Geskryf deur: Geopende Deure Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Sedert die oorlog in 2011 in Sirië begin het, is miljoene Siriërs ontwortel en van hulle lewensbestaan ontneem. Meer as ses miljoen mense het die land as vlugtelinge verlaat, terwyl nog ses miljoen (meer as die helfte van alle Siriërs) in hulle eie land ontwortel is – Christene is onder dié wat buiten uiterste vervolging ook die ergste ontberings trotseer.

Iktimal het ’n nuwe lewe by Geopende Deure se Sentrum van Hoop gevind.
Dit was ook die lot van Iktimal (46), ’n Christen-vrou met vier dogters en twee seuns (tussen 12 en 26 jaar oud). Hulle was ’n welgestelde gesin wat in ’n groot huis gewoon en verskeie motors besit het, en talle olyfboorde met groot oeste, ’n bestuurskool en genoeg geld gehad het om te koop wat hulle ook al benodig het. Iktimal het egter oornag alles verloor, hulle is ontwortel en sy was skielik van ander afhanklik nadat hulle in armoede verval het.
’n Lewensveranderende ervaring
Sy onthou: “Tien jaar gelede het die gewapende burgermag ons gebied begin bombardeer en die inwoners gedreig. Sowat 20 mense is dood en die res, meestal Christene, het die dorp verlaat. Ons gesin het in die middel van die nag gevlug – ons wou verhoed dat die aanvallers ons sien, anders sou hulle ons dalk doodmaak.”
Daarna het die gesin agt maande lank by ’n familielid gebly totdat een van Geopende Deure se Sentrums van Hoop in Latakia hulle gehelp het om ’n huurhuisie te kry. “Toe hulle ons nood sien, het hulle ons dadelik met alles gehelp, insluitend matrasse, komberse, kussings en gas. Hulle het ook maandeliks vir ons ’n kospakkie, klere en skryfbehoeftes vir die kinders voorsien.”
Nader aan Jesus
Die kerk en die Sentrum van Hoop het emosionele, sielkundige en geestelike ondersteuning aan die gesin gebied. “God het daardie mense gestuur om saam met ons te bid en ons by te staan; hulle was soos engele. Hulle liefde het ons nader aan Jesus gebring. Die ekstremiste wou ons doodmaak, maar die kerk hier het ons lief. Dit voel soos om uit die dood opgewek te word.
“Toe al die deure vir ons geslote was, het ons hierdie plek gekry en die lewe weer begin liefkry. Ons sukkel steeds finansieel, want die meeste van ons geld word vir huurgeld vir ons huis gebruik. Ons kan net die nodigste koop en kan nie eers vleis bekostig nie. Ons was van die hoë klas, nou oorleef ons skaars. Dit is moeilik, maar ons ervaar God se liefde. Die Sentrum van Hoop het ons gesin regtig ’n nuwe lewe gegee.”
Werk met kinders
Iktimal werk by die Sentrum van Hoop, waar sy met die kinders help. Sy werk op die bus wat die kinders by hulle huise oplaai en veilig terugneem nadat hulle hul aktiwiteite bygewoon het.
Sy sê: “Die Sentrum van Hoop bring lig in die kinders se lewens deur ekstra onderrig aan hulle te bied. Die Siriese skole is baie sleg en ouers kan nie ekstra lesse vir die kinders bekostig nie. Die sentrum bied hierdie lesse gratis aan. Hulle is baie ondersteunend en vul die kinders met vreugde en vrede.”
Versterk gelowiges in die Midde-Ooste
Danksy die geskenke en gebede van ondersteuners, kan Geopende Deure deur sy plaaslike vennote in Sirië en Irak kwesbare gelowiges soos Iktimal by die Sentrums van Hoop versterk.
Deur jou finansiële geskenk kan jy ook met broodnodige ondersteuning en noodleniging ’n verskil in die lewens van ons vervolgde geloofsfamilie maak. Gebruik die bankbesonderhede hier onder om vandag ’n geskenk te gee.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 16/06/2023
Foto: Geopende Deure SA
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









