Geskryf deur: James Lasher Artikelbron: charismanews.com

Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN), Gilad Erdan, het homself in die kollig bevind toe
hy deur VN-personeel aangehou is vir ’n dramatiese protes tydens die Iranse president Ebrahim Raisi
se toespraak aan die VN se algemene vergadering.

Erdan het in protes opgestaan toe pres. Raisi sy toespraak begin het. Die ambassadeur het ’n foto
omhoog gehou van Mahsa Amini, ’n jong Iranse vrou wat verlede jaar tragies dood is in aanhouding
van die Iranse magte. Die plakkaat het die boodskap gehad: “Iranse vroue verdien nou vryheid!”
Erdan het toe die saal verlaat en ’n stelling gemaak teen die teenwoordigheid van ’n leier wat hy as
’n “afskuwelike massamoordenaar” op die wêreldverhoog beskou.

Erdan se protes is egter met vinnige en, in sy woorde, “onaanvaarbare” gewelddadigheid van VN-personeel begroet. Dit het verontwaardiging onder ondersteuners en diplomate ontlok. Erdan het
met Fox News Digital gepraat en sy ontsteltenis oor die VN se hantering van die situasie uitgespreek
en gesê: “Die VN se verlore morele kompas was vandag ten toon gestel.”

Die ambassadeur wat bekend is vir sy sterk voorspraak vir Israel se belange, het beweer dat hy
aangehou is bloot omdat hy “saam met die Iranse volk staan” en ’n leier veroordeel wat van
menseregtevergrype beskuldig word. Hy het daarop gewys dat ander ambassadeurs voorheen om
ideologiese redes plakkate opgehou het tydens VN-sessies, insluitend onlangs oor die oorlog in die
Oekraïne, sonder enige nagevolge.

In ’n verklaring wat ná die voorval uitgereik is, het Erdan sy teleurstelling in die internasionale
gemeenskap uitgespreek omdat dit aan pres. Raisi ’n platform gegee het. Hy het die wêreld gesmeek
om “die waansin te stop en te verhoed dat moordenaars en anti-Semiete hier by die VN kom praat.”
Erdan se protes het ook lig gewerp op wat hy as die VN se “skynheiligheid en morele verdraaiing”
beskou. Hy het aangevoer dat die organisasie gestig is met die doel om gruweldade te voorkom, ’n
missie wat hy glo verraai is deur die gehoor wat pres. Raisi ontvang het.

“Terwyl die slagter van Teheran by die VN praat en deur die internasionale gemeenskap
gerespekteer word, betoog honderde Iraniërs buite, skree en doen ’n beroep op die internasionale
gemeenskap om wakker te word en hulle te help,” het Erdan in die verklaring gesê.
“Dit is ’n skande dat lidlande bly om na ’n massamoordenaar te luister. Ek het die toespraak verlaat
om dit duidelik te maak dat die staat Israel by die Iranse volk staan.”

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 29/09/2023
Foto: Ambassadeur Gilad Erdan. (commons.wikimedia.org)

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here