Geskryf deur: Michael Swain en Daniela Ellerbeck Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die meeste Suid-Afrikaners dink nie twee keer daaroor dat ons ons geloof in die openbaar mag uitleef nie. Ons is so gewoond daaraan om ons reg op godsdiensvryheid te geniet dat dit dikwels as vanselfsprekend aanvaar word. Dit sal egter goed wees om te let op die verskriklike vlakke van godsdiensvervolging in ander dele van die wêreld. Ons moet besef hoe geseënd ons is dat Suid-Afrika se Grondwet hierdie kosbare reg op godsdiensvryheid spesifiek waarborg en beskerm.
Ons geniet heelwat vryheid in hierdie land
Godsdiensvryheid is die reg om in jou hart te glo wat jy ook al wil en om vrylik oor jou oortuigings te praat en dit uit te leef. Dit is maklik om te sien hoe jy sonder godsdiens-vryheid van jou menswaardigheid beroof sou word omdat geloof ’n integrale deel van jou individuele bestaan is. Niemand behoort ooit gedwing te word om te kies tussen gehoorsaamheid aan die staat of gehoorsaamheid aan God nie. Ons sou ook nie gelykheid, vryheid van uitdrukking, vryheid van assosiasie of vryheid van vergadering gehad het nie – of, as ouers, die reg om ons geloof aan ons kinders oor te dra nie. Hierdie regte en vryhede is almal verweef met die reg op godsdiensvryheid – as een been daarvan ondermyn word, het dit ook ’n negatiewe uitwerking op al die ander vryhede.
’n Wêreldwye strategie om ons regte te ondergrawe
Nietemin is die huidige werklikheid dat daar ’n konsekwente, goed georganiseerde en goed befondsde wêreldwye strategie is om godsdiensvryheidsregte wat voorheen as heilig beskou is, te ondergrawe (en selfs uit te wis). Regeringsbeleid, wette en hofuitsprake bevoordeel toenemend sekulêre, liberale sienings bo konserwatiewe, godsdienstige sienings – wat toenemend as “fundamentalisties” of “polities inkorrek” beskou word.
Hierdie stryd is op ons drumpel
Sekulêre ideologieë, wat dikwels lynreg teen Christelike konserwatiewe waardes indruis, het hierdie stryd tot op ons voorstoep gebring. Trouens, Freedom of Religion South Africa (FOR SA) is in 2014 gestig nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ’n plaaslike kerk ondersoek en aan strafmaatreëls onderwerp het weens die prediking en verkondiging van sekere teksverse wat deur die kommissie as “aanstootlik” beskou en in stryd met die Grondwet is.
Beskerm jou regte!
FOR SA werk om die reg op godsdiensvryheid te beskerm sodat ons vry kan bly om te kies wat ons glo en om daardie geloof in die openbaar te kan deel en uitleef. FOR SA het godsdiensvryheid by die regering, die parlement, hoofstuk 9-instellings en die howe beskerm. Ons is deeglik bewus daarvan dat godsdiensvryheidsregte al te maklik weggeneem kan word – tensy dit kragdadig verdedig word. Ons is doelgerig in ons verbintenis om dit te beskerm, maar ons kan dit net doen met jou ondersteuning: deur jou gebede, jou deelname aan die veldtogte wat ons bevorder en jou voorsiening deur finansiële skenkings te maak via die forsa.org.za-webtuiste.
Dankie dat jy vir Suid-Afrika en – belangriker – vir jou kinders deelneem aan die stryd vir geloof en vryheid!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/06/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.