Artikel verskaf deur FEBA Radio

‘N klein groep sendelinge is op pad na ’n dorpie. Daar sal hulle die kerkleiers ontmoet, ’n seminaar aanbied en die Evangelie deel met die 500 gesinne wat daar woon. Die laaste deel van die reis neem byna ’n volle dag per motor, maar die sendelinge is dankbaar – die vorige keer het dit hulle vyf dae te voet geneem.

Dit is FEBA se ELSEA-span (Ethnic Languages of Southeast Asia), wat die Evangelie verkondig aan etniese minderhede oor die hele Suidoos-Asië in meer as 20 tale. Die bediening het oorspronklik deel gevorm van FEBA Thailand, maar het so gegroei dat FEBA in 2024 ’n toegewyde ELSEA-bedie-ningsveld gestig het. Nou het elke taal sy eie span wat inhoud vir kortgolfradio en aanlyn uitsendings vervaardig en na afgeleë dorpe reis om luisteraars te besoek.

Die werk is nie sonder gevaar nie. Baie van die paaie is rof en kronkel deur woude en oor berge, en moet met ’n motorfiets of te voet aangepak word. Verlede Januarie het spanlede God se beskerming op ’n gevaarlike oomblik ervaar toe hul vragmotor se remme ingegee het terwyl hulle deur ’n berggebied gery het. “Prys die Here! Hy het ons gebede verhoor en ons gered.” Selfs wanneer hulle veilig by hul bestemming aankom, moet die span versigtig wees. Die Evangelie is nie welkom in die lande waar hulle werk nie, daarom moet hulle versigtig wees om nie onnodige aandag te trek nie. In 2024 was die ELSEA-direkteur op pad na die berge om ’n byeenkoms vir 2 600 jong mense aan te bied. Hoewel hulle snags gereis het, het die polisie hom en sy span opgespoor en terug na die stad geneem, waar hulle die nag in aanhouding deurgebring het. Die owerhede het die span verbied om na die berge te gaan, maar die jong mense het gewag. Ná oorweging het die direkteur besluit om die geleentheid op Facebook Live aan te bied – een van FEBA ELSEA se gewildste platforms. Meer as 30 000 mense het ingeskakel! Dit is ’n kragtige voorbeeld van God se vermoë om alles ten goede te laat meewerk om sy doel te bereik

Verharde harte
Die owerhede is nie die enigstes wat die Evangelie teenstaan nie. Baie ander weier om dit te aanvaar, omdat hulle bang is dat geeste hulle sal straf.
In een dorpie het ’n jong man saam met sy weduwee-ma gewoon. Hy het gereeld flou geword en ander mense beseer, totdat die plaaslike owerhede besluit het om hom vas te ketting in ’n hout­hok buite die dorpie. Hulle het nie gedink dit sal help om mediese hulp te soek nie, omdat hulle geglo het hy is deur ’n demoon beset. Sy ma het getrou vir hom kos en water gebring, maar die hok het al vuiler geword, omdat niemand dit durf skoonmaak het nie.

Eendag het ’n FEBA-span die dorpie besoek. Toe hulle van die jong man hoor, het hulle hom gaan opsoek en vir hom gebid, al was hy onsamehangend. Met hul tweede besoek het hulle ’n selfoon saamgebring met Bybelstories en toegang tot ELSEA se inhoud op YouTube en Facebook. Die jong man het begin luister na die prediking. Met hul derde en vierde besoek het sy spraak verbeter en sy verstand helderder geword. Die jong man het uiteindelik gekies om in Christus te glo. Al was sy voorkoms nog vuil, was hy by sy volle verstand, in staat om te kommunikeer en homself te beheer. Die dorpenaars en owerhede het die verandering raakgesien, maar was steeds te bang om hom vry te laat. Sy ma was so diep geraak deur haar seun se verandering dat sy ook tot bekering gekom het. Die dorpenaars se harte het egter verhard gebly teenoor die Evangelie.

Geseënd is dié wat hoor en gehoorsaam
Wanneer mense in FEBA ELSEA se bediening die Evangelie aanvaar, omhels hulle dit met hul hele hart. Een van die spanne het ’n dorpie besoek in ’n land waar dit groot risiko inhou om die Evangelie te deel. Daar het hulle twee opleidingsessies aangebied om mense die gelykenisse van Jesus te leer. Die fokus was om hulle toe te rus om die gelykenisse aan ander oor te vertel. Die onderwysers het elke verhaal twee of drie keer vertel, waarna almal geoefen het totdat hulle dit vlot kon oorvertel. Terwyl hulle dit gememoriseer het, het hulle self uit die gelykenisse geleer – een egpaar het selfs versoen nadat hulle oor vergifnis geleer het! Ten spyte van die risiko het sowat 100 mense elke opleidingsessie bygewoon.
FEBA se Hmong-uitsaaier, met formele teologiese opleiding, bied gereeld Bybelstudies op Zoom aan en leer die Bybel vers vir vers aan honderde mense. Die bediening het sterk gegroei danksy sosiale media. Hoewel mense vroeër via kortgolfradio geluister het, het sosiale media groter interaksie tussen die aanbieders en die gehoor moontlik gemaak. Soos ’n spanlid dit stel, het sosiale media ’n skuif gebring van “uitsaai na” na “interaksie met” mense. “Vir etniese groepe is sosiale media makliker om te gebruik,” sê FEBA ELSEA se direkteur. In 2024 het die bediening sowat 27 miljoen kyke op Facebook en 3,5 miljoen op YouTube ontvang. Uitsendings fokus op Bybelonderrig, kinders en gesinslewe, en die jeug.

Hoe kan jy vir FEBA ELSEA bid?
Bybelopleiding is noodsaaklik en meer uitsaaityd word benodig. Hulle behoefte spruit uit beperkte uitsaaityd. “Ons het nie ’n 24/7-radiostasie nie en baie luisteraars is in afgeleë gebiede. Daar is geen predikante daar nie, daarom is Bybelonderrig die fokus.”


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verkry deur oorspronklike artikel
Datum gepubliseer: 24/04/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here