel dat AM-radio ’n doeltreffende manier is om die Evangelie te verkondig,” sê Ed Cannon.

Waar geen mens kan gaan nie
Vandag bedryf FEBA Korea ’n 250 000-watt-stasie op Daebu-eiland, net suid van die DMS. Dit is sowat vyf keer sterker as enige stasie in Amerika en kan die hele Noord-Korea bereik. Vlieëniers berig selfs dat hulle ’n sterk sein optel wanneer hulle oor die land vlieg! Die stasie saai 18 uur per dag uit. FEBA Korea het Noord-Koreaanse oorlopers aangestel om hulle te help om programme te ontwikkel wat spesiaal vir die Noord-Koreaanse luisteraars aangepas is. Noord-Koreaanse aanbieders kan persoonlike ervarings deel en die Evangelie op ’n toeganklike manier oordra aangesien hulle die kenmerkende Noord-Koreaanse dialek praat. “Wanneer iemand verstaan waardeur hulle gaan, vir hulle sê dat daar hoop is in Christus en dat Hy hulle kan verlos ongeag die situasie waarin hulle hul bevind, kan hulle dit glo,” sê Cannon.

Dra vrug
Danksy die briewe in FEBA Korea se kantoor, weet die organisasie dat sy pogings vrug dra. Mense hoor die Goeie Nuus en die luisteraars hou daaraan vas as ’n bron van hoop en vrede. Soos een luisteraar geskryf het: “Ek was gebreinspoel dat daar geen God is nie. Hoe meer ek egter na [FEBA] Korea geluister het, hoe meer wou ek van Jesus Christus weet en hoe om vrede in my hart te ervaar.” Stel jou voor dat jy in ’n samelewing woon waar selfs net om na ’n lied te luister, jou in die tronk kan laat beland; waar die lug swaar is van die voortdurende vrees vir die dood. Stel jou voor dat jy oor die radio, wat gewoonlik skrikwekkende propaganda uitsaai, hoor: “God het jou lief en daar is hoop.” Dit is die boodskap wat FEBA wêreldwyd sal aanhou uitsaai totdat almal gehoor het.

VAT HANDE MET FEBA
Indien jy ’n skenking vir hierdie lewensveranderende projek wil maak, besoek asseblief ons webwerf
febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 07/10/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here