Geskryf deur: Schizandra le Roux
Artikelbron: febaradio.co.za
FEBA Jemen het dringend gebede nodig vir elke vervolgde en geheime gelowige. Jy kan by ons maandelikse gebedsketting inteken deur die skakel te volg: febaradio.co.za/prayer/
Jemen, wat voorheen “Voorspoedige Arabië” genoem is, het ’n besonderse landskap en is alombekend vir sy lang geskiedenis van handel in wierook, mirre, goud en premium koffie. Nou is dit ’n toonbeeld van tragedie en verwoesting.
Dit is agt jaar sedert die burgeroorlog in Jemen uitgebreek het. Dit het die reeds verarmde nasie van meer as 31 miljoen mense in die wêreld se ergste humanitêre krisis gedompel, maar Jemen verduur veel meer as net die ontberinge van die oorlog.
Die mense van Jemen ly al eeue lank onder hewige geestelike oorlogvoering en poog om die duisternis te onderdruk. Ondanks die onvermoeide en opofferende pogings van die Kerk, gelowiges en ook FEBA-vennote, is daar na skatting slegs ’n paar duisend mense uit die enorme bevolking, volgelinge van Jesus Christus. Dit kan toegeskryf word daaraan dat die Jemenitiese kerke en ook enige getuie van Christus erg vervolg en verdruk word. Baie Christene sukkel al hoe meer om te oorleef.
Dit is slegs die krag en genade van God wat die duisternis kan deurdring en die droë land oorstroom met die lewende water van Christus. Enige internasionale verligting wat in Jemen aankom, word dikwels deur Islamitiese noodlenigingsagentskappe versprei wat diskrimineer teen almal wat teen die Moslem-geloof gekant is. Afvalligheid van Islam word as ’n ernstige misdaad beskou. Om Islam te verlaat om Christus te volg, lei dikwels daartoe dat gesinne uit gemeenskappe gedryf word of selfs gedood word.
Ondanks hierdie gevare en uitdagings, het plaaslike kerke tog gegroei en kom gelowiges en gemeenskappe in die geheim bymekaar om na radio-uitsendings te luister. Die radio’s het hulle van FEBA Jemen ontvang. Die groepe bid ook gereeld saam.
As daar uitgevind word dat ’n Jemenitiese individu tot die Christendom bekeer het, word dié persoon dikwels uit sy/haar familie en gemeenskap verdryf. Hulle word ook deur die groot bedreiging in die gesig gestaar dat hulle doodgemaak, gemartel om tronkstraf opgelê te word. Hulle kan dit net ontkom as hulle hul geloof in Jesus Christus verloën en dit is iets wat nie dikwels gebeur nie. Uit vrees vir wat die gevolge mag wees, kan die Jemenitiese gelowiges nie die Goeie Nuus of hul geloof in die openbaar verkondig nie.
’n Luisteraar van FEBA Jemen het aan ons geskryf en die uitdagings met ons gedeel:
“My naam is Abdu*. Ek woon in Jemen, en is ’n volgeling van Jesus. Hoewel die kerk in Jemen groei, moet dit nie geromantiseer word nie. Ek verstaan dat daar soms berigte en stories uit vervolgde kerke kom wat sommiges tot die gevolgtrekking laat kom dat die Kerk hier groter, meer gelowig of meer waardig is as die ander. Baie van ons verduur egter vervolging, gevangenisstraf of marteling. Ondanks daarvan loof ons God dat ons nie Sy Seun, Jesus Christus, verloën nie. Wanneer ons bymekaarkom om na julle uitsendings te luister, bemoedig dit ons en vul ons met hernude hoop. Terselfdertyd treur ons egter oor die bedreiging wat baie van ons in die gesig staar as gevolg van ons geloofsoortuigings. Ons treur ook omdat die vervolging veroorsaak dat talle mense nie tot redding kom nie. Ons omstandighede is soms oorweldigend. Ek het gehoor van sommiges wat weier om enige ander medegelowige van ons land te ontmoet uit vrees dat hulle geloof ontdek sal word en hulle dan deur hul eie families vermoor sal word. Ek verstaan dit. Nie een van ons wil ly nie. Nie een van ons wil verraad ervaar nie.”
Die Here se oes in Jemen kom ná baie jare van getroue bedieningswerk deur beide Jemenitiese gelowiges en FEBA se internasionale vennote. Dit sluit ook sendelinge in van wie baie hul lewens gegee het om evangelisasiewerk in die geheim te doen en die mense van die land van Christus te vertel.
FEBA Jemen het dringend gebede nodig vir elke vervolgde en geheime gelowige. Jy kan by ons maandelikse gebedsketting inteken deur die skakel te volg: febaradio.co.za/prayer/
Jy kan ook ’n skenking maak om FEBA te help om die Evangelie aan die mees onbereikte en vervolgde gemeenskappe te versprei deur op die skakel te klik – febaradio.co.za/donate/
“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot Sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ʼn kort tyd lank gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” – 1 Petrus 5:10
*Die name van die mense wat hul getuienisse gedeel het, is om veiligheidsredes verander.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 20/04/2023
Foto: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.