Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: incontextinternational.org  

Die Keniaanse polisie het op Dinsdag 25 April berig dat die soektog na liggame sowel as oorlewendes
in ’n bos naby die dorp Malindi in die ooste van Kenia voortduur. Daar word vermoed dat die
slagoffers deel is van ’n sekte. Hulle leier het na bewering sy volgelinge oortuig dat om ’n
hongerdood te sterf daartoe sal lei dat hulle hemel toe gaan om “Jesus te ontmoet”.

Die Keniaanse polisie het verlede week ’n volskaalse ondersoek na die Good News International
Church en die leier, (Paul) Mackenzie Nthenge, gelas nadat die eerste lyke (wat tans op 89 staan) in
vlak grafte in die Shakahola-woud gevind is. Sommige van die 29 volgelinge wat lewend in die bos
gevind is, is na die hospitaal geneem, maar daar word gevrees dat daar nog volgelinge in die bos
wegkruip in ’n poging om “tot die dood toe te vas”, aangesien tot 112 mense as vermis by die
Keniaanse Rooi Kruis aangemeld is.

Sommige van dié wat gevind is, weier steeds om te eet, vasberade om vir hulle geloof te sterf. Daar
is ook berigte van ouers wat hul kinders van honger laat sterf het. Hierdie voorval het wydverspreide
reaksie uitgelok, veral in hierdie land met ’n Christen-meerderheid. Die regering beskou dit as ’n
teken dat groter beheer oor godsdienstige denominasies nodig is en dat daar opgetree moet word
teen pastore wat sektariese bewegings lei en by misdade betrokke is.

Volgens nuusbronne is Nthenge gearresteer nadat hy homself oorgegee het. Hy word daarvan
beskuldig dat hy plaaslike inwoners gemanipuleer het deur verdraaide, ekstremistiese godsdienstige
leringe te verkondig en ’n vrees vir die onbekende in hul soeke na verlossing uitgebuit het. Dit het
tot die dood van baie gelei.

Hoewel hierdie gebeure geweldig tragies is, behoort die kerk nie verbaas te wees nie aangesien die
Bybel volgelinge van Christus teen dwaalleer waarsku. Jesus sê in Mattheus 24 dat daar baie vals
profete sal wees namate ons die eindtyd nader, en dat “daar baie valse profete sal kom en hulle sal
baie mense mislei.” (v.11)

Kort voor hierdie gebeure het die stigter en leier van die Nuwe Jerusalem-sekte in Kenia in Maart
baie publisiteit verkry deur te beweer dat hy Jesus Christus is. Dit het daartoe gelei dat sommige
Keniane hom wou kruisig om die geldigheid van sy bewerings te toets. Weereens word die Kerk
vooraf gewaarsku in Mattheus 24:24-25: “Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en
hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te
mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.”

Vals leringe kom natuurlik wêreldwyd voor en neem byvoorbeeld die vorm van ’n
voorspoedsteologie of ’n persoonlikheidskultus aan. Die Kerk word gereeld gewaarsku om te waak
teen enigiemand wat ’n ander evangelie verkondig as die Evangelie van die Bybel, wat die enigste
Evangelie is waardeur ons gered kan word (Kol 2:8; Gal 1:6-9; Joh 14:6). Namate ons geestelik meer
volwasse word, behoort ons ook te groei in ons vermoë om te onderskei wat vals is omdat ons die
waarheid ken (Ef 4:14-15).

Baie ongelowiges mag dalk na hierdie gebeure verwys as ’n bewys van die dwaasheid van
Christenskap, terwyl ander dalk weer verward mag wees. Hierdie negatiewe gebeure kry dikwels
meer publisiteit as die goeie dade en goddelike vrug van getroue volgelinge wat aan Christus
gehoorsaam is. Daar word in Mattheus 24:47 aan ons gesê dat die wat getrou en verstandig is, besig
moet wees met wat die Here ons gegee het om te doen. Om ons geloof in werke om te sit, word nie
gedoen om die lof van mense te verkry nie, maar om die Here te behaag. Ons word egter beveel om
ons lig so voor die mense te laat skyn, dat hulle ons goeie werke kan sien en ons Vader wat in die
hemel is, sal verheerlik (Matt 5:16). Mag ons altyd daarop fokus om Christus te eer deur die manier
waarop ons lewe (1 Kor 10:31), aangesien Hy kan sien wat die wêreld nie sien nie (1 Kor 15:58) en
selfs as die wêreld ons goeie werke sien, kyk God na die hart waarmee ons doen wat ons doen (1
Sam 16:7).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat diegene wat mislei is deur leringe wat nie die ware evangelie is nie se geestelike oë
geopen sal word vir die waarheid van die Woord van God en dat hulle waarlik vrygemaak sal
word,
• vir wysheid vir die leierskap van die Kerk oor hoe om vals leringe te hanteer en dat gelowiges
geestelik volwasse sal word sodat hulle sal kan onderskei wat vals is deurdat hulle die
waarheid ken, en
• dat die Kerk nie oorweldig sal voel deur die boosheid in die wêreld nie, maar daarop sal
fokus om Christus te volg en die goeie werke te doen wat God voorberei het vir ons om in te
wandel.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here