Artikelbron: zoa-international.com
Soedan is weer eens geruk deur geweld wat in die land uitgebreek het. Tientalle mense is dood en honderde ander is beseer. Werknemers van ZOA, ’n internasionale noodlenigingsorganisasie, in die land is steeds veilig, maar die situasie is baie gespanne. “Ons hoor skote van alle kante, vegvliegtuie wat bo-oor vlieg,” sê ZOA-landdirekteur Harmen en sy vrou Marije Sas.
Mededingende groepe binne die nasionale weermag ding veral mee om beheer oor die hoofstad, Khartoem. Maar hewige gevegte woed ook op ander plekke. “Daar is onophoudelik gevegte,” sê Harmen.
“Ons het wakker geword met skote en ontploffings,” sê Harmen, wat saam met sy vrou Marije en twee kinders in die middel van die uitbarsting van geweld is. “Ons gaan nie uit nie en probeer saam die beste daarvan maak. Ons het genoeg water opgegaar en ekstra voorraad opgebou. Dit is vreemd om in ’n stad te wees waar twee leërs teen mekaar veg.”
Minstens 56 burgerlikes is in die geweld in Soedan dood en byna 600 beseer, drie werknemers van die Verenigde Nasies het ook omgekom en twee ander is ernstig beseer, berig verskeie media. Daar is op ʼn passasiersvliegtuig gevuur by die Khartoem-lughawe.
Volgens Harmen bou daar al weke lank spanning op tussen die gewone weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF). Die weermag het Donderdag gesê die RSF verskuif troepe onwettig na strategiese plekke in en om die hoofstad. Dit het selfs meer spanning geskep.
“In Suid- en Noord-Darfoer is daar baie bakleiery. Die situasie daar is baie onveilig. Dit is stiller in Oos-Darfoer en Gedaref, maar ons werknemers op die perseel is ook aangeraai om daar binnenshuis te bly,” gaan Harmen voort.
Die mense van Soedan smag na vrede. Die inwoners sukkel al dertig jaar met armoede, honger en geweld. Boonop word Soedan gekonfronteer met ‘n toenemende stroom vlugtelinge uit die naburige Ethiopië. ZOA help met strukturele oplossings en met noodhulp soos skoon drinkwater en kos.
Harmen: “Hoe langer hierdie plofbare geweldsituasie voortduur, hoe meer sal dit die mees kwesbares in die land raak. Daarom sal baie hulp in die komende tydperk nodig wees, ook vir moontlike herstelwerk.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 20/04/2023
Foto: zoa.nl
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.