Saamgestel deur: Lourieke Haller
As Christene is ons lief vir die gesange en psalms wat die Woord van God in ons harte vaslê en daar sal altyd ’n belangrike plek vir hulle wees, maar met ons Godgegewe kreatiwiteit, sal ons ook voortdurend nuwe maniere uitdink om aan ons aanbidding van God uiting te gee.
Met hierdie artikel roep ons graag van die eerste groepe in herinnering wat ons bekendgestel het aan ’n heel nuwe manier van aanbidding. (Ons sal in een van ons volgende uitgawes apart aandag gee aan ons eie Afrikaanse aanbiddingskunstenaars se bydrae.)
SCRIPTURE IN SONG DAVID EN DALE GARRATT
Die egpaar, David en Dale Garratt, is veteraan- Christen-musiekkunstenaars van Nieu-Seeland. David het die weg gebaan vir duisende aanbiddings-kunstenaars. Hulle eerste Scripture In Song-plaat is in 1968 uitgereik en talle ander het gevolg. Hulle album, Praise the name of Jesus (1974) was ses maande lank boaan die Britse trefferlyste. In 1979 het hulle Strings of Praise uitgereik, hulle eerste instrumentale album, en in dieselfde jaar hulle eerste musiekboek getiteld Songs of Praise. Dit was ’n samestelling van liedjies wat in daardie stadium gewild was binne die charismatiese beweging. Hulle is steeds betrokke by aanbidding en opleiding van aanbiddingsleiers.
THE FISHERFOLK
Die gemeenskap is gestig in Houston, Texas deur eerw. Graham Pulkingham. Hulle sending-aanbiddingstoere was ’n vroeë deel van die charismatiese beweging binne die liturgiese Christendom. Van hulle bekendste liedjies is “The butterfly song”, “O clap your hands, all you people”, “I am the bread of life” en “We really want to thank you, Lord”. Hulle eerste album was Celebrate the feast (1974) met nog 27 wat gevolg het tot 1987 met die album, Songs in the night.
BILL EN GLORIA GAITHER
Daar is baie min mense wat Christen-musiek so beïnvloed het soos Bill en Gloria Gaither wat byna 60 jaar lank al in die Christen-musiekbedryf betrokke is. Hulle is nie net Christen-musiekkunstenaars nie, maar is liefhebbers van gesange wat baie van die ou liedere weer gewild gemaak het. Hulle het ook talle geliefde aanbiddingsliedjies geskryf, insluitend “He Touched Me”, “The King is Coming” en “Because He Lives”. Enigiemand wat die ou gesange geniet, het waarskynlik ingeskakel vir ’n Gaither-homecoming-konsert of twee. Bill is ook bekend vir sy optredes as deel van die Gaither Trio en die Gaither Vocal Band.
MARANATHA SINGERS
Wie van ons het nie die goue oues van die Maranatha Singers se Praise-reeks gesing nie? Liedjies soos: “He has made me glad”, “I want to know you, Lord”, “As we gather”, “As the deer”, “Come, just as you are”, “Father, I adore you” en soveel meer van hierdie geliefde aanbiddingsliedere wat so maklik is om te sing en om te onthou. Maranatha! Music is in 1971 deur Chuck Smith sr. as ’n bediening van Calvary Chapel gestig om die “Jesus music” te bevorder wat sy jong hippie-volgelinge oral langs die Kaliforniese kus geskryf en gesing het. Die Praise-reeks maak sy debuut in 1974 met Praise 1: The Praise Album en sluit dit af met Praise 20: Who Is Like the Lord in 1999.
VINEYARD WORSHIP
Vineyard Music is in 1985 deur die Vineyard-kerk ontwikkel toe die kerk sy eie aanbiddingsliedjies begin skryf het. John Wimber het toe Mercy Records gestig wat later Vineyard Worship geword het. Hulle albums het Songs of the Vineyard 1 – Hosanna tot Songs of the Vineyard 12 – Lord over all
ingesluit. ’n Britse tak van die platemaatskappy, genaamd Vineyard Records, se musikante sluit onder andere in Kathryn Scott, Brenton Brown, Brian Doerksen, Andy Park, Jeremy Riddle, Kevin Prosch en Sara Brusco. Winds Of Worship Live from Anaheim was baie gewild en het ongeredigeerde opnames van
aanbiddingsessies gehad wat te midde van ’n hele week van bediening en onderrigsessies plaasgevind het. Gewilde liedjies sluit in: “All heaven declare”, “Come, now is the time to worship”, ”Blessed be the name of the Lord” and “Your love is amazing”.
MORNINGSTAR
MorningStar is die aanbiddingspan en -reeks vir die Morningstar-kerk in Noord-Carolina, gestig deur Rick en Julie Joyner in 1985. Don Potter en Leonard Jones het ’n veelsydige aanbiddingspan wat gemaklik daarmee is om vrylik te improviseer tydens aanbidding. Die liedjies, gewoonlik geskryf deur lede van MorningStar, is op Bybel-gedeeltes gebaseer en sluit MorningStar-gunstelinge in soos “Come, come, come” en “In the Spirit”. MorningStar het sewe CD’s uitgereik vanaf hulle eerste Heart of David-konferensie (1996) wat gevolg is deur gunstelingalbums soos Warfare (1996), Prepare the way (1997) en In the Spirit (1998). Hulle is bekend vir ’n sterk profetiese invloed in hul aanbidding en het gehelp om die kontemporêre aanbiddingsbeweging te laat opvlam.
HILLSONG
Hillsong Worship, ’n lof- en aanbiddings-kollektief van Sydney, Australië en Orange County, Kalifornië is in 1983 gestig. Hulle het hul eerste album, Spirit and Truth, in 1988 uitgereik. Show Your Glory (1990), The Power of Your Love (1992), Stone’s Been Rolled Away (1993), People Just Like Us (1994) en Friends in High Places (1995) het gevolg met noemenswaardige sangers onder andere Darlene Zschech en Geoff Bullock. In 2018 het Hillsong Worship die Grammy-toekenning vir beste kontemporêre Christelike musiekuitvoering/liedjie gewen met “What a beautiful Name”.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 30/05/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.