Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: incontextinternational.org

Die Verenigde Nasies (VN) het op 25 September rapporteer dat die aantal ontheemde mense in
Soedan en naburige lande tot ongeveer 5,3 miljoen gestyg het. Ná net meer as vyf maande se
gevegte in dié noordoostelike Afrika-land skat die Armed Conflict Location & Event Data Project dat
bykans 7 500 mense gedood is. ’n Kontak van INcontext het bekend gemaak dat die geweld in die
hoofstad erger is as vele van die gevegte wat voorheen daar gewoed het. Vir baie mense het dit
ondraaglik geword om in Khartoem en die naburige Omdurman te woon.

Christene wat daarin geslaag het om uit die hoofstad te ontsnap en in ander dele van die land gaan
skuil het, bevind hulself nou tussen Moslems en ander “onbereikte” mensegroepe. Die wêreldwye
Kerk kan bid dat hierdie Soedanse gelowiges die goeie nuus oor Jesus Christus in liefde, met wysheid
en moedig met hul bure sal deel en dat hulle ’n lig in hierdie moeilike tyd sal wees.

Slegs ongeveer 3,78% van die bevolking is Christene, maar hierdie gelowiges kan ’n groot uitwerking
hê terwyl hulle nuwe geleenthede gebruik om onder veranderende omstandighede met hul mede-Soedannese in gesprek te tree.

’n Kontak van INcontext International het gesê dat ’n drie dae lange herlewingsgeleentheid in ’n
plaaslike kerk plaasgevind het in ’n gebied waarheen gelowiges getrek het. God het kragtig deur
middel van gebed en aanbidding gewerk; drie mense is genees en 14 het hul lewens aan Jesus
oorgegee. Die Liggaam van Christus kan in hierdie tyd van omwenteling die Here vertrou vir meer
geestelike, sowel as politieke deurbrake.

Gedurende die afgelope weke het generaal Abdel Fattah al-Burhan, die leier van die Soedanse
gewapende magte (SAF) en in praktyk die leier van Soedan, ’n reeks diplomatieke besoeke afgelê.
Aan die einde van Augustus het hy op sy eerste amptelike reis sedert die begin van die konflik na
Egipte gereis om sy belangrikste internasionale bondgenoot te ontmoet. Op 4 September het die
generaal samesprekings met die president van Suid-Soedan, Salva Kiir, in die buurland se hoofstad,
Juba, gevoer. Daarna het generaal al-Burhan na Doha gereis waar hy Katar se emir, sjeik Tamim bin
Hamad Al-Thami ontmoet het.

Terwyl hierdie diplomatieke reise kon dien as demonstrasie van al-Burhan se gesag en geldigheid as
voorsitter van die Soewereine Raad, te midde van die besetting van sy hoofkantoor in Khartoem
deur die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF), het die besoeke ook die hoop laat opvlam dat hy
gewillig is om vredesonderhandelinge aan te knoop. Hy het ook, tydens die 78ste sitting van die VN
se algemene vergadering tussen 21 en 26 September, sy wens uitgespreek dat vrede herstel moet
word.

Tot dusver het beide kante mekaar egter daarvan beskuldig dat die ondernemings wat tydens die
vredesamesprekings in Jeddah in Mei gemaak is, nie eerbiedig word nie. Gedurende sy toespraak
aan die algemene vergadering op 21 September het generaal al-Burhan die internasionale
gemeenskap versoek om die RSF en sy bondgenote, die burgermagte, as terroristegroepe te verklaar
in die lig van die oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom wat hul vegters in die hoofstad,
Darfoer en ander dele van die land gepleeg het. Hy het aangevoer dat die geweld wat die RSF
gepleeg het, teen alle Soedanse staatsentiteite (insluitende burgerlikes) gemik is en nie slegs teen
die SAF nie. Volgens hom kan die gevegte in dié land wat aan sewe ander lande grens, veiligheid oral
in die streek in gevaar stel en tot ’n wyer humanitêre ramp lei.

Die RSF-leier, Mohamed Hamdan Dagalo, het ook ’n toespraak, deur middel van ’n video-opname
vanaf ’n onbekende ligging, by die algemene vergadering gelewer. Hy het op sy beurt die opponente
daarvan beskuldig dat hulle nie saamwerk om ’n blywende vredesooreenkoms te bereik nie. Die
wêreldwye Kerk kan bid dat albei kante werklik toegewyd na vrede sal streef, asook dat die
internasionale gemeenskap sal voortgaan om by vredesamesprekinge betrokke te bly.

Volgens die VN het swaar reën en oorstromings in sewe state ook daartoe bygedra dat ’n verdere 72
000 mense ontheem is. Die verspreiding van masels het die lyding van baie Soedannese vererger,
met die aantal gevalle wat sedert April tot 4 334 aangegroei het. Ten minste 1 200 vlugtelingkinders
in die Wit Nyl-gebied het vermoedelik weens masels en onderliggende wanvoeding gesterf. Uitbrake
van cholera en denguekoors is ook in die ooste van Soedan aangemeld. Meer as 50 humanitêre en
menseregteorganisasies pleit vir groter solidariteit met Soedan en meer hulp vir die mense van die
land.

Van die $2,6 miljard wat deur die VN se kantoor vir die koördinering van humanitêre aangeleenthede (Ocha) benodig word om die 24,7 miljoen mense wat as hulpbehoewend geïdentifiseer
is, vanjaar te help, is $806,5 miljoen reeds ontvang. Dit beloop ongeveer 31%. Ekonomiese
infrastruktuur is vernietig, waardeur talle nywerhede en huishoudings dwarsdeur die land beïnvloed
is, ongeag of hulle in die omgewing waar gevegte woed, woon, al dan nie.

Een voorbeeld hiervan is die belangrike dadelnywerheid, wat hoofsaaklik in die noorde van die land
gesentreer is. Soedan is die sewende grootste dadelprodusent in die wêreld. Dit is moeilik om kopers
te kry, met die grootste mark wat in Khartoem is, of om produkte weens onveilige toestande en
brandstoftekorte oor die land heen te vervoer. Die landbousektor, waarvan die dadelnywerheid deel
vorm, is die grondslag van die vooroorlogse ekonomie en volgens die VN stel die landbou meer as
80% van die land se werksmag aan en sorg vir 35-40% van die land se bruto binnelandse produk
(BBP).

Vele fabrieke is geplunder en afgebrand, terwyl boere op kleinhoewes sukkel om finansiering te
verkry en handelaars nie op aanvraag vir produkte kan staatmaak nie. Een van die grootste
werkgewers in die landbousektor, die Haggargroep, het in Mei alle aktiwiteite opgeskort en moes
duisende werkers aflê. Die wêreldwye Kerk kan bid dat daar in die behoeftes van humanitêre
inisiatiewe, die landbousektor en alle individuele huishoudings – veral die mees kwesbares –
voorsien sal word, en dat die ekonomie versterk sal word en sal stabiliseer.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat daar nader aan vrede beweeg sal word en dat die gruweldade wat deur sommige
groepe in die land gepleeg word, tot ’n einde sal kom;
• dat baie mense in Soedan die ewige hoop, vrede en genade wat in Jesus Christus gevind kan
word, sal ervaar; en
• dat daar gedurende hierdie onstuimige tye in die behoeftes van humanitêre inisiatiewe,
sleutelindustrieë en Soedannese huishoudings voorsien sal word

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 29/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here